Vyfde trein in 7 maande ontspoor
Vyfde trein in 7 maande ontspoor

Vyfde trein in 7 maande ontspoor

Meer as 60 jaar se metaalvermoeiing veroorsaak voortdurende breuke op die spoorlyn tussen Kranzberg en Tsumeb, sê ’n kontrakteur.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Metaalvermoeiing weens jarelange molekulêre druk binne spoorstawe wat meer as 60 jaar gelede gelê is, was waarskynlik die rede waarom ’n trein Sondagaand naby Platveld ontspoor het.

Die trein met 18 waens vol swaelsuur het kort voor tienuur sowat 70 km noord van Otjiwarongo naby die B2Gold-goudmyn ontspoor. Niemand is beseer nie.

Dit is die vyfde trein wat binne die bestek van sewe maande in Namibië ontspoor.

Twee groot hyskrane was gister besig om die toneel op te ruim. Van die 18 ontspoorde waens, het sewe omgeslaan en uit twee van die tenkwaens het swaelsuur gelek. Dit is ’n baie sterk toksiese minerale bytsuur.

Me. Abigail Raubenheimer, bestuurder van korporatiewe kommunikasie by TransNamib, sê die verspilling was nie erg nie.

“Ons het saam met die kliënt gewerk om die suur te neutraliseer,” het sy gister by navraag gesê.

Swaelsuur word onder meer in metallurgiese prosesse in myne gebruik.

Mnr. Leon Steyn, projekbestuurder van D&M Rail Construction, sê ’n breuk in die spoorstaaf het tot die ontsporing gelei.

Steyn sê hy werk al tien jaar op die spoorlyn tussen Kranzberg en Tsumeb. Dit beslaan 394 km. Aanvanklik is die spoorlyn opgeknap en nou word opgegraderings gedoen op die plekke wat TransNamib as ’n probleem uitgewys het.

“Ek hou statistiek vanaf Januarie 2014 van al die breuke in stawe en het tot nou 896 opgeteken. Maandag het ons 3 kilometer buite Otjiwarongo ook ’n gebreekte staaf reggemaak,” sê hy.

Volgens hom word die spoorlyn gereeld gepatrolleer en ultrasoniese skandering word ingespan om die swak plekke te vind. Dié gedeeltes word dan uitgesny en vervang.

“Ons werk tussen treine en dit geskied dus stadig. Ons doen ongeveer 4 km per maand.”

Hy sê hulle doen die opgradering wanneer daar geld vanaf die regering beskikbaar is.

“Net die 40 km tussen Tsumeb en Ohorongo is met nuwe spoorstawe vervang, waarvan die sterkte 48 kg per meter pleks van die 30 kg per meter van die bestaande spoorlyn is.” Steyn sê dit is die standaard wat vir spoorvervoer in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) voorgeskryf word.

Hy sê die spoorstawe is nog dieselfde wat meer as 60 jaar gelede gelê is toe die smalspoor met die huidige spoorlyn vervang is.

Die metaal was oor die jare aan geweldige vragimpak blootgestel. Dít, saam met die inkrimping en uitsetting weens temperatuurskommelings, het tot erge metaalvermoeiing gelei, sê hy.

VORIGE ONTSPORINGS

In die voorafgaande sewe maande het vier ontsporings in die land plaasgevind. In Desember 2020 het ’n trein tussen Tses en Asab in die Suide ontspoor. Een lokomotief, drie passasierswaens en een goederewa is beskadig. Dertien mense is in die ongeluk beseer.

Op 16 Maart het ’n trein op Swakopmund ontspoor en een mens is dood. Vier lokomotiewe en 25 goederewaens het ontspoor en is beskadig.

Op 25 Mei het nege petrolwaens net noord van Windhoek ontspoor en aan die brand geslaan.

Tien dae later het ’n lokomotief en vier goederewaens by die Kranzbergstasie naby Usakos ontspoor.

Dit beteken dat in die laaste sewe maande het ses lokomotiewe en 60 waens ontspoor.

Metaalvermoeiing en breuke was nie vir enige van die vorige vier ontsporing verantwoordelik nie.

Op ’n vraag oor hoeveel al dié skade beloop, het Raubenheimer geantwoord: “Ons is ongelukkig nog in die proses om die eise vir hierdie insidente te finaliseer en kan daarom nie in hierdie stadium enige finansiële inligting bekend maak nie.”

’n Kundige in spoorvervoer vir wie Republikein geraadpleeg het, sê lokomotiewe kos ongeveer N$60 miljoen om te vervang en die skade aan die waens kan N$1 miljoen of meer wees, afhangend wat die waarde van die vrag was wat dit vervoer het.
[email protected]

foto
Die verwoestingstoneel waar die trein ontspoor het. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!