Waar is my babas?
Yolanda Nel
Die horlosie sê dis na middernag. Ek probeer vinnig tik. Ek weet daar is nie môreoggend tyd om te skryf nie.
Net na 2 is die jongste wakker.
“Mamma, kom,” sê die stemmetjie. Hoekom praat hy al? Hy klim ook al uit sy kot. Dan sluip hy in die gang rond en volg die liggie van die rekenaar tot by my.
Hy sny tande. Al weer. Ses weke vandat die tandvleis begin swel tot die tand uiteindelik uitkom. In daardie tyd sukkel ons met koors, vreeslike doeke, baie trane, dinosourus-medisyne en net iemand wat nie lekker voel nie.
“Mond eina,” babbel hy en kom staan tussen my bene sodat ek sy rug kan krap. Dan giggel hy. Ek gee nog bietjie pynstroop. Die trane hou ’n bietjie op.
Klein en fyn, hierdie jongste van my, maar beslis nie meer die prem-baba wat hulle 18 maande terug vir my gegee het nie. Ek sê prem, want hy was ’n maand te vroeg. Maar hy was steeds ’n stewige 3 kg met geboorte.
Hy was stokstyf. Hy het sy arms en bene min gebuig. Om klere aan te trek, was ’n stryd. Dit het gevoel asof hy gaan breek.
Klein in vergelyking met sy ouboet, wat die 4 kg amper-amper gehaal het met geboorte. Dié bulletjie is al gepotty train.
Teen 3 uur is hy ook wakker. Ons kyk Coco Melon en Fireman Sam. Die mammas sal weet. Ek lê op die bank met my oë toe en hoop dit tel as slaap.
Waar is my babas? Met die klein handjies en voetjies. Die middae wat ons saam omgeslaap het, want die skottelgoed en wasgoed kan wag.
Dit kan nie meer wag nie. Daar is nie meer middagslapies saam met die kroos nie. Niemand “oooh” en “aaah” meer oor die engelgesiggies wat doodrustig in die pram slaap nie, want dit gebeur nie meer nie. Nou hardloop ek agter al twee aan in ’n winkelsentrum en is gewoonlik net-net betyds, want ek is ook nie meer so fiks soos ek was nie.
My babas is weg. Dis hartseer en wonderlik. Ek verlang na daai klein lyfies. Maar daar is iets beters. Daar is armpies wat sommer net om jou nek gegooi word. Daar is ’n “lief jou mamma” net voor hulle vanaand aan die slaap raak. Daar is lukrake drukkies deur die dag en ons skatterlag oor ons eie lawwigheid.
Dis half 5 toe hulle weer moeg genoeg is om te gaan slaap. Ek oorweeg dit om verder te tik, maar die oudste sê vakerig: “Mamma by jou lê.”
Ek prop al twee in my bed en laat toe dat hulle vir die volgende 90 minute in my arms lê, want hulle pas gelukkig nog daar.
My babas is weg, maar die peuters sorg vir groot vermaak. Dis waar wat hulle sê, die aande is lank en alleen met ’n baba, maar die jare is kort.
Mammas, hou julle oë oop want in ’n oogwink is dit verby. Binnekort gaan hierdie peuters ook nie meer in die vroegoggendure saam met jou televisie kyk nie. Hulle gaan nie meer in jou skoot of in jou arms pas nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie