Vrou vas wat glo verkeersman k-woord toesnou
Vrou vas wat glo verkeersman k-woord toesnou

Vrou vas wat glo verkeersman k-woord toesnou

’n Vrou is in Somerset-Wes in die Wes-Kaap aangekeer nadat sy glo ’n verkeersbeampte die k-woord toegesnou het.

Kenny Africa, provinsiale verkeershoof, het die voorval bevestig.

“ ’n Vrou het een van my beamptes die k-woord genoem,” sê hy.

Africa kon nie meer besonderhede oor die voorval gee nie aangesien die saak nog in die hof moet draai. Die vrou word deur ’n klag van crimen injuria in die gesig gestaar.

Dit is maar die jongste in ’n reeks voorvalle waar die omstrede woord gebruik is.

Adam Catzavelos het in Augustus ’n ooreenkoms met die menseregtekommissie bereik nadat ’n video van hom wat die woord op ’n Griekse strand gebruik vroeër soos ’n veldbrand versprei het. Hy het ingestem om R150 000 oor 30 maande te betaal en om om verskoning te vra vir sy uitsprake.

Hy staan steeds tereg op ’n strafregtelike saak van crimen injuria.

Vicki Momberg is skuldig bevind aan vier aanklagte van crimen injuria nadat sy ’n swart polisieman 48 keer die k-woord genoem het nadat hy haar ná ’n grypdiefvoorval in 2016 wou bystaan.

Sy is in Maart 2018 tot twee jaar tronkstraf gevonnis.

Intussen het Wes-Kaapse verkeersbeamptes Saterdag bykans 1 500 motors van die pad getrek en ondersoek.

Ses mense is vir dronkbestuur aangekeer met een persoon van Vredenburg wat drie keer oor die wettige perk was.

Twee persone is by onderskeidelik Mosselbaai en Grabouw vir roekelose bestuur aangekeer. Nóg ’n bestuurder is by Mosselbaai vir die besit van dwelms aangekeer.

Vier dronk voetgangers is ook in Oudtshoorn aangekeer. – News24/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer