Waar jou huis is
Waar jou huis is

Waar jou huis is

Mandy Rittmann
DIRK VAN ZYL SKRYF:

Ek wil nie in hierdie dorp dood nie, wat nog te sê lewe. Kyk hoe lyk dit. Dis ’n gevrekte plek, ek wonder of hier ’n hotel is, en ’n dansplek?

As jy hier ’n biedjie oplewing soek, moet jy seker die begrafplaas besoek. Hierdie is ’n ouetehuis, met ’n klomp suurstofdiewe.

Hier is net grondpaaie waar jy kyk, geen verkeersligte nie, hier en daar is ’n straatlig. Hier is net een bank. Die dorp is seker die begraafplaas, en die inwoners die lyke. As ek hier moet sterf, vat ek my kis en loop na ’n ander plek toe, ek lê nie tussen lewende lyke nie. Die voordeel is, as jy hier dood, sal jy hemel toe gaan, want hierdie dorp is die hel.

Ek sien geen swembad, gholf- of tennisbaan nie. Ek wonder of hier ’n fliek is, want net hier en daar is ’n televisie?

Slaan my dood, hier bly ek nie. Kom ons ry. Die plek gee my kriewelinge, dis ’n spookdorp wat doodgebore is!

• • •

Hierdie ou dorpie is vir my die hemel vanself. Ek is baie gelukkig hier, dis ’n baie mooi ou plekkie, ’n mooi omgewing wat God geskep het en nie oorlaai het met alle wêreldsgoed wat ons vervreem van mekaar en ons weglei van die godsdienstige lewe nie.

Hier is ’n hotel, maar dis meer vir akkommodasie. Nooit is hier ’n geraas, gevloek of bakleiery nie. Jy sien nie mense wat hulle vergryp aan drank of verdowingsmiddels nie, want die een hou die ander se hand en help mekaar om op die regte pad te bly.

As iemand hier sterf, dan voel almal die verlies, want dis soos een familie. Die mense is die blomme van hierdie tuin.

As dit reën, dan is daar die geur van die reën en grond wat ’n blymoedige gevoel in elkeen ontketen.

Die strate is nie geteer nie, en hou ons in die gedagte van veiligheid, deurdat mense besef om nie te jaag nie. Dis gevaarlik en laat stof opwaai.

Die winkeltjie is duur, maar help ons om te bekom wat ons benodig. Ons het nie almal vervoer om ons benodigdhede te gaan haal op ander plekke nie, en ons kan dit nie gaan haal teen die prys waarteen ons dit hier koop nie.

Hier is ’n dokter wat nie buitensporig duur is nie, en almal is tevrede, ook met die kerkleiers. Die een het tyd vir die ander, en ondersteun mekaar waar nodig.

Ons slaap nog rustig, want hier is nie 'n deurnag rumoer soos in groter plekke nie. Diefstal is weinig – mense kyk uit vir mekaar.

Ons inwonerstal is klein, ons hou die dorp skoon, en die skooltjie wat hier is, help met alles wat nodig is.

As ek op ’n hoogte staan en ons dorpie besigtig in die aand, dan merk ek die betowerende skoonheid. Dis asof die stilte jou verstand meer vatbaar maak, en jy is meer opmerksaam.

Ek sien die gekleurde ligte, wat afwissel met die gewone ligte. Die groot en skerp ligte help om die kleur op te tower, en ’n sprokiesdorp verskyn voor jou oë. Dit prikkel die gees van die kind in almal.

Dis so stil dat die nagdiere gehoor kan word. Hier is geen geloei van sirenes of geraas van fabrieke en voertuie nie. Op donker nagte vertoon die dorpie soos swart fluweel met diamante daaroor gestrooi.

As ek hier sterf, sal my gedagtes wees dat ek gebly het in ’n dorpie wat my aan Betlehem laat dink. Die klein, stil dorpie; met ’n eenvoudige stal.

• • •

Dis altyd die buitestanders wat verkeerd oordeel, want hulle is nie deel nie, en verstaan nie.

Dankie dat ek tevrede is met die klein wat U my gegee het, want waar jou huis is, is jou hart.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer