'Vuur en hel op aarde' vir misdadigers

Die land se polisiebaas waarsku 'n misdaadbende van Windhoek en sê hulle moet geen genade verwag nie.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, sê die vier voort­vlugtende misdadigers wat Maandag die Standard Bank op Nkurenkuru wou besteel, moet geen genade verwag nie.

“Ons vermoed hulle is dieselfde bende misdadigers wat Windhoekers 'n geruime tyd al terroriseer en vir aanvalle op toeriste en gewapende rooftogte verantwoordelik is,” het hy gister in 'n telefoniese onderhoud gesê.

Die ­voortvlugtendes se een makker, mnr. Tyles Uugwanga (37), is Dinsdag ná 'n jaagtog deur die polisie naby die padblokkade op die Windhoek-Okahandja-pad doodgeskiet.

“Die polisie het vuur met vuur beantwoord,” het Ndeitunga gister gesê oor die skietery wat plaasgevind het nadat die vermeende bankdiewe uit hul voertuig gespring en die veld in gehardloop het. Die polisie het hulle agtervolg en teruggeskiet toe hulle op die polisie begin skiet het.

Uugwanga is raakgeskiet en het gesterf.

Die polisie het daarin geslaag om een van die groep van ses, 'n 45-jarige man, in hegtenis geneem. Die ander vier het in die omgewing van Feedmaster se aanleg buite die stad die veld in gehardloop en dit reggekry om die polisie te ontvlug.

“Ek het die polisie se helikopter gestuur om te help soek, maar ons kon hulle nie kry nie,” het Ndeitunga gesê.

“Ek wil hê hulle moet weet ons gaan nie rus voor ons hulle het nie. Genoeg is genoeg. Hulle moet vuur en hel op aarde verwag,” het hy ontstoke gesê.

Die betrokke tak van Standard Bank Namibia sal nog tot eerskomende Maandag gesluit wees, het dié bank in 'n verklaring gesê.

Die bende het Maandag in die vroeë oggendure glo die heining agter die bankgebou oopgeknip en deur die kitsbank, wat hulle oopgebreek het, toegang tot die gebou verkry. Hulle kon die kluis na bewering nie oopgebreek kry nie, maar het die kringtelevisiestelsel beskadig voordat hulle met leë hande op die vlug geslaan het.

Die polisie het deur sy intelligensiebronne inligting gekry dat die bende na Windhoek onderweg is en het hulle 'n ent voor die padblokkade buite die hoofstad ingewag.

Toe die bende die polisie gewaar, het hulle eers weggejaag voordat hulle later stilgehou, uitgespring en weggehardloop het.

Hoofinsp. Kauna Shi­kwambi het Woensdag gesê 'n moordsaak sal ondersoek word deur die polisie se afdeling vir interne ondersoeke.

RUNDU-MOORDE

Intussen, het die polisiehoof gesê, gaan hy vandag twee senior polisiebeamptes na Rundu stuur om die beweringe van nalatige polisieoptrede in die hantering van die gesinsgeweldsaak Saterdag in die Ndama-woonbuurt verder te ondersoek.

“Ek het reeds 'n voorlopige verslag oor die aangeleentheid aan die minister van veiligheid en sekuriteit (mnr. Charles Namoloh) voorgelê, maar daar is leemtes in die ondersoek waaraan ek wil hê hulle aandag moet skenk,” het Ndeitunga gister gesê.

Die 20-jarige mnr. Jesaya Gabriel Chuhunda van Rundu het na bewering Saterdagnag sy ouma, ma en sy suster se drie kleuterseuns met 'n stok doodgeslaan ná 'n stryery oor geld.

Sy suster was na bewering Saterdag twee keer by die polisie toe die stryery handuit geruk het en hy gewelddadig begin raak het.

Hulle het glo gesê hulle het nie vervoer om na haar huis te gaan en die voorval te ondersoek nie.

Ndeitunga het Woensdagoggend polisiebeamptes van die Wanaheda- en Windhoek-polisiekantoor toegespreek en gesê hy is ontsteld oor die laksheid en ongedissiplineerde gedrag van sommige beamptes.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!