Vryhandelspakt sal Afrika-deure wyer oopmaak
Van die lidlande van die drieledige vryhandelsooreenkoms (TFTA) is van die snelgroeiendste ekonomieë in Afrika.
Francois Williams
Handel tussen lande in Suider- en Oos-Afrika kan verbeter as die drieledige vryhandelsooreenkoms (TFTA) eers bekragtig is.
Dit sal voorsiening maak vir vrye beweging van sakelui tussen die verskeie lidlande en sal nuwe markte vir Suid-Afrika oopmaak, sê Wamkele Mene, hoofdirekteur vir Afrika multilaterale ekonomiese verhoudings by die departement van handel en nywerheid.
Die TFTA is 'n vryhandelsooreenkoms tussen die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (waarvan Suid-Afrika en sy buurlande lid is), die Oos-Afrika-gemeenskap, en Comesa (Gemeenskaplike mark vir Oostelike en Suider-Afrika).
Van die TFTA-lidlande is van die snelgroeiendste ekonomieë in Afrika, soos Rwanda, Ethiopië en Tanzanië. Die TFTA-lidlande het meer as 626 miljoen mense - net meer as die helfte van die totale bevolking van Afrika. Die TFTA moet nog deur Suid-Afrika bekragtig word, en dit is nog in die parlement onder bespreking. Mene het Woensdag die TFTA met die gekose komitee oor handel in die nasionale raad van provinsies bespreek.
Die drieledige vryhandelsooreenkoms
Die drieledige vryhandelsooreenkoms is in Junie 2015 in Egipte bekend gestel.
Onderhandelings oor die regsteks van die hoofooreenkoms is in Mei 2017 afgehandel. Suid-Afrika het die ooreenkoms in Julie 2017 onderteken, maar het dit nog nie bekragtig nie.
Die ooreenkoms is al deur 22 van die 26 lidstate onderteken. Nog net Egipte en Uganda het die ooreenkoms bekragtig, en sodra 14 lidstate dit bekragtig het, sal dit van krag wees.
Mene sê die TFTA mik om die streekmark te integreer en nywerheidsontwikkeling te bevorder. Mene is die hoofonderhandelaar vir Suid-Afrika in handelsgesprekke binne Afrika. Die TFTA sal regsekerheid verskaf vir die handelsvennote.
Mene verduidelik Suid-Afrika en Kenia dryf byvoorbeeld handel ingevolge die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie, en met die TFTA sal dispute vinniger opgelos kan word. Die ooreenkoms sal Suid-Afrikaanse uitvoerders beskerm. Dispuutoplossings sal buite nasionale howe beslis kan word.
Die potensiële bedreigings van die TFTA vir Suid-Afrika is volgens Mene by herverskeping van vrag, waar derdeparty-invoerders toegang tot 'n mark kry, d.w.s. waar nie-ondertekenaars van die TFTA ook voordeel trek uit die ooreenkoms ten koste van TFTA-lede self.
Dit skep ook die risiko van storting van substandaard goedere, maar Mene meen doeltreffende grensbestuur kan dit oplos. Suid-Afrika se handel met TFTA-lidlande beloop sowat 16% van sy totale handel, en dit het in 2017 meer as US$27,6 miljard beloop. Die meeste hiervan was met SAOG-lande, gevolg deur Egipte, Kenia, Ethiopië en Uganda.
Suid-Afrika se meeste handel binne die TFTA-lidlande is met Namibië, Botswana en Mosambiek. Mene verduidelik Suid-Afrika se spesifieke tariefonderhandelings oor die TFTA vind plaas met lande in Oos-Afrika soos Kenia, Burundi en Tanzanië.– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie