VSA se staaltariewe raak 7 500 poste in SA
VSA se staaltariewe raak 7 500 poste in SA

VSA se staaltariewe raak 7 500 poste in SA

Minder as 1% van die totale staalinvoer in die VSA en 0,3% van die totale staal wat in die VSA gebruik word, kom uit Suid-Afrika, maar vir SA verteenwoordig dit 5% van al sy staaluitvoere.
Hanlie Stadler – Die invoertariewe wat die VSA op staal en aluminium ingestel het, plaas die werk van 7 500 Suid-Afrikaners in gevaar, volgens dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid.

Davies het opnuut gepleit dat die VSA die tariewe vir Suid-Afrika laat vaar. Handelsministers van Afrika het verlede week ook gesamentlik dié pleidooi laat opklink.

Die VSA het ’n invoertarief van 25% op staal ingestel en van 10% op aluminium.

Davies het luidens ’n verklaring persoonlik in Washington met Robert Lighthizer, Amerikaanse handelsverteenwoordiger, Wilbur Ross, minister van handel, en die Republikeinse senators Chris Coons en Johnny Isakson vergader.

Minder as 1% van die totale staalinvoer in die VSA en 0,3% van die totale staal wat in die VSA gebruik word, kom uit Suid-Afrika.

Vir Suid-Afrika verteenwoordig dit egter 5% van al sy staaluitvoer en volgens Davies verteenwoordig dit 7 500 poste in die staal-waardeketting.

Suid-Afrikaanse aluminium verteenwoordig net 1,6% van die aluminium wat in die VSA ingevoer word.

Suid-Afrikaanse firmas vervaardig spesialis-produkte wat in die motor-, battery- en lugvaartbedryf in die VSA gebruik word. Davies sê dit bewys dat Suid-Afrika nie Amerika se nasionale veiligheid of die land se staal- en aluminiumbedryf bedreig nie “maar ’n bron van strategiese primêre en sekondêre staal is wat in verdere waardetoevoegende in die VSA gebruik word”.

“Nasionale veiligheid” is een van die redes wat die VSA aanvoer vir die instelling van die tariewe. Dit word sogenaamde art. 232-heffings genoem.

Benewens dié tariewe hou die Suid-Afrikaanse motorbedryf nog asem op oor die VSA se ondersoek of hy invoertariewe op motors en motoronderdele gaan instel.

Suid-Afrika verteenwoordig net 0,4% van die motorverwante invoer in die VSA.

Volgens Davies sal invoertariewe die voordele van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) ondermyn.

Davies en Lindiwe Zulu, minister van kleinsake-ontwikkeling, is juis in die VSA vir die 17de Agoa-forum.

Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, het vroeër gesê daar heers daar groot kommer oor werkverliese in die sektor.

“Die Suid Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf het die afgelope paar jaar ’n ernstige inkrimping beleef en verkeer steeds onder groot druk. Die plaaslike bedryf kan eenvoudig nie enige verdere terugslae bekostig nie,” sê Croucamp.

Plaaslike staalvervaardigers wat deur die tariewe geraak word, sluit in ArcelorMittal Suid-Afrika, wat sowat 70 000 ton staal jaarliks na Amerika uitvoer, South32, Hulamin en Columbus.

China het reeds ’n klag by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) teen Amerika ingedien oor die tariewe op staal en aluminium wat Amerika ingestel het. Volgens die WHO se voorgeskrewe prosedure moet daar eers konsultasie tussen Amerika en China plaasvind waarna die dispuut ná 60 dae deur die WHO bereg kan word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer