VSA-student sterf ses dae nu00e1 sy vrylating
VSA-student sterf ses dae nu00e1 sy vrylating

VSA-student sterf ses dae ná sy vrylating

Die Amerikaanse student wat verlede week deur Noord-­Korea vrygelaat is ná 17 maande in aanhouding, het gesterf.
Otto Warmbier (22) se familie het in 'n verklaring bekend gemaak dat hy oorlede is, skaars ses dae na sy vry­lating deur Noord-Korea.

Warmbier het ernstige breinskade opgedoen en was reeds in 'n koma toe hy deur Noord-Korea vrygelaat is.

“Dit is vir ons hartseer om te sê dat ons seun, Otto Warmbier, sy reis huis toe voltooi het. Otto het vandag om 14:20 gesterf, omring deur sy liefdevolle familie.”

Die familie het die Universiteit van Cincinnati se mediese sentrum vir sy behandeling bedank.

“Ongelukkig het die mishandeling wat ons seun in Noord-Korea gekry het, tot die hartseer gelei.”

Warmbier is tot 15 jaar dwangarbeid gevonnis nadat hy skuld beken het dat hy Noord-Koreaanse propagandamateriaal gesteel het. Sy reisgenoot het gesê die bewerings is ongegrond.

Hy het later gesê hy het 'n politieke banier gesteel uit die Pjongjang-hotel, waar hy en sy toergroep tuisgegaan het. Hy wou dit as 'n “trofee” hê. Die banier was in die gebied waar hotelgaste nie toegelaat word nie.

Warmbier was deel van 'n Nuwejaar-toergroep wat deur die Chinese Young Pioneer Tours gereël is.

Die VSA het geen diplomatieke ­betrekkinge met Noord-Korea nie. Die Sweedse ambassade in Pjongjang bied wel beperkte konsulêre dienste aan Amerikaners in aanhouding.

Buitelandse aangehoudenes moet dikwels in die openbaar erken dat hulle oortree het.

Die erkenning word vir hulle geskryf.

Warmbier moes in 2016 voor joernaliste en diplomate in Pjongjang verskyn. In die beeldmateriaal kan gesien word hoe 'n huilende Warmbier om sy vrylating pleit.

“Ek het die grootste fout van my lewe gemaak, maar doen asseblief iets om my te red,” het hy gesê.

Volgens die Noord-Koreaanse staatsmedia het Warmbier die banier gesteel in opdrag van 'n lid van die Friendship United Methodist Church in Wyoming, Ohio. Sy beloning sou 'n gebruikte motor van US$10 000 (R159 724) wees.

Warmbier het gesê die kerk sou US$200 000 (R3,194 miljoen) aan sy ma betaal as hy gevang word en nie na die VSA terugkeer nie.

“My oortreding is baie erg en vooraf beplan,” het Warmbier sy verklaring voorgelees. Ook dat hy beïndruk is deur die menslike manier waarop Noord-Korea misdadigers soos hy behandel.

Politieke slagspreuke wat Noord-Korea se beeld poets, is volop. Sulke propaganda kan op straat en in byna elke openbare gebou gesien word.

- Netwerk24/AP/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-03-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer