Vrouetalent van uitvoergehalte

Wenkbroue is gelig dat Peter Shalulile en Phillip Seidler nie vanjaar vir méér erkenning in aanmerking kom nie.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die Olimpiese silwermedaljewenner Christine Mboma, haar oefenmaat en medefinalis in die 200 meter in Tokio 2020, asook die marathon-koningin Helalia Johannes wat vanjaar ’n vegtende elfde posisie by die Olimpiese wedloop beklee het, is die drie aangewese finaliste vir die mees gesogte prys by die Namibiese Sporttoekennings einde vandeesmaand.

Altesame N$200 000 staan in die kategorie vir Sportpresteerder van die jaar op die spel, met die komplimente van MTC Namibia. Toe die nasionale sporttoekennings die laaste keer in 2019 aangebied is, het Johannes met die grootste prys weggestap op grond van haar bronsmedalje by die 2019 wêreldkampioenskap in Doha.

Ironies genoeg is die vlak van prestasie van die individuele manskandidate vanjaar nie op dieselfde indrukwekkende vlak nie – met twee opvallende weglatings.

Die bokser Junias Jonas is ondanks hoë verwagtinge en ’n loting in die topdrie reeds in sy eerste geveg by die Olimpiese Spele uitgeskakel. Tristan de Lange het ondanks ’n hardnekkige poging teen alle verwagtinge in en ondanks ’n periode waarop die aandag van die TV-kameras op hom gerig was, ook nie die padresies in Tokio klaargemaak nie.

Die 20-jarige Alex Miller se 31ste eindposisie in ’n uiters strawwe Olimpiese bergfietswedren was ’n baie belowende uitslag.
Nietemin is dit in hierdie geselskap heeltemal onverklaarbaar hoe Phillip Seidler nie ’n finalis is met sy 16de eindposisie in die Olimpiese 10 km oopwaterswem nie.

Eerder as erkenning vir wat die Swakopmunder bykans manalleen met sy wilskrag en deursettingsvermoë vir een van die land se aspoester-sportkodes uitgerig het, kan sy weglating inderdaad as ’n klap in die gesig gesien word.

Die Brave Warriors se Peter Shalulile word ook nie vir sportman van die jaar óf beste sportpresteerder oorweeg nie – ondanks sy skouspelagtige opgang in die Suid-Afrikaanse premierliga waar hy die laaste seisoen in die kleure van Mamelodi Sundowns as die algehele voorste doelskieter afgesluit het.

Shalulile kom net in aanmerking in die nuut geskepte kategorie vir beroepsportlui in die buiteland, waar óf hy óf die Olimpiese roeier Maike Diekmann met N$50 000 van Debmarine Namibia sal wegstap.

Aan ons susterkoerant Namibian Sun het die Namibiese Sokkervereniging se mnr. Franco Cosmos gesê hulle het wel daarin geslaag om Shalulile vir die een prys te benoem, ondanks die feit dat die aanlyn inskrywingsproses op die Namibiese Sportkommissie se oorlaaide webblad probleme gegee het.

In terme van sportspanne het drie waardige finaliste na vore getree – die manskrieketspan wat tans by die T20 Wêreldbeker in die Emirate is, die vrouehokkiespan wat deurgedring het om in Februarie in die Binnenshuise Wêreldbeker in België mee te ding, asook die 4x100 vroue-aflosspan wat die silwermedalje by die o.20 wêreldatletiekkampioenskap in Nairobi ingepalm het.

Die Namibiese Sporttoekennings vir 2020 en 2021 sal op 30 Oktober by die skoolsaal van Windhoek Gimnasium aangebied word.

Die finaliste:

SPORTMAN (MTC)

Alexander Miller (Namibië Fietsryfederasie), Jonas Junias (Namibiese Boksfederasie), Tristan de Lange (Namibië Fietsryfederasie).

SPORTVROU (MTC)

Beatrice Masilingi (Atletiek Namibië), Christine Mboma (Atletiek Namibië), Helalia Johannes (Atletiek Namibië).

JUNIOR SPORTMAN (MTC)

Delano Müller (Namibiese Skopboksfederasie), Magano Naseb (Namibië Skolesportunie), Ruano de Carvalho (Namibië Skolesportunie).

JUNIOR SPORTVROU (MTC)

Beatrice Masilingi (Atletiek Namibië), Christine Mboma (Atletiek Namibië).

SPORTMAN MET ’n GESTREMDHEID (NAMPOWER)

Ananias Shikongo (Paralimpiese Komitee), Johannes Nambala (Paralimpiese Komitee), Petrus Karuli (Paralimpiese Komitee).

SPORTVROU MET ’n GESTREMDHEID (NAMPOWER)

Johanna Benson (Paralimpiese Komitee), Lahja Ishitile (Paralimpiese Komitee), Sylvia Shivolo (Paralimpiese Komitee).

JUNIOR SPORTMAN MET ’n GESTREMDHEID (NAMPOWER)

Bradley Murere (Paralimpiese Komitee), Julien Rejive (Paralimpiese Komitee).

JUNIOR SPORTVROU MET ’n GESTREMDHEID (NAMPOWER)

Aune Josef (Paralimpiese Komitee), Lahja Iipinge (Paralimpiese Komitee), Lize Meyer (Paralimpiese Komitee)

SPORTSPAN VAN DIE JAAR (DEBMARINE NAMIBIA)

Atletiek Namibië: 4x100m vroue-aflosspan (o.20 wêreldkampioenskap)

Krieket Namibië: Senior nasionale manspan (Eagles)

Namibië Hokkie-unie: Senior nasionale vrouespan.

AFRIGTER VAN DIE JAAR

Grant Dodds (Namibië Kano- en Roeifederasie), Hendrik (Henk) Botha (Atletiek Namibië), Letu Hamhola (Paralimpiese Komitee)

SKEIDSREGTER VAN DIE JAAR (DEBMARINE NAMIBIA)

Lazarus Nainda (Namibië Professionele Boksbeheerraad), Twanyanyukwa Antsino (Namibië Sokkervereniging)

JOERNALIS VAN DIE JAAR (NEW ERA, NEPC)

a) Elektroniese media (Radio & TV)

Castro Uulumbu (One Africa Television), Katrina Gowases (NBC), Limba Mupetami (Namibian Sun)

b) Gedrukte media

Hesron Kapanga (Nampa), Sheefeni Nicodemus (The Namibian), Michael Uugwanga (Confidente)

c) Digitale media (Aanlyn-, sosiale media en fotografie)

Limba Mupetami (Namibian Sun), Pomwene Shaduka (Naayele Dream Publication), Tangi Mulundu (Twaindila Media Houses)

BESTE SPORTONTWIKKELINGSPROGRAM (STANDARD BANK)

Krieket Namibië: Ashburton Kwata krieket

Namibië Hokkie-unie: die Standard Bank junior hokkie-inisiatief

Namibië Skolesportunie: Professional Education Training System

SPORTFEDERASIE VAN DIE JAAR (SPORTKOMMISSIE)

Atletiek Namibië; Krieket Namibië; Namibië Nasionale Paralimpiese Komitee

PROFESSIONELE SPORTSTER IN DIE DIASPORA (DEBMARINE NAMIBIA)

Maike Helga Diekman (Namibië Kano- en Roeifederasie); Peter Shalulile (Namibië Sokkerverenging)

GEMEENSKAP-INSPIRASIETOEKENNING (STANDARD BANK / DEBMARINE NAMIBIA)

Delano Müller (Namibië Skopboksfederasie); School of Excellence Hokkie-akademie; Namibië Hokkie-unie; Kasaona Sokkerakademie; Namibië Sokkervereniging.

SPORTPRESTEERDER VAN DIE JAAR (MTC)

Beatrice Masilingi (Atletiek Namibië); Christine Mboma (Atletiek Namibië); Helalia Johannes (Atletiek Namibië)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!