Vrywilligers pak Covid-19 op Keetmans
Tanja Bause – Die Covid-19-KHP-aksiegroep is ’n week gelede op Keetmanshoop in die lewe geroep om veral die kwesbaarstes in die gemeenskap in die stryd teen die siekte by te staan.
Mnr. Basil Brown, stigter van die groep, het verlede Vrydag via WhatsApp navraag gedoen om vrywilligers vir dié doel bymekaar te kry.
“Saterdag het 10 vrywilligers bymekaargekom. Sondag het ons in die /Gereres- informele nedersetting ingegaan om vas te stel wat die grootste behoeftes is. Maandag het ons die bestanddele vir die maak van waterlose handreinigers en seep gaan koop. Die handreinigers is gemaak en plastiekbottels is daarmee gevul. Ons kon 500 tot 1 000 plastiekbottels met waterlose handreinigers onder die mense uitdeel.”
Brown sê hy het China twee jaar gelede besoek en het vriende daar wat hom gebel het toe die virus in dié land uitgebreek het.
“Hulle het vir my gesê wees voorbereid, dit kom. Ek het dit nie te ernstig opgeneem nie en gedink as dit kom, dan eers later – en dit was toe nie. Ek het ook besef baie mense het aangeneem daar is nog baie tyd vir voorbereiding, maar daar is nie. Dít het my tot aksie gedryf, en die feit dat ek van nature mensgedrewe is.”
Toe die Covid-19-KHP-aksiegroep /Gereres besoek het, het hulle ontdek hoe onhigiënies die omgewing is.
“Daar is geen toilette of waterpunte nie. Mense kan nie hul hande was nie. Ons het met die uitvoerende hoof van die Keetmanshoop-munisipaliteit vergader en hulle het hul ondersteuning en hulp aan ons beloof. Hulle het ook grawe en harke beskikbaar gemaak. Ons het die gereedskap aan die informele nedersetting se mense gegee sodat hulle kan skoonmaak. Hulle sal ’n minimale loon vir die werk ontvang, en ek ry die vullis met my vragmotor weg,” sê Brown.
Volgens hom is almal wat by die groep betrokke is vrywilligers en skaf hulle die seep, handreinigerbestanddele en toiletpapier uit hul eie sak aan.
“Ons benodig leë plastiekbottels van 500 ml en 330 ml. Ons sal ook enige skenking waardeer – ongeag hoe klein. Ons benodig ontsmetmiddels om die handreiniger te maak, koekies seep en toiletpapier. As mense nie geld wil gee nie, kan hulle van die bestanddele koop en vir ons bring,” sê me. Mona Brown.
Volgens me. Connie Willemse, ’n vrywilliger, het sy nie eers twee keer oor dié oproep om hulp gedink nie.
“Ek was onmiddellik aan boord. Ons het nie tyd om rond te sit nie, ons moet nou optree en vinnig. Ons moet inspring en mekaar help waar ons kan.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie