Vrypas na die stad van feesvreugde

Dans, teater en kultuurfeeste is ’n passie waarin Nikhita Winkler haar die afgelope maande behoorlik inleef.
Yandi Du Plessis
Nikhita Winkler – Ek het op 29 April in Tarragona – een van vier hoofstede in Katalonië, Spanje – gearriveer as die Namibiese vrou van ’n Katalaanse kunstenaar.

Dieselfde aand het ons ’n aangrypende en meesleurende optrede deur Anthony Kmeid, getiteld Los Papeles, bygewoon. Die volgende drie dae het ons elke aand ’n vertoning bygewoon en daarna minstens een vertoning elke week – hetsy in musiek-, dans- of teatervorm.

Ek het selfs na ’n teateropvoering in Katalaans, die landstaal van Katalonië, gaan kyk, wat my herinner het hoeveel werk nog voorlê om teater in ander Namibiese tale, behalwe Engels en Afrikaans, te diversifiseer.

Wat my van Tarragona betower het – selfs voordat ek hierheen getrek het – was die waarde wat die mense aan kultuur heg.

Net vyf dae voor ek en my man uit Namibië vertrek het, het hulle Sant Jordi gevier – “die dag van die boek en die roos”. Dié herdenking is gevolg deur Sant Joan, ’n viering van die begin van die somermaande.

Vandeesmaand vier ek my eerste Santa Tecla – die grootste feesdag in Tarragona, waar ek Katalonië se fassinerende tradisie wil beleef om “menslike torings” te bou, iets waarna ek dikwels as hul nasionale sport verwys.

Die afgelope vier maande het soos ’n vakansie vol kuns en kultuur gevoel. Wel, tot ’n mate. Laat ons dit eerder ’n kuns- en kultuur-werkvakansie noem.

Terwyl ek nog in Namibië was, is ek genooi om op twee feeste in Tarragona op te tree. Ek het geen idee gehad waarvoor ek myself inlaat nie en ek was beslis nie gereed nie, maar ek het natuurlik nie twee keer gedink toe die geleentheid sy opwagting gemaak het nie.

Die eerste fees was La iMAGInada, wat in die tweede week van Augustus afgeskop het. Hierdie fees, wat deel uitmaak van die feeste van Sant Magí, is ’n gemeenskapsinisiatief wat georganiseer word deur ’n groep jong vrywilligers wat ’n park omskep in ’n kreatiewe ruimte wat prettige, innemende en opvoedkundige aktiwiteite vir almal bied.

Ek het op Vrydag die 13de my solodebuut gemaak op die merkwaardige Teatre Auditori del Camp de Mart-verhoog, wat 1 788 toeskouers kan akkommodeer.

My “onvoltooide projek” getiteld Naked, is geborg deur die Namibiese Kunsteraad (NACN), met die Namibiese kunstenaars Mel Mwevi en Devitchi, die Zimbabwiese kunstenaar Ray Mupfumirra en die Katalaanse kunstenaar Alhazar wat daarin te sien is.

Dit het my drie maande geneem om die vrees te oorkom om ’n solo-optrede op hierdie reuseverhoog te lewer. Dit kon langer gewees het, maar dit was al tyd wat ek gehad het.

Uiteindelik was dit ’n ootmoedigende ervaring. Die insig wat ek uit hierdie gebeurtenisvolle week gekry het, is dat die sukses van La iMAGInada uit die gees van vrywilligersdiens spruit.

Die vrywilligers geniet gratis toegang tot die feesaktiwiteite, vertonings, kos en drankies. Hulle daag op as ’n verantwoordelike gemeenskap in kuns, kultuur en sosiale aktivisme om ’n veilige ruimte te skep waarin hulle en die res van die stad kan feesvier.

Twee weke later was ons besig om gereed te maak vir die Internasionale Teaterfees in Tarragona (FITT), wat in die eerste week van September plaasgevind het. As ’n uitvoerende kunstenaar op hierdie fees met Naked, het ek gratis toegang gehad tot al die vertonings, slypskole, praatjies en heerlike maaltye.

Ek het ’n paar bekende gesigte van La iMAGInada by FITT gesien, wat as vrywilligers en organiseerders gewerk het. In hierdie stadium is dit dié gesigte wat my laat tuis voel. Dit was ’n besige week vol applous vir uitnemendheid; en oorspronklike werke wat soveel wysheid bevat het. Ek was veral beïndruk deur die samewerking en vennootskappe wat deel was van hierdie goed georganiseerde fees, wat vanjaar vir die tiende keer gevier is.

Praat oor massabemarking op sy beste – weke voor die fees was Tarragona van hoek tot kant bedek met pienk baniere waarop die gelukkige gesig pryk van ’n jong vrou in ’n handdoek en stortkappie wat haar onderarmhare kam. Die tema was bemagtiging van vroue, en ek het my plek verdien.

Vir die eerste keer verskyn my naam, die naam van my onderneming en my geliefde Namibië op ’n advertensiebord in La Rambla, die Onafhanklikheidsrylaan van Tarragona.

Terwyl Christine Mboma besig was om wêreldrekords te breek het ek – ’n Namibiese danser – grense verskuif in die naam van Namibië.

Vanuit hierdie perspektief het die gapings in ons Namibiese kuns- en kultuurbedryf meer sigbaar geword. Die kriteria vir sukses is eenvoudig: betrek die gemeenskap deur kuns na gemeenskaplike ruimtes te bring, en werk saam met die stad en sy entiteite om ’n fees aan te bied.

Hierdie soort feeste motiveer kunstenaars om outentieke werk te skep met professionele terugvoer as gratis katalisator tot uitnemendheid.

Feeste ondersteun kulturele toerisme en bied geleenthede vir uitvoere – en ons almal weet die wêreld wil meer van Namibiese kuns en kultuur hê.

Die doel waarom ek Tarragona gekies het, is besig om te ontvou. Dit is nie om ’n Namibiese danser in Tarragona te wees nie, maar miskien om te ervaar hoe kuns en kultuur asemhaal in hierdie stad van feeste, en hoe ek ’n brug vir verandering in Namibië kan word.

FOTO’s
Die Internasionale Teaterfees in Tarragona (FITT) het in die eerste week van September plaasgevind. Foto Albert Rué

Die tema van FITT 2021 was bemagtiging van vroue, en dié plakkaat het beslis mense se aandag getrek. Foto Nikhita Winkler

Nikhita het 'n solo-optrede getiteld 'Naked' op kunstefeeste in Tarragona gelewer. Foto's Alba Rodriguez

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!