Vurige Chucky steek sy hand op vir die Bulle

Rugby
Cobus Claassen - Die oefenwedstryde in die Tuks-stadion sou nooit 'n ware maatstaf vir Superrugby-gereedheid wees nie, maar Pote Human, die Bulle-hoofafrigter, is nietemin tevrede met dít wat hy gesien het.

Twee spanne van die Bulle het die Tukkies Saterdag met onderskeidelik 40-0 en 96-5 geklop.

Hoewel die Bulle se sterker span met tye hard moes werk om af te rond, was daar bemoedigende tekens.

Albei Springbok-skrumskakels, Ivan van Zyl en Embrose Papier, het skerp gelyk, terwyl die losskakels Chris Smith, Manie Libbok en Morné Steyn, sowel as die opwindende David Coetzer, met heelwat ondernemingsgees gespeel het.

Veral Steyn was indrukwekkend toe hy in die tweede wedstryd van die bank af speelkans gekry het.

Human sê hy is ook tevrede met die diepte op haker.

Corniel Els het nie gespeel nie, maar daar gaan gesonde wedywering tussen hom, Johan Grobbelaar, Jaco Visagie en die Namibiër Louis van der Westhuizen wees.

Van der Westhuizen, wat sy land verlede jaar in Japan in sy tweede Wêreldbekertoernooi verteenwoordig het, sou Human stof tot nadenke gegee het met sy vurige spel. Die 24-jarige “Chucky” het reeds vir die Pukke en die Luiperds sy waarde gewys.

“Ek is heel tevrede. Ons het in die eerste wedstryd 18 strafskoppe afgestaan en Tukkies het goeie teenstand gebied.

“'n Mens weet jy kan nie veel uit hierdie wedstryde leer nie, maar dit is goed dat ons speeltyd kon kry en kontak gemaak het,” het Human gesê.

Die Bulle sal Sondag in die FNB-stadion met 'n volsterkte-span teen die Leeus speel.

Die seisoen het nog nie begin nie en daar is reeds kommer oor beserings in die Bulle-kamp.

Albei die Bok-stutte, Trevor Nyakane en Lizo Gqoboka, was Saterdag toe­skouers, terwyl die slot Juandré Kruger hom weens 'n hakseningbesering aan die stryd teen die studente moes onttrek.

Nog 'n Springbok, die flank Marco van Staden, het jelliebene gehad nadat hy in die tweede helfte van die eerste wedstryd 'n harde stamp teen die kop gekry het.

Human sê Van Staden het oënskynlik nie harsingskudding opgedoen nie en sal na verwagting op sy pos wees teen die Leeus.

“Ons sal nie kanse waag met Marco nie. Ek glo hy sal reg wees, maar ons sal Maandag kyk hoe dit met hom gaan.”

Die spelers in die Bulle se groep wat nie Sondag in die FNB-stadion gaan uitdraf nie, sal Vrydag op Loftus se B-veld teen 'n span van die Leeus speel.

* Puntemakers:

Bulle 40 (21): Drieë: Rosko Specman (2), Andries Ferreira, Dawid Kellerman, Sebastian Jobb, Johnny Kotze. Doelskoppe: Chris Smith (3), David Coetzer (2).

Tukkies 0.

Bulle 96: Drieë: Jaco Visagie (2), Dylan Sage, Jade Stighling (2), Marnus Potgieter, Gerhard Steene­kamp, Divan Rossouw, Franco Naudé (2), Jay-Cee Nel, Josh Strauss, Jeandré Rudolph (2). Doelskoppe: Manie Libbok (7) Morné Steyn (6).

Tukkies 5: Drie: Clyde Lewis.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!