VSA waarsku wêreld oor vuil vliegtuigbrandstof
Erika Gibson - Amerikaanse lugvaartowerhede vrees dat vuil vliegtuigbrandstof – wat vermoedelik ’n Airbus van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in New York gestrand gelaat het – ’n veel groter probleem is as wat aanvanklik vermoed is.
Die Amerikaanse federale lugvaartowerheid (FAA) het Woensdag, bykans drie weke nadat ’n SAL-Airbus in New York gaan staan het, ’n waarskuwing aan alle lugdienste, bemannings en vlieëniers wêreldwyd uitgereik oor die moontlike besmetting van vliegtuigbrandstof.
Luidens die waarskuwing is die meeste van die brandstof in “Sentraal-Amerika” (wat New York insluit) ingeneem, “maar die geografiese strekking daarvan is onbekend”.
Die FAA sê daar is talle verslae van verstoppings in brandstoffilters, -toevoerpype en -tenks. Dit het in verskeie gevalle tot enjinweierings en -probleme gelei.
Die dringende waarskuwing verwys nie na enige spesifieke voorvalle nie, maar maan operateurs om nougeset hul brandstoftoetsingsprosedures na te kom.
In een geval moes ’n Airbus A330-200 van Alitalia verlede Woensdag onderweg na Europa van sy roete afwyk en in Newfoundland in Kanada land ná ernstige enjinprobleme weens brandstofbesmetting.
In die geval van die SAL-Airbus A340-600 wou twee linkerenjins sowat drie weke gelede op die John F. Kennedy-lughawe in New York nie aan die gang kom nie.
Daar is aanvanklik bespiegel dat die brandstoftoevoer verstop is as gevolg van die toediening van Biocide, wat keer dat bakterieë in die brandstoftenk groei. Die verkeerde toediening daarvan kan daartoe lei dat die middel jellierig word en die brandstoftoevoer belemmer.
’n Week gelede het die FAA Rapport se navraag na die SAL verwys, maar dié owerheid wou geen kommentaar lewer nie.
Ernest Claassen, onafhanklike internasionale vliegtuigongelukondersoeker, sê die kontaminasie word vermoedelik deur een van die brandstofverskaffers in die VSA veroorsaak. “Dié verskaffer gebruik dalk ’n bymiddel om swamme en bevriesing teen te werk wat nie versoenbaar is met dié wat die SAL en lugdienste in Europa gebruik nie.
“Die waarskuwing beteken dat daar iewers ’n probleem is, maar dat die ondersoek sal bepaal presies waar dit lê,” sê Claassen.
Tlali Tlali, SAL-woordvoerder, sê hy kan nie op die FAA se waarskuwing reageer nie.
SAL se Airbus is volgens Tlali in oorleg met Airbus en Rolls Royce, wat die enjins vervaardig, reggemaak. Die vliegtuig het Donderdag sonder passasiers teruggevlieg Suid-Afrika toe. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie