‘Waar ’n kind sterf, kry die aarde seer’
Windhoek Gimnasium het afskeid geneem van die twee graad 7’s wat tydens die skooltoertragedie gesterf het.
Ronelle Rademeyer - “Ons lewe kan in een sin beskryf word: Dit het nie verloop soos ons beplan het nie.”
Só het Mienke Collard, hoofmeisie van Windhoek Gimnasium se laerskool, gister gesê toe dié skool en ouergemeenskap in ’n stampvol skoolsaal van Angela Maiba (13) en Jacques Venter (13) afskeid geneem het.
Hulle is op 25 Augustus dood toe die toerbus waarin hulle saam met 53 ander klasmaats na die Oranjerivier vir die jaarlikse graad 7-toer op pad was, by Mariental gerol het. Negentien van die kinders is beseer.
Mienke het saam met die hoofseun, Pombili Hauwanga, vertroostende aanhalings voorgelees waarná vriende van Jacques en Angela om die beurt huldeblyke gelewer het.
Brett Geyser het gesê sy beste herinneringe aan Jacques is van hoe hulle saam buite in die modder of met hul army-mannetjies gespeel het.
“Ek is bly ek kon daardie oggend op die bus my chocolates en brötchen met jou deel. Tjom, ek gaan jou mis,” het hy gesê.
Neels van der Walt het bewoë vertel Jacques “was dalk nie die sterkste of die vinnigste nie, maar hy was verseker die mens met die grootste hart”.
“Niemand sal daardie breë glimlag en blink oë ooit vergeet nie.”
Oor Angela het Wilhelmina Ingo gesê “sy was ’n onvergeetbare engel wat altyd geglimlag het en ’n hart van goud gehad het”.
“Sy het ons geïnspireer en mense ten goede verander,” het Wilhelmina gesê.
Die skoolhoof, mnr. Danie Theunissen, het die skool se besturende direkteur, me. Colette Rieckert, daarná gevra om teddiebere as simbool van troos aan Jacques en Angela se families te oorhandig.
Sy het ook geraamde gedigte namens die skool vir die families gegee. Die eerste strofe van die gedig aan Angela se ouers, brig.genl. Freddy en me. Emilie Maiba, lui: “When God calls little children/to dwell with him above/We mortals sometimes question/the wisdom of his love. . .”
Die gedig wat die skool as herinnering aan Jacques se pa en stiefma, mnr. Jaco en me. Liesel Venter, gegee het, is uit die pen van Johann de Lange: “Waar ’n kind sterf kry die aarde seer/die lug koes/die riviere raak stil/die see krimp terug/die bome hang swart doele uit die middaguur/die horison raak onseker/die berge word oornag oud met grys skouers/die klippe lê dit in hulle geheue vas/en die son val gesond in sy skaduwee.”
In sy troosboodskap het past. Rias Oberholster vertel hoe hy self ook 15 jaar gelede as leerling van ’n skool op Keetmanshoop in ’n skoolbusongeluk beseer is.
“Daar sal altyd die slegte, aaklige goed wees . . . Goed wat ons nie verstaan nie en waarop ons nie antwoorde het nie. Maar God sê ek sal jou hand vashou en jou ’n drukkie gee wanneer jy my nodig het,” het hy aan die leerlinge gesê.
“Die wonde genees en die letsels verdwyn. Ek het nie 15 jaar gelede geweet ek sal vandag hier staan en met julle praat nie. Maar julle sal sien hoe God julle en die nasie hierdeur sal verander.”
’n Diep bewoë Rieckert het die gebeure van die noodlottige Sondag beskryf en gesê dit het gevoel of die wêreld om haar uitmekaarval.
“By die hospitaal het dit soos tonele uit ’n oorlogsfliek gelyk.”
Sy sê sy het besef God het ’n plan met die gebeure gehad en dat die leerlinge hierdeur gevorm word om beter mense, beter landsgenote en beter kinders van God te wees.
“Ek is trots op die karaktergroei wat ek in ons kinders gesien het,” het Rieckert gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie