Vyf dollar se maalvleis, asseblief . . .
Minette Brink - Die verblindende kleurvolle tydskrifvoorblad skree van die winkelrak af: Eksklusief! Megaster Millie deel met ons die pyn van enkelma-wees!
Diep getraumatiseerde en erg ontwrigte Millie wat verdrink in die geld, wie se grootste bekommernis is oor watter een van die drie au pairs sy wil laat gaan en wat haar man (ook ‘n megaster) met groot sukses vir alles behalwe sy ou langspeelplate gedagvaar het.
Ontstelde Millie wat traumaterapie moet kry oor sy en haar kindertjies krepeer van ellende met dié dat hulle van nou af net twee keer per jaar oorsee kan gaan.
Dis oor daardie wrede, suinige eks wat haar net N$150 000 se onderhoud en N$20 000 per kind se skoolgeld per maand betaal. O ja, en die perdrylesse. En die klavierlesse. En die mediesefondspremie vir al drie. Sy weet nie hóé hulle gaan oorleef nie.
Dieselfde Voorblad Millie wat ook op vier binneblaaie smeul in haar ellende, die ink op die skeidokumente skaars droog. Van kop tot tone die ene volmaakte vrou.
Gedrapeer oor die reusedubbelbed, gim-arms om die laggende Prada-krosie in die plaas van ‘n tuin (liewe Ouma van die Kaap het ingetrek en gaan help met die kinders in hul tye van hartseer terwyl mamma vir drie maande oorsee in ‘n senukliniek weer heel word), voorskootjie aan in die kombuis van industriële omvang (gits, waar sit ‘n mens dié masjien aan…), be-sonbril in die oop deur van die monster 4x4 (gits, waar sit ‘n mens dié masjien aan . . .)
Onderaan die in diepte onderhoud ‘n kassie met inligting oor waar jy Millie se nuwe moet-hê-boek, Enkelma-wees in ‘n villa op die Goue Palms Landgoed net buite Johannesburg is nie vir sissies nie. Nee, regtig, dit is nie, kan bestel. En die betaalkanale slaan klaar vuis oor die regte vir die realiteitsprogram wat binnekort gaan kom (sodra Millie terug is van die kliniek).
Jou dinges, dink ek dik bedinges, en sit die tydskrif terug op die rak. ‘n Mens mag nie tydskrifte deurblaai voordat jy daarvoor betaal het nie, maar ek kon nie help nie. En ek ken die winkel se baas. Eintlik moet ek ‘n keel opsit omdat daar nie ‘n waarskuwing opgeplak is nie. Soos dié op die porno-tydskrifte: “Grafiese inhoud mag sensitiewe lesers ontstel.”
As redakteurs van die meeste tydskrifte maar net mooi wou gaan nadink oor die enorme langtermynskade wat hul publikasies aan mense soos ek aanrig. Met hul belaglike en onbekostigbare raad vir ‘n “voller en brandmaer lewe”, “nuwe jy”, “só takel jy 1-2-3 die lewe ná enige verlies/pyn/skok/egskeiding/hongersnood/aflegging” en die topplekke om dié skoene, handsakke, grimering en opvoedkundige speelgoedjies te kry asook hoe om jou vyfster-droomvakansie te geniet.
Wat ‘n reusagtige bol nonsens. Hoofsaaklik geskryf deur mense wat nog nooit honger gaan slaap het nie. As hulle het, was dit om teen die naweek in die nommer 0 ontwerpersjean te kan pas, nie omdat die koskaste dolleeg was nie.
Die lewe van die deursnee enkelma gebeur sonder enige handleiding.
Elke nag lê derduisende ma’s wêreldwyd wakker met ‘n benoude hart vol vrees oor môre én die dae daarna. Luister na die girts-girts van die wolwe op die dak en voor die deur - kos op die tafel, skoolgeld, skoolklere, siekte, vervoer . . .
Ek gaan ‘n handleiding skryf. Vyf dollar se maalvleis, asseblief.
En uitvind of ‘n mens die Millies kan dagvaar vir blatante aandagsoekery en spog. Sy moet maar aanhou ‘raad’ uitdeel, maar asseblief net vir dié wat op hul eie planeet sweef.
Ek hoop sy tjip môre tien plastieknaels.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie