Vrouebeamptes kóók

Denver Kisting
Denver Kisting – In net vier dae, van 7 tot 10 Mei, het 1 700 vrouebeamptes en ’n handjievol mans amper 200 mense dwarsoor Namibië aangekeer.

Dié suksesse was deel van die pas afgelope Operasie Basadi, waaraan vrouelede van die Namibiese polisie, die stadspolisie, korrektiewe dienste en ander wetstoepassende liggame deelgeneem het.

’n Totaal van 35 mense is weens uitstaande lasbriewe vir beweerde huishoudelike geweld in hegtenis geneem.

Hiernaas is sewe mense – insluitend ’n vrou – weens lasbriewe vir beweerde ootredings van die onderhoudwet in hegtenis geneem.

In dié tydperk het die polisie ook drie vermeende verkragters aangekeer. Die beweerde verkragtings het tydens dié vier dag lange veldtog gebeur.

Genl.maj. Anne-Marie Nainda, ’n adjunk-inspekteur-generaal in die Namibiese polisie, het tydens die bekendmaking van Basadi-statistieke in die hoofstad gister gesê 324 voertuig- en 286 voetpatrollies is tydens die veldtog onderneem.

Daarnaas is 219 padblokkades dwarsoor die land opgerig terwyl 1 067 mense deursoek is.

Volgens haar is beslag gelê op 15 messe, een machete (kapmes) en een vuurwapen.

Sy het voorts gesê 64 drinkplekke se deure is gesluit van die 701 kroeë en sjebeens wat besoek is.

Nainda sê die hooffokusareas was verkragting, aanranding – gewone en dié met die doel om ernstig te beseer, babastorting, alkoholmisbruik in die konteks van huishoudelike geweld, geweld in die algemeen en spesifiek huishoudelike geweld.

Boetes ten bedrae van N$478 000 is vir 429 verkeersoortredings uitgereik, terwyl een mens in hegtenis geneem is weens ’n onbetaalde verkeersboete en vir beweerde dronkbestuur.

’n Totale getal van 97 onwettige immigrante het ook agter tralies beland. Nainda sê dié immigrante is afkomstig van Angola, Suid-Afrika, Zimbabwe, Zambië en China.

Dit het ook gister aan die lig gekom dat beslag op 1 884 vervalste items gelê is. Dié goedere sluit onder meer kledingstukke, komberse, selfone, drank, sakrekenaars en gesigrome in.

Hiernaas, het Nainda gister gesê, is ’n 37-jarige man in die Khomasstreek in hegtenis geneem nadat dagga ter waarde van N$187 000 glo tydens ’n klein padblokkade in sy voertuig gevind is.

In die Hardapstreek het Mandrax en dagga met ’n straatwaarde van N$12 700 twee mans en een vrou agter tralies laat beland.

Basadi – wat “vroue” in Tswana beteken – is sowat vyf jaar as ’n Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC)-inisiatief deur streekspolisiehoofde in die lewe geroep.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!