Vyf sterrereu00ebns in drie maande
Vyf sterrereu00ebns in drie maande

Vyf sterrereëns in drie maande

’n Skouspelagtige jaareinde wag, waartydens die jaarlikse Giacobinides-, Orionides-, Leonides-, Geminides- en Ursides-meteoorreëns gesien kan word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – ’n Ietwat buitengewone sterrereën sal vroeg in Oktober gesien kan word – ongewoon omdat dit die beste vroegaand sal vertoon, eerder as vroegoggend, soos ander meteoorreëns. Boonop sal die Nuwe Maan vanjaar ideale, donker aande skep om die Giacobinides- meteoorreën beter te kan sien.
Die ietwat kleiner sterrereën lei egter ’n skouspelagtige jaareinde in, waartydens die jaarlikse Orionides-, Leonides-, Geminides- en Ursidesmeteoorreëns vanaf Oktober tot Desember gesien kan word.
Giacobinides sal vanjaar sy piek tussen 8 en 9 Oktober bereik. Alhoewel dit kleiner as ander sterrereëns is, kan dit tot sowat tien verskietende sterre per uur bied.
Die sterrereën word deur stofdeeltjies veroorsaak wat deur komeet 21P Giacobini-Zinner agtergelaat is.
Die komeet is die eerste keer in 1900 ontdek en neem sowat 6,6 jaar om een maal om die son te wentel. Die sterrereën kom uit die rigting van die Draconis- konstellasie, hoewel dit enige plek in die naghemel kan verskyn.
LATER NOG
Die Orionides-meteoorreën volg ook later in Oktober en bereik sy piek teen 21 Oktober. Leonides kom in November, en die besonder skouspelagtige Geminides- en die kleiner Ursidesmeteoorreëns in Desember.
Die Geminides bereik sy piek tussen 13 en 14 Desember, met tot 120 verskietende sterre wat per uur gesien kan word – mits die naghemel nie bewolk is nie.
Anders as die meeste ander meteoorreëns, word die Geminides-sterrereën nie deur ’n komeet veroorsaak nie, maar wel deur ’n asteroïed – die 3200 Phaethon.
Dié asteroïed neem sowat 1,4 jaar om rondom die son te wentel.
Om die Giacobinides-meteoorreën te kan sien, moet vanaf ’n donker gebied, weg van dorpsligte, in ’n noordnoordwestelike rigting vanaf 19:00 tot 21:00 gekyk word.
PLANETE
Tans is Jupiter en Saturnus ook duidelik sigbaar in die aandhemel, met beide planete wat reeds namiddag opkom, op hul helderste skyn tussen 20:00 en 22:00 en dan weer in die vroeë oggendure ondergaan.
Venus is tans ook sigbaar, maar kom in die oggend op, skyn deur die dag en sak kort ná 22:00. Ander planete soos Mars, Neptunus en Mercurius is baie moeiliker om te sien, terwyl dit wel moontlik is om Uranus te sien.

– Bronne: www.timeanddate.com, earthsky.org
[email protected]

FOTO
Meteorreën-seisoen: ‘n Skouspelagtige jaareinde met vier sterrereëns wag. FOTO PIXABAY.COM

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer