Vyf damme kry water
Vyf damme kry water

Vyf damme kry water

Elvira Hattingh
Teen gistermiddag om 14:50 het die Hardapdam nog sowat 289,3 m³ water per sekonde ingekry, terwyl nog drie ander nasionale damme sedert Maandag ‘n inloop van water gehad het.

Volgens ‘n tussentydse damverslag wat gistermiddag deur NamWater uitgereik is, het die Hardapdam tussen Maandagoggend en gistermiddag altesaam 26,197 miljoen kubieke meter (Mm³) water ingekry.

Dié hoeveelheid water is gelyk aan 55% van die Von Bachdam se kapasiteit. Dit het die veel groter Hardapdam se vlakke (kapasiteit 294,593 Mm³) egter met 8,9% tot op 56,6% gelig.

Die Nautedam, met ‘n kapasiteit van 83,580 Mm³, se sluise is Dinsdag getrek toe dit sowat 108,2% vol was, dui die verslag aan. Toe het dié dam 17,3 m³ water per sekonde ingekry. Sedertdien is die dam se vlakke afgebring tot op 99,4% nadat sy slik-uitlaatkleppe ook oopgemaak is.

Die invloei van water na die Nautedam het teen gisterogggend om 10:00 opgehou.

Die Friedenaudam (kapasiteit 6,723 Mm³) het gisteroggend om 08:00 sowat 0,5 m³ water per sekonde ontvang, terwyl die Von Bachdam (kapasiteit 47,525 Mm³) 0,027 m³ op Maandagaand om 20:00 ontvang het. Sedertdien het die invloei van water na dié dam ook opgehou.

Dit het laasgenoemde twee damme se vlakke het op onderskeidelik 79,4% en 46,5% te staan gebring, volgens die dambulletin.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer