VSA: Justisie stel spesiale aanklaer aan
VSA: Justisie stel spesiale aanklaer aan

VSA: Justisie stel spesiale aanklaer aan

Sake in Washington raak al hoe warmer vir pres. Donald Trump.
Die Amerikaanse department van justisie het ’n spesiale aanklaer aangestel om te bepaal of iemand aangekla moet word oor beweerde sameswering tussen pres. Donald Trump se verkiesingskamp en Rusland om die verkiesingsuitslag teen Hillary Clinton te beïnvloed.

Robert Mueller, voormalige FBI-hoof, wat destyds deur pres. George W. Bush aangestel is, sal sy ondersoek onafhanklik van die departement van justisie kan doen.

Sy aanstelling kom te midde van nuwe onthullings dat Trump, James Comey, onlangs afgedankte FBI-hoof, gevra het om die ondersoek na Michael Flynn, voormalige nasionale veiligheidsraadgewer, se betrekkinge met Rusland te staak.

Verlede week het Trump ook glo met Russiese amptenare in die Withuis vergader en “sensitiewe inligting” oor die Islamitiese Staat (IS) aan Sergei Lafrof, Russiese minister van buitelandse sake, oorgedra.

Trump het in verklaring gesê hy hoop Mueller sal sy ondersoek vinnig afhandel.

“Soos ek al telkemale gesê het, ’n deeglike ondersoek sal bevestig wat ons almal weet: Daar was geen sameswering tussen my veldtog en ’n buitelandse moondheid nie.”

Rod Rosenstein, adjunk-prokureur-generaal wat Mueller aangestel het, het in ’n verklaring gesê daar is nog geen besluit oor die geldigheid van die beweringe geneem nie.

“My besluit moenie beskou word as ’n aanduiding dat daar wel misdade gepleeg is nie; ek het nog nie so bevinding gemaak nie. Ek is van mening dat ’n spesiale aanklaer nodig is sodat Amerikaners vertroue in die ondersoek kan hê,” het hy gesê.

Wetgewers van die Demokratiese en Republikeinse party het die stap verwelkom.

Hulle het ook aangedui dat die huis van verteenwoordigers en die senaat se eie ondersoeke na Russiese inmenging in die 2016-verkiesing en Trump se span se betrekkinge met die Kremlin sal voortgaan.

“’n Spesiale aanklaer was noodsaaklik in hierdie situasie en adjunk-prokureur-generaal Rod Rosenstein het die regte ding gedoen,” het Chuck Schumer, Demokratiese leier in die senaat, gesê.

Bob Goodlatte, Republikeinse voorsitter van die huis van verteenwoordigers se justisiekomitee, sê Mueller sal “’n behoorlike en regverdige ondersoek doen”.

Minstens 18 kontakte met Russe verswyg

Ondertussen berig Reuters in ‘n eksklusiewe nuusberig dat Michael Flynn en ander raadgewers van Trump minstens 18 keer by wyse van telefoonoproepe en e-posboodskappe tydens die laaste sewe maande van die 2016-presidentsverkiesingveldtog met Russiese amptenare in kontak was.

Die interaksie was nie voorheen bekend nie, maar vorm nou deel van die rekord wat deur die FBI en ondersoekbeamptes van die Amerikaanse kongres hersien word wat Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesings en kontakte tussen Trump se veldtog en Rusland ondersoek.

Ses van hierdie kontakte was tussen Sergei Kislyak, Rusland se ambassadeur in Amerika, en Trump se raadgewers insluitende Flynn.

Gesprekke tussen Flynn en Kislyak het toegeneem ná die verkiesing op 8 November toe die twee bespreek het hoe hulle geheime kommunikasiekanale tussen Trump en die Russiese president, Wladimir Poetin, tot stand kon bring. Sodoende sou Trump die Amerikaanse nasionale veiligheidsburokrasie kon systap. Albei kante was van mening dat die instansies verbeterde betrekkinge tussen Amerika en Rusland teengestaan het.

In Januarie het die Withuis aanvanklik ontken dat daar enige kontak met Russiese amptenare tydens die 2016-veldtog was. Die Withuis het sedertdien vier ontmoetings tussen Kislyak en Trump se raadgewers gedurende die tyd erken. – Netwerk24/Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!