Vyf nuwelinge vir toetsgroep na Uruguay

Rohan Kitshoff, Leneve Damens en David Philander tel onder die opsigtelike weglatings ten gunste van jeugdige talent.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Afrigter Phil Davies het vertroue in 'n paar jong nuwelinge gewys toe die Namibiese nasionale rugbyspan gister bekend gemaak is vir die Wêreldrugby Nasiesbeker-toer volgende maand na Montevideo, Uruguay.

Die Namibiërs onder kapteinskap van die agtsteman Renaldo Bothma open hul aanslag op Saterdag 10 Junie teen Spanje.

Vier dae later is hul volgende wedstryd teen Ontluikende Italië vir wie hulle ook laas jaar geklop het, voordat hulle op Sondag 18 Junie met 'n toets teen Rusland afsluit.

Dalk die mees opspraakwekkende weglating is dié van Rohan Kitshoff.

Die veteraanflank is tans vierde op Namibië se lys van driedrukkers in toetsrugby (13 drieë in 30 toetse, waarvan 18 in die beginspan was). Net Gerhard Mans (27 drieë), Eden Meyer (21) en Chrysander Botha (19) is voor hom.

Republikein verneem dat Davies met Kitshoff en Leneve Damens ooreengekom het dat die komende toer gebruik word om te kyk hoe 'n paar van die jonger aanspraakmakers vaar met die oog op die toekoms en spesifiek die latere kwalifiserende veldtog vir die 2019 Wêreldbeker.

Kitshoff en Damens sal intussen 'n belangrike rol hê om as senior figure in die provinsiale SuperSport uitdaagreeks die fort te hou en sal weer vir Juliemaand se Afrikabeker-toetse in die prentjie kom.

Onder die losvoorspelers is die Westelike Provinsie se Christo van der Merwe en Johan Retief (tot laasjaar by die Sharks se o.20-span en nou 'n student by Pukke) die nuwelinge wat voordeel uit hierdie besluit trek.

Beide was tevore kapteins van die Namibiese o.20-span. Van der Merwe is verlede jaar in twee toetse as plaasvervanger opgestuur, terwyl Retief ook genoegsame indruk gemaak het gedurende November 2016 se nasionale oefenkamp onder leiding van Davies en sy afrigterspan.

Nóg 'n voormalige junior uitblinker, Wian Conradie (UJ), en die veteraan Pieter-Jan van Lill wat twee naweke gelede die Franse Top14-seisoen by Bayonne voltooi het, kan beide 'n belangrike rol op die toer vervul.

Renaldo Bothma is een van 18 oorblywende spelers van die 2015 Wêreldbeker-groep, wat ook op Torsten van Jaarsveld, Aranos Coetzee, Johan Deysel en Chrysander Botha as spelers met Superrugby-ondervinding kan staatmaak.



JONG LOSSKAKEL

Cliven Loubser se insluiting as die tweede losskakel ná Theuns Kotzé wys hoe hoog die belowende nommer 10 aangeskryf word.

Roger Thompson, die nasionale span se verdedigingsafrigter en ook aan die stuur van die Namibiese o.20's, is 'n voorstander dat die tyd ryp is om Loubser ondanks sy jeugdige ouderdom bloot te stel.

Loubser is tans in sy tweede o.20-jaar die nasionale junior span se kaptein. Hy was in April ook 'n nuweling by die Hongkong sewestoernooi.

“Cliven beleef 'n goeie jaar sover, insluitend vir Namibië se o.20's. Hy speel by die Sharks se rugby-akademie asook klubrugby vir College Rovers en die terugvoer wat ons kry, is dat hy baie goed op dreef is.”

Namibië se diepte op losskakel benewens Kotzé is die afgelope jare 'n bron van kommer en geen van die ontluikende aanspraakmakers kon werklik hul kleim op die hoogste vlak afsteek nie.

Die altesame vyf byvoegings wat vir hul eerste moontlike smaak van toetsrugby nader geroep word, is dus Loubser, Lesley Klim (Unam en die Welwitschias se drieëmasjien) en Justin Newman (Pukke) as onder­skeidelik vleuel en senter; asook die losvoorspeler Retief en Unam se slot Mahepisa Tjeriko.

Met die kompetisie vir plekke tussen die buite-agterspelers was daar geen plek in die toerspan vir manne soos David Philander, Conrad Marais, Divan Rossouw (Blou Bulle) of Alcino Izaaks (Boland Kavaliers) nie.

Die spelersgroep wat gister deur die NRU aangekondig is:

Stutte: Casper Viviers (Bobigny, Frankryk), AJ de Klerk (FNB Wanderers), Collen Smith (Trustco United), Johannes (Aranos) Coetzee (Toyota Cheetahs).

Hakers: Torsten van Jaarsveld (Toyota Cheetahs), Louis van der Westhuizen (Pukke), Shaun du Preez (Wanderers).

Slotte: Tjiuee Uanivi (Glasgow Warriors), Janco Venter (Maties), Ruan Ludick (Wanderers), Mahepisa Tjeriko (FNB Unam).

Losvoorspelers: Renaldo Bothma (kaptein, Vodacom Bulle), Wian Conradie (Universiteit van Johannesburg), PJ van Lill (Bayonne, Frankryk), Johan Retief (Durban Collegians), Christo van der Merwe (DHL Westelike Provinsie).

Skrumskakels: Eugene Jantjies (FNB Western Suburbs), Damian Stevens (Sharks XI).

Losskakels: Theuns Kotzé (onderkaptein, Wanderers), Cliven Loubser (Sharks rugby-akademie).

Senters: Darryl de la Harpe (Western Suburbs), JC Greyling (Wanderers), Justin Newman (Pukke), Johan Deysel (Sharks).

Vleuels en heelagters: Johann Tromp (Southern Kings), Lesley Klim (Unam), Gino Wilson (Western Suburbs), Chrysander Botha (Southern Kings).

Die nie-reisende reserwespelers is Andries Rousseau (stut, Wanderers), Gerhard Lötter (haker, Wanderers), Muniovita Kasiringua (slot, Unam), Leneve Damens (losvoorspeler, Unam), Cameron Klassen (skrumskakel, Unam), MP Pretorius (losskakel, Wanderers), Francois Wiese (senter, Wanderers) en David Philander (vleuel, heelagter).



BESTUURSPAN

Ook hier sal Phil Davies as hoofafrigter 'n klompie nuwe gesigte hê.

Danie von Solms (spanbestuurder) en Roger Thompson (hulpafrigter: verdediging) is beide reeds sedert die vorige Wêreldbekertoernooi in die nasionale struktuur en is die enigste Namibiërs, tesame met Dominic le Roux wat die spelers se fiksheid en rehabilitasie monitor.

Chris Rossouw sal as die nuwe agterlynafrigter die plek van sy broer Pieter (Slaptjips) inneem. Die oud-Springbokvleuel Pieter is glo vanjaar weens sy verpligtinge as direkteur van afrigting by Paarl Gimnasium nie vir Namibië beskikbaar nie. Chris (in sy speeldae 'n WP-losskakel) het sy tande as afrigter by Maties en die SA Universiteitespan geslyp.

Davies se mede-Wallieser Wayne Proctor, wie se pad as krag- en kondisioneringsafrigter met Namibië ook na 2014 terugdateer, is ook nie vir die toer beskikbaar nie. Dié taak word oorgeneem deur Dafydd James, nog 'n voormalige Walliese toetsvleuel (48 toetse van 1995 tot 2007) wat halfpad deur sy internasionale loopbaan ook drie toetse vir die Britse Leeus gespeel het.

Marc Beggs (fisioterapeut) is reeds by die November-oefenkamp aan die spelers bekend gestel, maar Stuart Lewis (prestasie-ontleder) is 'n nuweling.

Beide is van Wallis afkomstig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!