Vyf verdiepings vol skatte
Lüderitz se museum sal na verwagting einde 2022 open, as die grootste van sy soort in Afrika.
Tanja Bause
Die maritieme museum in Diazstraat op Lüderitz, wat deel is van die tweede fase van die waterkantontwikkeling en opgradering van die ou kragstasie, sal na verwagting aan die einde van 2022 geopen word.
Die oorspronklike projek se koste is in 2011 op N$237 miljoen beraam, maar met die vertragings en die nuwe verwagte voltooiingsdatum in Desember 2022 word die projek se koste nou op N$370 miljoen beraam. Dis ’n toename van N$133 miljoen vir die algehele projek.
Die projek word gesamentlik deur die Lüderitz Waterfront Development Company (LWDC) en die regering gefinansier, met verskeie ministeries wat die grootste finansiële bydraes maak.
MUSEUM
Volgens dr. Angel Tordesillas, voorsitter van LWDC en die koördineerder van die museum, is meer as 70% van die projek reeds voltooi.
“Ons moet net nog ’n paar aspekte van die finansiering afhandel om die voltooiing moontlik te maak,” het hy gesê.
Die maritieme museum sal ná voltooiing die grootste in Afrika wees.
Die gedagte om ’n nasionale maritieme museum op Lüderitz te vestig, is sowat 20 jaar gelede met die destydse minister van visserye en mariene hulpbronne, wyle dr. Abraham Iyambo, bespreek. In 2009 het die kabinet die idee as deel van fase 2 van LWDC se waterkantontwikkeling aangeneem.
“Die museum beskik oor ’n vertoonarea van 2 500 vierkante meter wat oor vyf dekke versprei is. Daar is ook ’n pretpark buite tussen die gebou en die see. Die Welwitschia – die 39-meterlange navorsingsvaartuig wat die ministerie van visserye en mariene hulpbronne aan die museum geskenk het, lê geanker voor die museum in die water.
“’n Reusagtige kompas genaamd ‘The Rose of Winds’ sal ook in die pretpark opgerig word. Hierdie is ’n uitstalling heel op sy eie en ’n boek word tans daaroor geskryf,” het Tordesillas gesê.
Die museum is op ’n klompie beginsels gebaseer. Die hoofbegunstigdes moet die kinders van Namibië wees. Die museum moet finansieel selfonderhoudend wees en moet ’n groot rol in die bevordering van toerisme na die Suide van die land speel, veral na Lüderitz.
“Die museum moet ’n ‘kultuur van die see’ bevorder en mense opvoed oor die konsep van ‘Blou Ekonomie’ en vir die beskerming van die bio-diversiteit van ons oseaan.”
Die museum se inhoud is op drie pilare gegrond, naamlik visserye, handel en mynbou. Die geskiedenis van onder meer guano, die versameling van seewier, walvisjag, diepseemynbou, die Skedelkus en die Benguela-seestroom sal ook in die museum uitgebeeld word.
Vanaf die dak in die museum hang die geraamte van ’n walvis, wat by Jakkalsputz naby Hentiesbaai uitgespoel het.
“Ons versameling bevat talle verskillende modelle van skepe wat volgens skaal gemaak is, instrumente van navigasie, unieke skulpe, kaarte, mariene argeologiese items, kunswerke wat landskapskilderye en -afdrukke insluit, ’n gespesialiseerde museumbiblioteek en veel meer.
“Dis vir my baie moeilik om enige spesifieke items uit te sonder omdat alles ongelooflik mooi en waardevol is. Maar as ek moet, sou ek ons sterrekundige en weerinstrumente, oorspronklike skilderye, unieke seël- en muntversamelings, historiese dokumente en boeke uitsonder.”
Tordesillas sê die museum is ’n lewende argief van Namibië se verhouding met die oseaan wat reeds sedert die vroegste tye gekoppel is.
“Dit sou buite my karakter wees om my gesin se insette uit te sonder. Al wat ek kan sê, is dat die museum ’n produk van liefde vir Namibië en vir Lüderitz in besonders is.
“Die betrokkenheid van skenkermaatskappye en individue speel ’n sleutelrol in die ontwikkeling van die museum en sy inhoud, met die doel om ’n topgehalte maritieme museum in Afrika te vestig tot die (miskien oordrewe punt) om te sê: ’n besoek aan die suide van Namibië – aan Lüderitz, moet ek sê – sal nie sin maak sonder om die Nasionale Maritieme Museum te besoek nie.
“Internasionale en plaaslike besoekers vra my dikwels: Hoekom Lüderitz? en my antwoord is elke keer: Hoekom nie?” het hy gesê.
HABITATTE
Die kunstenaar Heidi Louw en die taksidermis Van Rooyen Strydom het op die eerste verdieping kragte saamgespan om die natuur, diere en omgewing van Lüderitz in drie verskillende habitatuitstallings lewe te gee.
Die eerste uitstalling wys die bekende ligtoring by Diazpunt, die kus en die woestyn. Daar is ’n strandwolf, robbe en flaminke te sien.
Strydom sê: “’n Jakkals is al wat die uitstalling nog kort. Die habitatte moet so getrou aan die waarheid as moontlik wees en dus het ek uitgery Diazpunt toe en sand, skulpgruis, dryfhout en plante gaan haal sodat die toneel soos die werklike omgewing van die ligtoring lyk.”
Die tweede uitstalling wys Halifax-eiland, een van die talle eilande langs die kus. Dit vertoon die Afrika-pikkewyne wat op Halifax voorkom, asook die kreefbedryf in die gestalte van ’n gedeelte van ’n kreefboot, asook nette wat gebruik word om kreef te vang. Van die voëllewe in die uitstalling sluit in seemeeue, ’n pelikaan, seeswaeltjie, ’n bassiaan en ’n reusepetrel.
Die derde habitat wys die seevoëlspesies wat verder uit op see voorkom en op eilande soos Mercury woon, soos malgasse en albatrosse. Dié uitstalling het ook ’n seeskilpad.
Van Rooyen het sowat vier jaar gelede in Windhoek die voëls en diere vir die museum begin opstop.
“Ek het die diere by die ministerie van visserye en mariene hulpbronne gekry. Ons het nie ’n enkele dier of voël doodgemaak nie. Soos hulle opgetel word, is hulle na my toe gestuur.”
Van baie van die voëlsoorte het hy nog net gehoor, maar nog nooit gesien nie, sê hy. “Dis wat die uitstalling so besonders maak.
“Besoekers kan hier regte diere en voëls sien wat hulle nie normaalweg op die strand sou aantref nie. Soos die seeswaeltjies. Hulle bly oor die oopsee en wanneer hulle doodgaan, val hulle in die water en is verlore. Ek het een gekry wat ek opgestop het en dis baie besonders.”
GESKIEDENIS
Die ou kragstasie is in 1911 gebou om hoofsaaklik krag aan Kolmanskop en Elizabeth Bay gedurende die diamantstormloop te voorsien.
Met onafhanklikwording in 1990 het die gebou aan die Lüderitz-dorpsraad behoort, wat geen nut daarvoor gehad het nie en dit aan LWDC geskenk het. In 2013 het LWDC met die herontwikkeling van die kragstasie en die ontwikkeling van die waterkant begin.
Argitektonies het die gebou, wat in die Instituut van Argitekte se register vir historiese geboue opgeneem is, ’n interessante uitdaging gebied. Die oorspronklike karakter van die gebou moes behou word en gevolglik is besluit om ’n nuwe gebou binne-in die ou gebou te bou.
In dié proses is ’n lugsak tussen die nuwe en die ou gebou geskep. Die buitenste vel isoleer die nuwe binnegebou teen hitte, wind, koue, stof en geraas, en die lugsak, wat van oos na wes geskuif word na gelang van hittelading, sorg vir ’n deurlopende gemaklike klimaat rondom die nuwe binnegebou. Op dié wyse verminder die behoefte aan lugversorging in die hele gebou, word aansienlike koste bespaar en word ’n volhoubare oplossing vir die ontwikkeling gebied.
Aanvanklik sou die konstruksie van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) se Lüderitz-kampus, die veeldoelige binnenshuise en buitelugsportsentrum asook die museum in 2019 voltooi wees, maar ’n gebrek aan finansiering het die projek keer op keer gestuit en vertraag.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie