Vyf sterf Saterdag in drie ongelukke

Francoise Steynberg
Die lewens van vyf mans is Saterdag in drie verskillende ongelukke geëis.

Die eerste ongeluk het omstreeks 00:40 sowat 17 km buite Grootfontein op die Otavi-pad plaasgevind waartydens ‘n sedanvoertuig trompop met ’n passasiersbus gebots het.

“Mnr. Joubert Aebeb (42) het op die toneel gesterf,” het insp. Maureen Mbeha, woordvoerder van die Namibiese polisie (Nampol) in die Otjozondjupastreek, aan Nampa gesê.

‘n Voorlopige polisieondersoek dui aan dat die bus met 27 insittendes vanaf Grootfontein na Otavi gereis het en met ’n aankomende rooi Toyota Corolla met ‘n Grootfontein-registrasienommer gebots het.

“Die bestuurder van die sedan het weens die impak van die ongeluk op die toneel gesterf en twee passasiers van die bus is na die Grootfontein-staatshospitaal geneem,” het Mbeha gesê.

Die polisieondersoek duur voort.

In ’n gru-ongeluk omstreeks 03:00 op die westelike verbypad onder die brug tussen die Katutura-staatshospitaal en die Windhoek Sentrale Hospitaal, het drie mans op die toneel gesterf.

Volgens Nampol het die bestuurder van die VW Polo GTI glo beheer oor die voertuig verloor, die pilaar van die brug getref en die voertuig het omgeslaan. Die drie slagoffers is die bestuurder, mnr. Francois Vernon Lottering (32), en sy twee passasiers, mnr. Carlton Körner (33) en sy broer, die 31-jarige mnr. Mark Körner.

“Die slagoffers was na bewering by die London-nagklub in die Prosperita-woonbuurt waarna glo gesien is hoe hulle met ’n sekere Audi resies jaag. Die Audi is nie op toneel gevind nie,” het die nasionale woordvoerder van Nampol, adj.komm. Kauna Shikwambi, gesê.

Die polisieondersoek duur voort.

Boodskappe van skok en medelye het op sosiale media ingestroom.

Die derde ongeluk het ook in Windhoek omstreeks 20:40 in Sam Nujomarylaan op die Daan Viljoen-pad plaasgevind.

“Die bestuurder van ’n Nissan-enkelkajuitbakkie met ’n Rundu-registrasiemerk het na bewering beheer oor die voertuig verloor waarna dit omgeslaan het,” sê Shikwambi.

“Sy liggaam is buite die voertuig gevind. Die oorledene is in die stadium nog nie geïdentifiseer nie,” het sy gister gesê.

Die polisieondersoek duur voort.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!