Vroue op Olimpiese missie gestuur
Vroue op Olimpiese missie gestuur

Vroue op Olimpiese missie gestuur

Veldhokkie
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Afrigter Erwin Handura se uitsoekgroepie vroue is gister bekend gemaak wat komende naweek na Valencia in Spanje vir die beslissende Olimpiese kwalifiserende hokkietoernooi vertrek.

“Namibiese vrouehokkie is 'n krag om mee rekening te hou, soos hulle reeds bewys het toe hulle verlede jaar 'n paar groter lande by die binnenshuise wêreldkampioenskap geklop het,” het mnr. Freddy Mwiya gesê toe hy as hoofadministrateur die groep by die Namibiese Sportkommissie se kantoor verwelkom het.

Enige kommer dat geldprobleme dalk hierdie deurslaggewende toer in die weegskaal kon plaas, is uit die weg geruim toe bevestig is dat die regering vir die volle toerkoste teen 'n ongenoemde bedrag ingestaan het, sodat die vrouespan op sy Olimpiese missie gefokus kan bly.

Die agt spanne in Valencia sal om twee Olimpiese plekke meeding.

Die Namibiërs (42ste op die wêreldranglys) se wedstryde begin op Woensdag 19 Junie teen Belo-Rusland (20ste). Ná een rusdag kom Kanada (21ste) en die gasheer Spanje (sewende) aan die beurt.

Hierna volg twee oorkruiswedstryde teen die spanne wat as nommer twee en drie in die ander groep eindig (Italië nr. 17, Suid-Afrika 15de, Thailand 28ste of Wallis 27ste) voor die uitklopwedstryde.

Die ervare kaptein Magreth Mengo lei 'n Namibiese span wat hom reeds as 'n vegter op internasionale vlak bewys het. Namibië het onlangs ter opwarming 'n tuisreeks teen Zambië met 3-0 gewen, voordat hulle 'n kompeterende reeks in Johannesburg teen Suid-Afrika met drie-nul verloor het.

Die toerspan is: Magreth Mengo (kaptein), Petro Stoffberg (doelwagter), Berencia Diamond (doelwagter), Jerrica Bartlett, Duré Boshoff, Kiana-Ché Cormack, Jocelle Deysel, Gillian Hermanus, Emilia Kashopola, Jahntwa Kruger, Jivanka Kruger, Ina Louis, Sunelle Ludwig, Danja Meyer, Taramarie Myburgh, Joané van Rooyen, Armin van Staden, Celé Wessels.

Die nie-reisende reserwes is Amber Dercksen en Vicky Stiemert.

Die span word ook vergesel deur Erwin Handura (hoofafrigter), Randy Slabbert (hulpafrigter), Rachel Freeman (spanbestuurder), Manuel Carballo (fiksheid- en denke-afrigter), Donatha Nganovandu (mediese beampte) en Maryke Short (video-ontleder).

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer