Vukile brei uit onder Spaanse son
Vukile brei uit onder Spaanse son

Vukile brei uit onder Spaanse son

Die transaksie voorsien Vukile van 'n stewige groeiplatform in een van die oortuigendste beleggingsgebiede in die Eurosone.
Elma Kloppers - Die Vukile Property Fund het 'n portefeulje van nege nuwe kleinhandelparke in Spanje aangekoop deur sy nuwe Spaanse filiaal Castellana Properties, waarvan hy 98,3% besit.
Dié bates is soortgelyk as die waardesentrums in Suid-Afrika.
Dié verkryging teen R2,8 miljard stoot Vukile se buitelandse blootstelling tot sowat 21% van sy totale bates op en verhoog sy Spaanse bates tot elf.
Vukile hou ook 'n belang in Atlantic Leaf, wat 'n portefeulje eiendomme in Brittanje het.
Die koopsom verteenwoordig 'n aantreklike aanvangsopbrengs van 6,2%.
Vukile bied nou die mees gefokusde blootstelling aan Spanje van al die rolspelers in die Suid-Afrikaanse sektor vir genoteerde eiendomsbeleggingstrusts (reits).
Laurence Rapp, uitvoerende hoof, sê die strategie om in die ontwikkelde markte van Wes-Europa te diversifiseer, onderskei Vukile van die talle ander Suid-Afrikaanse eiendomsfondse wat grootliks op die ontluikende markte van Oos- en Sentraal-Europa fokus.
“Omdat Vukile uit 'n ontluikende ekonomie afkomstig is, het dit vir ons sin om eerder op ontwikkelde markte vir groei te fokus.”
Groeiplatform
Hy sê die transaksie voorsien Vukile van 'n stewige groeiplatform in een van die oortuigendste beleggingsgebiede in die Eurosone. “Die Spaanse ekonomie het in 2016 teen 3,2% gegroei en groei van 2,2% word vir 2017 verwag, vergeleke met 1,5% vir die Eurosone. Spanje se ekonomiese groei word aangedryf deur 'n afname in sy werkloosheidsyfer wat op sy beurt kleinhandelbesteding aanmoedig.
Die nege kleinhandelparke het 'n gesamentlike bruto verhuringsruimte van ongeveer 117 670 m² en 'n lae leegstaansyfer van 2,7%.
Rapp sê die parke het 'n diverse huurdersmengsel met 'n totaal van 73 winkels, waar 95% van die inkomste afkomstig is van plaaslike nasio­nale huurders. Die geweegde gemiddelde huurkontrak is 15,6 jaar. Die huurders sluit in Sprinter, die grootste sportklere-kleinhandelaar in Spanje, Worten 'n huisware-kleinhandelaar en Kiwoko, 'n troeteldierversorgings-kleinhandelaar.
Die transaksie is moontlik gemaak deur Vukile se verbintenis met Lee Morze, 'n suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneur wat nou in Madrid woon. Die Morze-familie is Vukile se vennoot in Castellana Properties.
Om die verkryging te finansier het Castellana skuldfinansiering van €94,8 miljoen van Spaanse leningsinstellings verkry.
Die oorblywende €103,3 miljoen word gefinansier deur Castellana se beduidende krygskas vir internasionale uitbreiding.
Vukile het totale bates van R18,7 miljard, waarvan R14,8 miljard of 79% Suid-Afrikaanse eiendomsbates is. Die groep is ook op die Namibiese aandelebeurs (NSX) genoteer. –Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer