Vrou versmoor, gebrand
Vrou versmoor, gebrand

Vrou versmoor, gebrand

Die verhoor van die man wat na bewering ’n jong vrou vermoor en haar liggaam daarna aan die brand gesteek het, het gister begin.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Die 31-jarige Ivan //Hoëseb, wat tereg staan op klagte van moord, verkragting, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg, wat spruit uit die dood van me. Elizabeth Ganses (26), het gister in die Windhoek-hoërhof verskyn.
//Hoëseb het onskuldig op al die klagte teen hom gepleit. Sy regsverteenwoordiger, mnr. Milton Engelbrecht, het aan regter Christie Liebenberg gesê //Hoëseb sal nie ’n pleitverduideliking gee nie en in hierdie stadium oor sy verweer swyg.
Volgens die staat het //Hoëseb Ganses gedurende die nag van 30 op 31 Oktober 2015 vermoor deur haar met ’n mes te steek of te verwurg en haar selfoon en SIM-kaart gesteel. Die staat beweer ook dat hy die spore van sy misdaad probeer verdoesel het deur die oorledene se liggaam aan die brand te steek.
Inspekteur Moses Daniel Snewe van Nampol het getuig die beskuldigde het hom ná die moord meegedeel dat hy op die nag van die noodlottige voorval gaan dobbel het en daarna ’n kroeg besoek het saam met ’n vrou wat hy daardie aand ontmoet het. Volgens Snewe het //Hoëseb die kneusplekke aan sy arms ná sy inhegtenisneming aan ’n kroeggeveg toegeskryf.
Engelbrecht het op sy kliënt se instruksies die gebeure van die nag aan die hof vertel. Volgens hom was die oorledene ’n lid van ’n groep dansers wat vir //Hoëseb by kroeë opgetree het en dat daar ’n seksuele verhouding tussen die twee was. Volgens Engelbrecht het Ganses en //Hoëseb ná ’n gekuier in kroeë mekaar op pad na sy huis ontmoet. Hulle is glo saam na sy huis waar hulle omgang gehad het met die oorledene se toestemming.
Hulle het besluit om weer uit te gaan en op pad na die kroeg het hulle stry gekry en sy het hom aangeval, het Engelbrecht vertel. In die struweling het haar arms oor haar skouers gekruis terwyl //Hoëseb agter haar gestaan het en hulle glo op die grond geval het. In die proses het //Hoëseb se kop teen die grond gestamp en was hy glo bewusteloos. Toe hy weer sy bewussyn herwin, het hy die lewelose Ganses in sy arms aangetref. Hy het toe na ’n sjebeen gegaan en verder gedrink. Volgens Engelbrecht het hy nie die voorval by die polisie aangemeld nie omdat hy bang was die polisie hom nie sou glo nie.
Volgens dr. Lander Barreda, wat die nadoodse verslag geskryf het, het Ganses aan versmoring gesterf wat vermoedelik deur verwurging veroorsaak is. Hy het getuig dat sy erge brandwonde aan haar gesig, kop, borskas en arms gehad het. Sy het ook breinbeserings en snywonde aan haar nek en vingers gehad en is ná haar dood gesodomiseer. Die verhoor duur vandag voort.
Die staat word deur aanklaer Henry Muhongo verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer