Vyf op kortlys vir uitvoerende hoof

Tanja Bause
Die munisipaliteit van Windhoek het vyf kandidate aangekondig wat op die kortlys is vir die pos van uitvoerende hoof.

Een-en-sestig aansoeke is ontvang waarvan 25 aan die minimum vereistes voldoen het. Vyf kandidate is uit die 25 gekies en sal op 27 en 28 September hul finale onderhoude aflê.

Die vyf kandidate is me. Joyce Mukubi, dr. Charmill Zamuee en mnre. Conrad Lutombi, dr. Eino Mvula en Moses Matyayi.

Mukubi beklee tans die pos van adjunk- uitvoerende direkteur van werke en vervoer; Zamuee is ’n navorser en entrepreneur; Lutombi, is die huidige uitvoerende hoof van die Paaieowerheid (RA); Mvula is hoof-waterverskaffings en strategiese beampte vir die sentrale besigheidseenheid van NamWater; en Matyayi is die uitvoerende hoof van die Otjiwarongo-munisipaliteit.

’n Kortlys met vyf kandidate vir die pos vir die strategiese uitvoerende beampte: ekonomiese ontwikkeling en gemeenskapsdiens is ook aangekondig. Die onderhoude vir dié pos sal op 23 en 24 September geskied. Altesaam 204 aansoeke is ontvang waarvan 59 aan die minimum vereistes voldoen het.

Hulle is mee. Mary-Anne Kahitu, Zurilea Steenkamp en mnre. Leslie Puriza, James Kalundu en Vernouman Endjala.

Altesaam 52 aansoeke is vir die pos strategiese uitvoerende beampte: inligting en kommunikasietegnologie ontvang waarvan 16 aan die vereistes voldoen het. Dié kortlys sal binnekort bekendgemaak word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer