VSA kap Iran eerder met sankies en kuberaanval
VSA kap Iran eerder met sankies en kuberaanval

VSA kap Iran eerder met sankies en kuberaanval

Die Amerikaanse weermag het ’n kuberaanval op Irannese rekenaarwapenstelsels begin en wil nog sanksies teen Iran instel.

Dit is die jongste wending nadat Amerika se pres. Donald Trump van sy planne vir ’n meer konvensionele aanval afgesien het, berig The Guardian. Trump het aanvanklik ’n aanval op Iran beplan in reaksie op die land wat ’n Amerikaanse onbemande waarnemingsvliegtuig neergeskiet het.

Netwerk24 het vroeër berig Iran se keurtroepe, die Revolusionêre Wag, het Donderdag op staatstelevisie teen enige aggressie teen Teheran gewaarsku en gesê die neerskiet van die Amerikaanse Global Hawk-”spioenasietuig” is ’n “duidelike boodskap” aan sy aartsvyand, die VSA.

Trump het Vrydag gesê die VSA het ’n militêre aanval laat vaar wat uit weerwraak sou wees vir Iran se neerskiet van die Amerikaanse tuig. Amerika neem Iran ook vir ander aanvalle kwalik, onder meer op sy olietenkskepe in die Golf van Oman op Donderdag 13 Junie. Die militêre aanval sou egter 150 mense doodmaak en Amerika het daarteen besluit.

Volgens Sky News gaan Trump Maandag groot nuwe sanksies teen Iran instel. Trump sê hoewel militêre stappe steeds op die tafel is, is hy gewillig om die konflik-eskalering om te keer en om vinnig ’n ooreenkoms met Iran te bereik wat die land se sukkelende ekonomie sal stimuleer.

Volgens The Guardian het anonieme amptenare intussen aan AP gesê die kuberaanval op die Irannese rekenaarstelsels is Donderdag met pres. Donald Trump se goedkeuring gedoen. Die kuberaanval het die rekenaarstelsels gebreek wat Iran se vuurpyle en missiele lanseer.

’n Derde anonieme bron, wat nie gemagtig is om openlik oor die operasie te praat nie, het ook in breë trekke die aanval bevestig.

Aldus CNN is die geteikende rekenaarstelsels dié van ’n Irannese spioenasiegroep wat bande met die Islamitiese Revolusionêre Wag het. ’n Woordvoerder van die Pentagon wou egter nie kommentaar lewer nie omdat dit teen die beleid vir operasionele sekerheid sou wees om oor die kuberruimte-operasies en -intelligensie te praat. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer