Vurige kampvegter vir geregtigheid
Ná 17 jaar jaar as ombudsman en 'n loopbaan van 40 jaar in die reg, lê 'n rustige aftrede vir adv. John Walters voor.
Ronelle Rademeyer – John Robert Walters kon verlede Donderdag sy kantoordeur vir oulaas agter hom toetrek. Dit was byna drie maande nadat hy 65 jaar gelede, “in die 7de uur van die 7de dag van die 7de maand van 1956”, op Karasburg gebore is.
Ná 17 jaar as Ombudsman van Namibië en altesaam 40 jaar as kampvegter vir geregtigheid in verskeie hoedanighede, kan hy nou tyd maak om te reis en die land te verken.
“Ek wil daar in Damaraland gaan uitspan en met 'n yskoue Windhoek Lager of 'n Jameson met sodawater in die hand sit en die natuur geniet,” vertel hy skertsend toe ek hom vra hoe sy aftreeplanne lyk.
Walters het sy regsloopbaan in 1981 as 'n staatsaanklaer in die landdroshof op Keetmanshoop begin nadat hy die vorige jaar 'n BA LLB-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK)verwerf het.
Hy het in 1974 aan die Hoërskool Dr. Lemmer op Rehoboth gematrikuleer en in 1975 met sy tersiêre opleiding begin.
“Ek wou eintlik tot matriek toe nog 'n dokter geword het. Maar niemand het vir my gesê ek moet as bruin student vir 'n spesiale permit aansoek doen om medies aan 'n wit universiteit te gaan studeer nie, want die UWK het nie 'n mediese skool gehad nie.
“Prof. Nico Horn (afgetrede Namibiese akademikus en regskenner) moes byvoorbeeld spesiale toestemming kry – destyds nog by minister Piet Koornhof as ek reg onthou – om by UWK teologie te studeer. As wit student is hy nie in die apartheidsjare sonder meer daar toegelaat nie,” vertel Walters oor die destydse Suid-Afrikaanse segregasiebeleid.
Toe hy besef medies as studierigting is nie 'n opsie nie, het hy in matriek aansoek gedoen vir 'n beurs om regte te gaan studeer. “Toe die inspekteur tydens die beursonderhoud vir my vra hoekom regte, het ek dié aanhaling uit 'n Afrikaans boek onthou: “'Daar is baie regters agter die ploeg en baie ploegjongens op die regbank', wat beteken mense moet toegelaat word om self te kies wat hulle wil word.”
Die beurs het hy nie toe gekry nie, en sy oudste broer en suster het vir sy eerste studiejaar betaal. “Ek het eers in my tweedejaar 'n studiebeurs gekry,” vertel Walters en sê hy is een van agt kinders – vyf broers en drie susters.
STORMAGTIGE JARE
Hy was student gedurende 'n stormagtige tyd. “In 1976 was die Soweto-opstand. Ek was toe in my tweedejaar. En in 1980, in my finale jaar, was daar die klasseboikot. Baie van my medestudente is vir politieke aktiwiteite opgesluit.”
Was hy ooit verbitterd oor die onregte van apartheid? “Miskien was ek, maar ek het nooit daardie verbittering op mense uitgehaal nie.”
Walters sê hy was in 1991, toe hy as aanklaer op Keetmanshoop begin het, nog terdeë bewus van mense se diskriminasie en vooroordele. “Al was apartheid toe sogenaamd afgestel in Suidwes-Afrika met die oopstelling van fasiliteite vir almal, was dit moeilik om jouself te bewys.
"Maar mense soos landdros Tas Boonzaaier en mede-aanklaer Gerhard van den Heever het my as regsman en aanklaer aanvaar. Hulle het my die vier hoeke van die reg geleer en gesê as jy daarbinne beweeg, is jy altyd reg.”
Toe hy in Mei 1992 'n aanklaerskursus in Pretoria bygewoon het waar al die ander aanklaers wit was, het hy egter opnuut besef hoe apartheid mense geleenthede ontneem het.
“Jy kan vergewe wat aan jou en jou familie gedoen is, maar jy sal dit seker nooit vergeet nie,” sê Walters. “Mense kan vandag steeds woorde baie onnadenkend gebruik en dink nie na oor kwetsende taal nie. Soos die word 'jong'. Mense sal dikwels sê: 'Jong, sal jy nie dit doen nie', en dan wil ek vir hulle sê my verstaan van 'jong' is iemand wat in die tuin werk.”
KLIM DIE LEER
In 1985 verander Walters koers en aanvaar 'n aanstelling as landdros in Windhoek.
Kort ná onafhanklikwording in 1990 word hy as staatsadvokaat in die kantoor van die aanklaer-generaal aangestel en word ná twee jaar tot adjunk-aanklaer-generaal bevorder.
In dié tyd is hy betrokke by verskeie hoëprofielsake soos die ondersoek na die sluipmoord op die Swapo-lid, adv. Anton Lubowski, in 1989. 'n Ander bekende saak was die hoogverraadverhoor van 'n groep mans wat beskuldig is van 'n regse komplot om die nuwe Namibiese regering omver te werp.
In 1996 verlaat Walters die staat “om sy geluk in die privaat sektor te gaan soek”, voordat hy in 2002 sy terugkeer maak as Namibië se waarnemende aanklaer-generaal.
Oor die byna twee dekades as ombudsman, sê Walters hy verlaat dié pos met 'n onafgehandelde saak. Dit is die wesentlike takeling van rassisme en diskriminasie.
“Daar is nie 'n regsmeganisme wat dit doeltreffend hanteer nie. Die Wet op die Verbod op Rassediskriminasie van 1995 het in onbruik verval. Dit is nie 'n afskrikmiddel nie,” sê Walters.
“Ek het openbare verhore gehou oor rassisme en verskeie aanbevelings gemaak. Niks het daarvan gekom nie. Ons sit steeds met die ou wet,” sê hy.
Een van sy laaste groot projekte was die opstel van die wetsontwerp op die bekamping van onregverdige diskriminasie, teistering en haatspraak. “Dit lê tans by die ministerie van justisie vir insae.”
AFTREDE
Oor die toekoms sê hy: “Ek gaan nie my pensioengeld gebruik om vir my 'n werk te koop nie.” Reis wil hy wel, want hy het nie stokperdjies waarmee hy hom kan besig hou nie, vertel Walters.
Hy het benewens sy werk een groot passie gehad waaraan hy deur die jare baie tyd en energie gewy het: rugby.
Min mense weet hy het in sy studentedae die UWK se eerste rugbyspan as kaptein op die veld gelei het.
Hy het hom ook jare lank beywer om die opset en kultuur van rugby in die land te verander. Deur sy betrokkenheid by die Rugby-unie en die Sportraad het hy hard gewerk om gelyke geleenthede vir alle spelers te skep.
“Ons het in die afgelope 31 jaar baie ver gevorder. Dink nou byvoorbeeld aan Wanderers. Dit is altyd as 'n wit klub gesien...”
Een ding is gewis: John Walters se loopbaan oor vier dekades getuig van nougesette toewyding tot regverdigheid – in die reg en die lewe daarbuite.
FOTO’s
Die koerantberig het verskyn toe hy in 1990 tot die balie toegelaat is en 'n staatsadvokaat in die kantoor van die Aanklaer-generaal geword het. Hy was die tweede regsgeleerde van kleur wat as advokaat toegelaat is. Op die foto by hom is sy drie susters, Patricia, Irene en Nelie.
John Walters (regs) was van sy skooldae in Dr. Lemmer Hoërskool op Rehoboth 'n kranige rugbyspeler. Foto verskaf
As regstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het hy die eerstespan as kaptein op die veld gelei. Hier is hy (derde van links) saam met ander destydse sportpresteerders van dié universiteit. Foto Verskaf

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie