Vroue leef langer as mans
Vroue leef langer as mans

Vroue leef langer as mans

Waar dieselfde siekte mans en vroue in die gesig staar, is mans minder geneig om ‘n dokter te besoek as vroue.
Henriette Lamprecht
Vanjaar sal 141 miljoen kinders gebore word – 73 miljoen seuns en 68 miljoen meisies.

Gebaseer op onlangse sterfterisiko’s sal die seuns gemiddeld 69,8 jaar oud word en die meisies 74,2 jaar – ‘n verskil van 4,4 jaar.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) se jongste wêreldgesondheidstatistieke is die lewensverwagting op 60 jaar ook hoër vir vroue as vir mans – 21,9 jaar teenoor 19 jaar vir mans.

Die verslag sê waar vroue toegang tot gesondheidsdienste het, verlaag die sterftekoers onder swanger vroue en verhoog hul lewensverwagting.

Mans maak dikwels minder van gesondheidsdienste gebruik as vroue.

Mans is daarom ook meer geneig om aan voorkombare, behandelbare, nie-oordraagbare siektes en weens padongelukke te sterf.

Vroue oorleef mans wêreldwyd en daar is ‘n verskil van 18 jaar in die lewensverwagting van inwoners van die armste en rykste lande.

Die jongste wêreldgesondheidstatistieke bied nou vir die eerste keer redes hiervoor.

“Die ontleding van data oor ouderdom, geslag en inkomstegroep maak begrip van wie agterbly en waarom moontlik,” sê dr. Tedros Ghebreyesus, die WHO se direkteur-generaal.

“Agter elke statistiek is ‘n mens, ‘n familie, ‘n gemeenskap of ‘n nasie. Ons taak is om hierdie data te gebruik om bewysgebaseerde beleidsrigtings op te stel wat ons nader aan ‘n gesonder, veiliger en regverdiger wêreld vir elkeen bring,” het hy gesê.

Volgens die jongste verslag is die gaping tussen mans en vroue se lewensverwagting die kleinste waar vroue ‘n gebrek aan toegang tot gesondheidsdienste het.

In lae-inkomstelande waar dienste skaarser is, sterf een uit elke 41 vroue aan ‘n vroueverwante oorsaak.

Dít in vergelyking met die een uit 3 300 in hoë-inkomstelande. In meer as 90% van lae-inkomstelande is daar minder as vier verpleegsters of vroedvroue vir elke 1 000 mense.

Waar dieselfde siekte mans en vroue in die gesig staar, is mans minder geneig as vroue om ‘n dokter te besoek. In lande waar ‘n MIV/vigs-epidemie voorkom is mans byvoorbeeld minder geneig as vroue om ‘n MIV-toets te doen, antiretrovirale behandeling te kry en meer geneig om aan vigsverwante siektes te sterf. Dieselfde geld vir manlike TB-pasiënte.

Die verslag lig voorts die verskille in oorsake van sterftes tussen mans en vroue uit. Sommige is biologies en word deur omgewings- en maatskaplike faktore geraak, terwyl ander geraak word deur die beskikbaarheid en gebruik van gesondheidsdienste.

Van die 40 hoofoorsake van sterftes dra 33 oorsake meer tot ‘n verminderde lewensverwagting in mans by as tot dié van vroue. In 2016 was die moontlikheid dat ‘n 30-jarige voor die ouderdom van 70 aan ‘n nie-oordraagbare siekte sterf 44% hoër vir mans as vir vroue.

Wêreld- sterftekoerse weens selfdood was in 2016 sowat 75% hoër by mans as by vroue. Ook is die sterftekoers weens padongelukke meer as twee keer so hoog vir mans as vir vroue van 15 jaar oud af. Mans is ook vier keer meer geneig as vroue om weens moord te sterf.

Die vrystelling van die verslag, wat met Wêreldgesondheidsdag op 7 April saamgeval het, fokus op primêre gesondheid as die basis van universele gesondheidsdekking en beklemtoon die behoefte aan verbeterde toegang wêreldwyd.

“Een van die WHO se trippelmiljard doelwitte is dat 1 miljard meer mense teen 2023 universele gesondheidsdekking sal hê,” het dr. Tedros gesê.

“Dit beteken beter toegang tot dienste, veral op gemeenskapsvlak en om seker te maak dié dienste is toeganklik, bekostigbaar en doeltreffend vir elkeen – ongeag geslag.

“Dié statistieke beklemtoon die behoefte daaraan om dringend voorkeur aan primêre gesondheidsorg te gee om nie-oordraagbare siektes suksesvol te bestuur en om risikofaktore te verminder,” sê dr. Samira Asma, die WHO se assistent-direkteur-generaal vir data, ontleding en dienslewering.

“Iets so eenvoudig soos om bloeddruk te beheer, gebeur nie op die skaal waarop dit moet nie en tabak bly die grootste oorsaak van vroeë sterftes,” sê Asma.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!