Vroue leef langer as mans
Vroue leef langer as mans

Vroue leef langer as mans

Een uit elke 14 kinders wat in lae-inkomstelande gebore word, sal voor hul vyfde verjaardag sterf.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Waar vroue toegang tot gesondheidsdienste het, neem sterftes onder swanger vroue af en verhoog vroue se lewensverwagting. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se World Health Statistics 2019-verslag wend mans hulself minder dikwels tot gesondheidsdienste as vroue.

Volgens die verslag is daar ‘n gaping van 18 jaar in lewensverwagting tussen die armste en die rykste lande in die wêreld. Oor die hele wêreld leef vroue langer as mans – veral ryk lande.

“Om inligting volgens ouderdom, geslag en inkomstegroep te ontleed, is noodsaaklik om te bepaal wie bly agter en waarom,” sê dr. Tedros Ghebreyesus, die WGI se direkteur-generaal.

“Agter elke syfer in die verslag is ‘n mens, ‘n familie, ‘n gemeenskap of ‘n nasie. Ons plig is om die inligting te gebruik om besluite vir beleidsrigtings te neem wat op bewyse gebaseer is om ons nader aan ‘n gesonder, veiliger en regverdiger wêreld vir almal te bring,” sê hy.

Die gaping tussen mans en vroue se lewensverwagting is volgens die verslag die nouste waar vroue toegang tot gesondheidsdienste het.

In lae-inkomstelande waar gesondheidsdienste skaarser is, sterf een uit elke 41 verwagtende vroue in vergelyking met die een uit 3 300 in hoë-inkomstelande.

In meer as 90% van lae-inkomstelande is daar minder as vier verpleegsters of vroedvroue vir elke 1 000 mense.

Mense se houding teenoor gesondheidsorg verskil ook. Waar mans en vroue dieselfde siekte het, is dit dikwels mans wat nie gesondheidsdienste opsoek nie. In lande met MIV-pandemies is mans ook minder geneig om hulself vir MIV te laat toets, toegang tot antiretrovirale medikasie te soek en meer geneig as vroue om aan vigsverwante siektes te sterf. Ook in die geval van tuberkulose is dit minder mans as vroue wat gesondheidsdienste nader.

Die verslag lig ook die verskil in oorsake van sterftes tussen mans en vroue uit, met sommige wat biologies van aard is, sommige wat deur omgewings- en maatskaplike faktore veroorsaak word, terwyl ander geraak word deur die beskikbaarheid van gesondheidsdienste.

Uit die 40 grootste oorsake van sterftes dra 33 oorsake meer tot die verlaagde lewensverwagting in mans as in vroue by.

In 2016 was die kanse vir ‘n 30-jarige om aan ‘n nieoordraagbare siekte voor die ouderdom van 70 jaar te sterf, 44% hoër by mans as by vroue.

Met verwysing na selfdood sê die verslag die sterftekoers in 2016 was 77% hoër by mans as by vroue.

Sterftes weens padongelukke is ook twee keer hoër by mans as by vroue van 15 jaar af en vir moorde is dit vier keer hoër by mans as by vroue.

Die verslag beklemtoon die behoefte aan verbeterde toegang tot primêre gesondheidsorg.

“Een van die WHO se trippelmiljard doelwitte is dat een miljard mense teen 2023 universele gesondheidsdekking moet hê,” sê Ghebreyesus.

“Dit beteken toegang tot gesondheidsdienste moet veral op gemeenskapsvlak verbeter en die dienste moet toeganklik, bekostigbaar en doeltreffend vir elkeen wees – ongeag geslag.

“Die statistieke beklemtoon die behoefte daaraan dat primêre gesondheidsdienste voorkeur moet geniet om nieoordraagbare siektes doeltreffend te bestuur en risikofaktore te verminder,” sê dr. Samira Asma, die WHO se assistent- direkteur-generaal vir inligting en ontleding.

“Iets so eenvoudig soos om bloeddruk te beheer, vind nie plaas op die skaal wat dit moet nie. Ook is die gebruik van tabak een van die voorste oorsake van voortydige sterftes,” het Asma gesê.

Volgens die verslag het die lewensverwagting by geboorte tussen 2000 en 2016 met 5,5 jaar van 66,5 tot 72 jaar gestyg.

‘n Gesonde lewensverwagting by geboorte, die aantal jare waartydens ’n individu kan verwag om gesond te leef, het van 58,5 jaar in 2000 tot 63,3 jaar in 2016 gestyg.

Volgens die verslag word lewensverwagting sterk deur inkomste beïnvloed.

In lae-inkomstelande is die lewensverwagting 18,1 jaar laer as in hoë-inkomstelande. Een uit elke 14 kinders wat in lae-inkomstelande gebore word, sal voor hul vyfde verjaardag sterf.

Die verslag se hoofskrywer, dr. Richard Cibulskis, het beklemtoon die versameling, ontleding en gebruik van goeie inligting is belangrik om mense se gesondheid en welstand te verbeter.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!