Vroue se smeekroep vir water
Jana-Mari Smith – ’n Groep vroue smeek die munisipaliteit en Windhoek se burgemeester, dr. Job Amupanda, om ’n waterpunt te installeer by die informele nedersetting waarheen hulle in Januarie verskuif is.
Weens die risiko van oorstromings is die vroue gedwing om met hul gesinne na die verste noordelike buitewyke van die Tobias Hainyeko-kiesafdeling te trek. Nou moet hulle daagliks ’n gevaarlike en uitputtende roete deur die Omuramba-rivierbedding loop om die naaste waterpunt te bereik.
“Hulle sê ons moet ons hande met lopende water was, maar waar moet ons water kry? Hulle het ons hier op die nuwe plek geplaas weens die vloedgevaar, maar hier is nie eens van water nie,” sê ’n gemeenskapsleier, me. Hilma Laurence.
Sy sê die vroue is ontsteld omdat hulle reeds vir maande die munisipaliteit gevra het om ’n nader waterpunt te installeer, maar hul versoek bly val op dowe ore.
“Die burgemeester moet hierheen kom en met ons praat. Ons sal vir hom sê die munisipaliteit het ons weens die oorstromings hier geplaas, maar nou het ons ’n water- en toiletprobleem. Dis ’n noodgeval,” het Laurence gesê.
Sy sê hoewel Nyanyakweni – ’n nuwe nedersetting in One Nation, waarheen hulle in Januarie verskuif is – veronderstel was om meer mense as nou te huisves, het talle weens die afwesigheid van water geweier om te gaan.
Die vroue verduidelik die water wat hulle daagliks gaan haal, is nie net om hul hande, lyf en klere te was nie, maar ook om mee te kook, skoon te maak, te drink en hul groentetuine nat te maak.
Benewens die gebrek aan lopende water in die omgewing, of elektrisiteit, het hulle ook geen toilette nie en word hulle gedwing om nabygeleë rivierbeddings vir toilette te gebruik.
Die vroue gaan haal ook elke dag hout om vuur te maak om water te kook en kos te maak.
MOEILIK EN GEVAARLIK
Benewens die afstand en die moeilike roete om die naaste waterpunt te bereik, is daar volgens hulle ook die gevaar om aangerand te word, of te val as hulle snags water gaan haal.
Die pad na die waterpunt loop deur die Omuramba-rivierbedding en daarna moet hulle ’n smal en ongelyke voetpad teen ’n steilte uitklim om by die waterpunt te kom.
“Stel jou voor jy moet hierdie paadjie snags loop om water te gaan haal. Jy kan seerkry of aangeval word,” sê een inwoner, me. Josephine Kamati.
Me. Laimi Shadonodi, ’n jong verpleegstudent, sê sy moet snags ná skool, in vrees vir besering en veral aanranding, die verraderlike paadjie terug huis toe navigeer.
Die voetpaadjie is selfs in droë weer reeds moeilik genoeg om deur te gaan. In nat weer word dit bykans onmoontlik en as die rivier tydens swaar reënbuie vloei, word die gemeenskap heeltemal afgesny van die waterpunt.
Shadonodi sê omdat die waterpunt so moeilik bereikbaar is, kan die vroue net een keer per dag twee wateremmers gaan haal en terugbring.
“Dit is ’n ver afstand en omdat die pad so sleg is, kan jy nie twee keer gaan nie. Daarom bring ons water en berei ontbyt voor; dan was jy jou hande met daai water. Ons kan nie ons hande in lopende water was nie. Die water raak vinnig op.”
‘JOB, HELP ONS’
Die vroue sê hulle moes verskeie verskonings aanhoor, soos dat hulle net tydelik verskuif word en dat die terrein dit moeilik maak om vir hulle ’n waterpunt te voorsien.
“Ja, ons is net ’n rukkie hier, maar ons het water nodig en wie weet wanneer ons gaan terugtrek?
“Ons het skoon water nodig. En ons kan nie die rivierlope gebruik nie. Dit is nie veilig óf gesond nie,” sê Laurence.
Nog ’n inwoner, me. Sara Ndumba, sê sy wil net hê Amupanda moet hulle met water help.
“Help ons asseblief. Ons is moeg."
Me. Maria Koiti het ook ’n beroep op Amupanda gedoen.
“Doen asseblief iets vir ons. As burgemeester, bring ’n tenk vir water en ’n toilet en help asseblief met die pad. Selfs net ’n grondpad.”
As die pad na die informele nedersetting gelyk gemaak kan word, sal ambulanse of brandweerdienste die inwoners in noodgevalle kan bereik. Hulle is bang ambulanse en brandweerdienste kan tans nie daar uitkom as ’n brand ontstaan of iemand ernstig siek word nie.
‘GEWAARSKU”
Die munisipaliteit het Maandag in ’n bondige verklaring gesê die betrokke gemeenskap – omtrent elf gesinne – was ingelig dat die nuwe gebied nie met water gediens is nie, “maar hulle het daarop aangedring hulle wil nie verskuif word van waar hul kinders skoolgaan en hul lewensbestaan is nie”.
Die hoofstad se woordvoerder, me. Lydia Amutenya, sê die families het die munisipaliteit in Januarie en vroeg Februarie om hulp genader omdat hul wonings verspoel het en hulle vir potensiële lewensverlies gevrees het.
Sy verduidelik die munisipaliteit het nie genoeg grond om vloedslagoffers te verskuif nie, maar sal die moontlikheid ondersoek om ’n waterpunt nader aan hulle aan te lê.
– [email protected]
FOTO
Die eenjarige Ndahalashiwa geniet ’n vars koppie water nadat haar ma Hendrina na die verre waterpunt geloop het. Foto Jana-Mari Smith

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie