Vyf lande vra Cyril om kapers vas te vat
Dié vyf lande is ook bekommerd oor “hindernisse” vir buitelandse beleggings.
Llewellyn Prince – ’n Diplomatieke uitval broei tussen Suid-Afrika en vyf van sy grootste internasionale handelsvennote nadat hulle regstreeks aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf het om onder meer daadwerklik teen staatskapers en korrupsie op te tree as hy buitelandse beleggings wil lok.
Die departement van internasionale verhoudinge en samewerking (Dirco) het Sondag egter namens die regering sy uiterse ontevredenheid uitgespreek omdat die plaaslike ambassades van Duitsland, die Verenigde Koninkryk, Nederland, Switserland en Amerika nie gepaste diplomatieke kanale met hul memorandum aan Ramaphosa gevolg het nie.
Die Sunday Times het Sondag onthul hoe dié vyf lande in ’n ongekende diplomatieke stap aan Ramaphosa geskryf het dat daar in Suid-Afrika “ ’n duidelike, ongekwalifiseerde en sigbare politieke verbintenis tot die oppergesag van die reg, die onafhanklikheid van die regbank en eerlike en etiese sakepraktyke moet wees”.
Dié vyf lande – wat saam sowat 75% van alle regstreekse buitelandse beleggings in Suid-Afrika uitmaak – is ook bekommerd oor “hindernisse” vir buitelandse beleggings soos die gereelde verandering van die doelstellings in die regulatoriese raamwerk vir mynwese, swart ekonomiese bemagtiging, intellektuele eiendomsregte en visumregulasies.
Die buiteland hou luidens die berig ook die Zondo-kommissie, waar getuienis van beweerde tenderkorrupsie deur Bosasa tans opslae maak, stiptelik dop en kommer heers ook dat Ramaphosa se beloftes teen korrupsie nie in hofsake opeindig nie.
Die Sunday Times het ook berig hoe die departement van korrektiewe dienste Bosasa, wat tans as African Global Operations handel dryf, ook skriftelik ingelig het van planne om dit te verbied om verder sake met die regering te doen.
Ndivhuwo Mabaya, Dirco se woordvoerder, het Sondag in die verklaring gesê ambassades is bewus dat hulle net deur Dirco met Suid-Afrika mag kommunikeer.
Volgens hom verdiep die regering egter sy pogings om sy ekonomiese verhoudings met ’n aantal lande te versterk en uit te brei en word daar aandag gegee aan beleggers se kommernisse.
Lindiwe Sisulu, minister van internasionale verhoudinge en samewerking, het haar departement ook opdrag gegee om deur amptelike diplomatieke kanale gesprekke met die betrokke ambassadeurs te voer, maar volgens Mabaya ook om aanvaarbare protokol vir die lug van sulke kwessies met hulle te benadruk.
Intussen het Alf Lees, ’n DA-LP, Sondag gesê die “grootmaat-plundering by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) deur die ANC en sy surrogate is ’n duidelike bewys dat die ANC ’n toevlugsoord vir korrupsie is”.
Volgens Lees is Ramaphosa se “kruistog” teen korrupsie daarom net ’n beeldpoetsoefening met geen ware gevolge vir oortreders nie.
Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die waarskuwing deur die vyf wêreldmagte is die sterkste aanduiding nóg dat die buiteland nie om die bos gelei word deur die mooi prentjie wat Ramaphosa aan hulle probeer voorhou nie.
“Daarenteen dui hy plaaslik openlik aan dat onteiening (van grond) sonder vergoeding ’n gegewe is en weinig gedoen word om korruptes en geweldsmisdadigers agter tralies te kry.”
Prof. Theo Neethling, hoof van die departement politieke studies en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, het gesê die feit dat die lande nie gepaste diplomatieke kanale gevolg het nie, wys hoe belangrik die aangeleentheid is.
“Die regering sal dit geweldig ernstig moet opneem. Die huidige dubbelpratery in die ANC, sowel as die grondkwessie, maak beleggers onrustig. Beleggers soek beleidsekerheid.
“As ’n eendragtige boodskap nie uitgestuur word nie, gaan ons probleme hê.”
Neethling meen Ramaphosa maak aan die een kant werk van die bekommernisse, maar word aan die ander kant belemmer deur die populistiese dubbelpratery en verdeeldheid in die ANC. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie