Vrou skuldig aan moord op eks
Vrou skuldig aan moord op eks

Vrou skuldig aan moord op eks

Anthea Arnold is Woensdag in Windhoek se streekhof skuldig bevind daaraan dat sy haar eksvriend meer as ses jaar gelede doodgeskiet het.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Landdros Ileni Velikoshi het Woensdag die 32-jarige Anthea Arnold in Windhoek se streekhof skuldig bevind aan moord met direkte opset ná sy haar ekskêrel meer as ses jaar gelede met ’n vuurwapen in die rug geskiet het.

Die landdros het in sy uitspraak gesê Arnold se weergawes van die gebeure wat sy in haar hoofgetuienis en onder kruisverhoor gelewer het, was vol teenstrydighede en onwaarskynlikhede en dat hy tot die gevolgtrekking gekom het haar storie behoort as versinsel verwerp te word.

Arnold het skuld ontken aan die begin van haar verhoor in Junie vanjaar. Dit was die staat se saak dat sy haar eksvriend, mnr. Michael Breder (52), in ’n ou Mercedes-Benz in Windhoek se suidelike nywerheidsgebied gedurende die nag van 14 tot 15 Mei 2011 geskiet het.

Volgens die verslag van die nadoodse ondersoek deur die staatspatoloog dr. Yury Vasin is Breder in die rug geskiet en het die koeël deur sy ruggraat, aorta en hart getrek en in sy borsholte vasgesteek.

Arnold se getuienis was dat Breder haar die aand van die 14de vir ’n braai na sy huis genooi het. Daar sou glo ander gaste ook teenwoordig wees, maar toe sy die middag van die 14de by sy huis opdaag, het sy Breder alleen daar aangetref.

Een weergawe van Arnold se getuienis was dat sy in die Mercedes-Benz waarin Breder doodgeskiet is, geklim het omdat sy deur hom bedreig gevoel het.

In ’n ander weergawe het sy gesê sy wou na musiek in die motor luister.

Sy het ook tydens die verhoor getuig Breder het haar in die gesig geklap tydens ’n argument wat ontstaan het. Die oorsaak van die stryery is dat Breder haar gekonfronteer het daarmee dat sy met mnr. Alexander Arnold getrou het. Arnold het glo aan haar gesê dit was dom om met iemand te trou vir burgerskap, het die landdros in sy uitspraak genoem.

Arnold het getuig sy het gesien Breder het ’n vuurwapen gehad, wat sy met geweld by hom afgevat het en hom toe daarmee geskiet het.

Speursersant Raymond Khoeseb het getuig hy het op 15 Mei 2011 op ’n handgeskrewe nota op ’n tafel in Breder se huis afgekom.

Die nota wat in Engels begin, het gelui: “Ek het dit gedoen omdat hy my met . . . besmet het en niks daaroor voel nie.” Dit gaan verder in Duits voort: “My liefling, ek is jammer, maar ek kan nie meer nie. Liefde, jou vrou.”

Dit is gevolg deur ’n getekende hartjie en drie soentjies en ’n nota in Engels wat lui “Totdat ons weer ontmoet”.

Velikoshi het in sy uitspraak genoem dr. Paul Ludik, ’n forensiese wetenskaplike, het getuig daar was ’n 1:4 moontlikheid dat Arnold die skrywer van die nota was.

’n Kollega van Arnold, me. Janey June Eyth, het tydens die verhoor getuig sy het die aand van 14 Mei 2011 ’n oproep van Arnold ontvang waarin sy Eyth se eksman se nommer wou hê. Eyth se voormalige eggenoot was ’n polisieman wat by ’n lykshuis gewerk het en volgens Eyth wou Arnold met hom praat, omdat sy nie seker was of Breder lewend of dood was nie - omdat sy onseker was of sy hom geskiet het.

Die landdros het ook genoem Arnold se verweer van selfverdediging hou nie water nie omdat sy die vuurwapen by Breder gegryp het en haar veiligheid dus nie bedreig was nie.

Mnr. Mbanga Siyomunji tree namens Arnold op en die staat word deur mnr. Erastus Hatutale verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!