VSA bekommerd oor EU se verdedigingspakt
VSA bekommerd oor EU se verdedigingspakt

VSA bekommerd oor EU se verdedigingspakt

Amerika is bekommerd oor die impak van groter Europese verdegingsamewerking op Navo.
NAMPA
Verdedigingsministers van die Noord-Atlantiese Verdrags­organisasie (Navo) het gister vergader te midde van Amerika se kommer oor die Europese Unie (EU) se samewerkingsverdrag oor verdediging wat toenemend verhoudinge tussen die VSA en Turkye vertroebel.

Washington en Ankara, twee van Navo se belangrikste lede, stamp koppe oor Turkye se militêre offensief in die noorde van Sirië. Amerika se minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, het Dinsdag gewaar­sku dit verwater die stryd teen die ­Islamitiese Staat-groep.

Die twee dag lange vergadering by Navo se hoofkantoor in Brussel, België, sal na verwagting veranderinge aan die organisasie se bevelstruktuur goedkeur ten einde die uitdagings van oorlogvoering in die 21ste eeu beter te takel. Dit sluit in kubertaktieke en hibriede oorlogvoering.

Dit is belangrik terwyl vrese oor Rusland se vermoë om homself te laat geld, aan die oplaai is.

Amerikaanse amptenare het hul vrese oor die EU-blok se pakt rugbaar gemaak tydens 'n werksete gister met die EU se diplomatieke hoof, ­Federica Mogherini. Ondanks dié vrese deur Navo se grootste bondgenoot, meen die organisasie se sekretaris-generaal, Jens Stoltenberg, dat die regte balans bewerkstellig kan word.

“As dit reg gedoen word, kan hierdie pogings lei tot 'n meer ­regverdigde lasverdeling tussen Europa en ­Noord-Amerika,” het hy aan joernaliste gesê.

Amerika se pres. Donlad Trump het bondgenote verskeie kere versoek om hulle bydrae tot besteding te vergroot ten einde die las op Washington te verminder.

Stoltenberg het Dinsdag daarop gewys dat hoewel pogings om die EU se verdedigingsbesteding te vergroot, verwelkom word, dit nie ten koste van Navo-planne moet wees nie. Hy het gewaarsku daar is geen manier waarop die EU hierdie Transatlantiese alliansie kan vervang en steeds Europa se sekuriteit kan waarborg nie.

“Dit sal absoluut geen waarde hê as Navo en die EU begin kompeteer nie,” het hy gesê. “Europese bondgenote is terdeë bewus dat verdediging, die beskerming van Europa, afhanklik is van Navo.”

Die EU se sogenaamde ooreenkoms vir permanente, gestruktureerde verdedigingsamewerking, bekend as Pesco, wil nuwe militêre toerusting ontwikkel en samewerking en besluitneming verbeter.

Jim Mattis, Amerika se minister van verdediging, het egter vroeër sy kommer hieroor uitgespreek en gesê dit kan “Navo se hulpbronne en vermoëns verwater”.– Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer