Vyftien sinkhuise in Mondesa vernietig
Misdaadredaksie
Die winter en die gepaardgaande behoefte aan hitte het die afgelope week nie net 'n lewe geëis nie, maar ook talle mense dakloos gelaat nadat hulle huise deur vlamme in puin gelê is.
'n Ses maande oue baba het Vrydag omstreeks 11:50 in haar ma se sinkhuis doodgebrand. Na bewering het onwettige elektriese bedrading die brand veroorsaak. Die voorval het in die Uukango Park- informele nedersetting op Eenhana plaasgevind.
'n 24-jarige man het glo Vrydag tussen 17:00 en 18:00 op Rooibank in die Walvisbaai-distrik sy ma se sinkhuis aan die brand gesteek. Die huis en die inhoud ter waarde van N$5 000 is in die vlamme vernietig. Na bewering het die man gedreig om sy 53-jarige ma te vermoor. Hy is in hegtenis geneem.
'n Brand het Vrydag tussen 11:30 en 12:00 in 'n sinkhuis in die agterplaas van 'n huis in Mondesa in Robbie Savagestraat uitgebreek. Die brand het glo na twee aangrensende huise en sinkhuise versprei. Altesaam 12 sinkhuise en twee huise het afgebrand. Die derde huis is gedeeltelik beskadig. 'n Sterk wind op Swakopmund het die vlamme aangevuur. Die oorsaak van die brand, asook die waarde van die skade, is nog nie bekend nie.
'n Brand het Saterdag tussen 19:00 en 19:30 ook in 'n sinkhuis in 'n agterplaas van 'n huis in Ongulumbashestraat in Mondesa uitgebreek. Drie sinkhuise en die inhoud is vernietig en deel van die hoofhuis het afgebrand. Die oorsaak van die brand, asook die waarde van die skade, is nog nie bekend nie.
'n Verdagte wat tans op borgtog vir verkragting is, is Saterdag weer in hegtenis geneem nadat hy 'n 22-jarige vrou op Mariental verkrag het.
Die voorval het tussen 18:00 en 19:00 by die Nampower-stasie in die Ombili-nedersetting plaasgevind. Die vrou was op pad huis toe, toe die 39-jarige verdagte haar verkrag het.
'n Verhoorafwagtende gevangene wat in die Okongo-polisiekantoor aangehou is, het Sondag om 17:00 glo siek geword. Hy is na die staatshospitaal op Okongo geneem waar hy dood verklaar is. Die verdagte is op 18 Februarie op Okongo op aanklag van verkragting in hegtenis geneem. Hy het in die hof verskyn en het N$1 000 borgtog verkry. Hy kon dit egter nie betaal nie en het in aanhouding gebly. Sy naasbestaandes is nog nie van sy dood in kennis gestel nie.
Moord
'n 22-jarige Angolese man het Vrydag om 20:45 glo vir mnr. Sakaria Itonywa (40) met 'n mes doodgesteek.
Die voorval het in die Okadhiya Koshumba-nedersetting plaasgevind. Die verdagte en die oorledene het in dieselfde huis gewoon. Die verdagte is in hegtenis geneem.
Mnr. Josef Isaak (42) is Saterdag om 17:30 op die plaas Koichas in die Tses-distrik glo deur sy neef met 'n mes doodgesteek. Hy is op die toneel dood en die 60-jarige verdagte is in hegtenis geneem. Die rede vir die moord is onbekend en die polisieondersoek duur voort.
Mnr. Ndakomani Nghidamusha het op die toneel gesterf nadat hy glo deur 'n 37-jarige man met 'n pistool geskiet is. Die voorval het in Oshitambi Shanehale- informele nedersetting in Okuryangava plaasgevind. Die oorsaak van die voorval is nie bekend nie en die polisieondersoek duur voort.
Poging tot moord
Na bewering het 'n soldaat wat van diens af was Vrydag op 21:00 in Omukarustraat in Freedom Square in Katutura 'n 30-jarige man in sy linker voet geskiet. Die 55-jarige verdagte het sy eie pistool gebruik. Die slagoffer is glo familie van die verdagte se meisie. Die verdagte het glo mense sien drink en 'n skoot afgevuur wat die slagoffer getref het.
Roof en diefstal
Drie mans het Vrydag om 17:00 glo 'n man tussen die Ehangano- en Soweto-informele nedersettings op Outjo aangeval. Hulle het sy sak met items ter waarde van N$7 440 gegryp. Die slagoffer is 'n informele straatverkoper. Een van die verdagtes wou hom met 'n mes steek. Die slagoffer het egter 'n pistool by hom gehad en die man in die been geskiet. Die verdagte is na die hospitaal geneem. Die ondersoek duur voort.
'n Onbekende aantal verdagtes het Saterdag by die kantoor van die ministerie van sport, jeug en nasionale diens in Khorixas ingebreek. Hulle het N$2 200 in kontant en skoonmaakmiddels ter waarde van N$300 gesteel.
Drie mans is Vrydag om 16:00 by Plot-1 Hardap op Mariental in hegtenis geneem nadat hulle glo een bok gesteel en geslag het. Die bok se waarde is N$2 500. Hulle is onderskeidelik 17, 25 en 32 jaar oud.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie