Vroue goed vir parlement
Vroue goed vir parlement

Vroue goed vir parlement

Namibiërs het gemengde gevoelens oor 'onafgehandelde' geskiedkundige gebeure.
Catherine Sasman
Catherine Sasman



Die debat oor volksmoord-­onderhandelinge woed voort.

Sowat 56% van 1 200 Nami­biërs voel tradisionele leiers moet deel wees van hierdie besprekings, en 11% sê Ovaherero- en Nama- ­tradisionele owerhede moet op hul eie met Duitsland onderhandel.

Ten spyte is sowat 48% van dié groep van mening dat die Namibiese regering die onderhandelinge “baie goed” of “redelik goed” hanteer en 66% voel Duitsland moet vergoeding vir die volksmoord betaal.

Slegs 10% stem nie saam dat Duitsland vergoeding moet betaal nie.

Hierdie is van die bevindinge in die nuutste Afrobarometer-opname wat in November verlede jaar gedoen is.

Kwessies wat beskou word as “onafgehandelde” geskiedkundige gebeure is ook in die opname aangespreek.

Die meerderheid van die respondente (43%) het gesê oudsoldate van die SWATF en Koevoet moet ­veteranevoordele kry; 37% stem nie saam hiermee nie en 20% kon nie sê hoe hulle oor die saak voel nie óf het geweier om die vraag te beantwoord.

Voorts het 40% gevoel 'n onafhank­like ondersoek in die sage oor die ­sogenaamde Lubango-gate moet gedoen word; 20% stem nie saam hiermee nie en 'n groot ­persentasie (41%) het nie 'n mening hieroor gehad nie.

Ongeag die tipe bydrae wat vroue in die parlement maak, sê 59% van die respondente vroue se teenwoordigheid daar maak die Nasionale Vergadering tóg meer effektief.

Die meerderheid (71%) het ook gevoel dat politieke partye 'n geslags­kwota moet instel om gelyke ­verteenwoordiging in die parlement te ­verseker.

Sowat 70% sê ook 'n geslagskwota vir die verteenwoordiging van vroue op streeksvlakke moet ingestel word en 68% sê vroue moet gelyke geleent­hede hê om gekies te word.

Geslagsgeweld is hoofsaaklik toegeskryf aan die misbruik van alkohol, werkloosheid en armoede, en 71% voel die regering doen genoeg om hierdie euwel te beveg.

Meer as 80% glo geweld teen vroue en kinders kan nooit geregverdig word nie.

Mnr. Job Amupanda se Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) is deur 41% beskou as die mees ­effektiewe liggaam wat druk op die ­regering geplaas het om gedienste erwe in stedelike gebiede beskikbaar te stel.

Slegs 12% het gevoel die Beweging vir Grondlose Mense (LPM) plaas effektiewe druk op die regering en 8% het gesê opposisiepartye oefen genoeg druk uit.

Slegs 10% glo die regering gee genoeg aandag aan die grondkwessie.

Die meerderheid (73%) sê dit is in die haak dat die taksman belasting eis, maar 69% voel dat “sommige” belastingamptenare korrup is.

Voorts sê 64% dat die begrotingstoekenning aan die weermag gesnoei moet word en 53% sê die regering moet belasting verhoog om armoede te beveg.

Tydens die bespreking by die ­bekendstelling van die Afrobarometer-verslag het die kommentator, mnr. Johan Coetzee, met betrekking tot die volksmoord-onderhandelinge gevra hoe ver in die verlede daar gekyk moet word na voorvalle van gruweldade van een groep in die land teenoor 'n ander.

Hy het gevra of vergoeding dan ook van die Ovaherero- en Nama-groepe vereis moet word vir gewelddade teen San-groepe.

Mnr. Brian Riruako van Nudo het gesê onafhanklike ondersoeke in die sage oor die Lubango-gate moet gedoen word terwyl oortreders en oorlewende slagoffers daarvan nog leef sodat toekomstige geslagte ­Namibiërs, oftewel die born frees, nie met hierdie geskiedenis belas moet word nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!