Vyf gesinne kry boumateriaal
Vyf gesinne kry boumateriaal

Vyf gesinne kry boumateriaal

Maria Eiseb
Maria Eiseb - Skenkers het onlangs 'n reddingsboei verskaf aan inwoners van die Havana-woonbuurt in die hoofstad wat hul huise in brande of vloede verloor het.

Mnr. Martin David, raadslid van die Moses ||Garoëb-kiesafdeling, het boumateriaal ter waarde van sowat N$13 000 aan vyf gesinne in dié woonbuurt oorhandig.

Dít danksy die Khomasstreeks­kantoor se ondersteuning.

David het tydens die oorhandiging gesê die betrokke gesinne het hul huise weens vloede of brande verloor en is dakloos gelaat. Om hierdie rede het hy die Marco Fishing Trust en mnr. Dan Nangolo se hulp ingewin om die minderbevoorregtes by te staan.

Een van die begunstigdes, mnr. Frederick Gariseb, het gesê die huis waarin hy, sy vrou en sy drie kinders gebly het, is in 'n brand verwoes.

Boonop het dit gebeur ná hy vroeër vanjaar in 'n motorongeluk ­betrokke was, sy rug beseer het en tans nie regop kan staan nie.

“Ek bewe as ek regop staan en kan nie balanseer nie. My laerug is in die ongeluk beseer,” het hy gesê.

Gariseb het gesê hy het sy kinders na hul ouma gestuur en hy en sy vrou het die afgelope tyd in die reën onder 'n boom geslaap.

“Die boom is deur 'n rukwind omgewaai en met plastiek bedek. Ons het daar geslaap, maar ek sal nou vir ons 'n huis kan bou,” het hy gesê.

Mnr. Frans Makuua het in 'n klein plastiekhuisie gebly wat Nangolo se oog gevang het toe hy dié buurt besoek het.

Nangolo sê hy het by die raadslid se kantoor aangeklop om toestemming te kry om 'n huis van sowat N$8 000 vir Makuua te bou.

“Ek het sommer ietsie langs die pad opgeslaan, maar mnr. Nangolo het my toe gehelp,” het Makuua gesê.

Nangolo het gesê mens kon in Makuua se aanvanklike woonplek nie eers regop staan nie.

David het tydens die oorhandiging 'n versoek aan die gemeenskap gerig en gesê lede van die publiek wat kan, moet haweloses help om die regering se las ligter te maak.

Mnr. Jan Scholtz, van die Marco Fishing Trust, het gesê dis hul verantwoordelikheid om in die gemeen­skap terug te ploeg sodat voorsiening gemaak kan word vir volhoubare ontwikkeling, wat met die Harambee-welvaartsplan strook.

“Ek is verheug dat die voedselbank kospakkies hier uitdeel. Dit is 'n goeie ding om dit van die kiesafdeling se kantoor af te doen,” het Scholtz gesê.

Me. Christaline Seraera het die skenkers namens die begunstigdes bedank en gesê hulle is baie bly dat hulle weer dakke oor hul koppe sal hê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!