Waarom ons by mekaar verby praat oor Venezuela
Waarom ons by mekaar verby praat oor Venezuela

Waarom ons by mekaar verby praat oor Venezuela

’n Radikale uiteenlopende vertolking van wêreldnuus is een van die belangrikste redes waarom Suid-Afrikaners verskil oor gebeure in Venezuela en die DRK, skryf Liesl Louw-Vaudran.
Liesl Louw-Vaudran

Ek beland toevallig nou die dag op ’n vliegtuig langs ’n amptenaar van die departement van internasionale betrekkinge. Terwyl ons gesels, besef ek daar is ’n kloof tussen ons. Die kloof is ’n radikaal uiteenlopende vertolking van wêreldnuus – en oor wat ons onderskeidelik as fopnuus beskou.

Suid-Afrika se blindelingse ondersteuning van Venezuela se gediskrediteerde leier, Nicolás Maduro, is maar net een voorbeeld van ons onderskeie misverstande oor internasionale verhoudinge.

Die feit dat ons doelbewus anderpad gekyk het tydens die kullery met verkiesings in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) – deur die hoof van die Katolieke Kerk in daardie land beskryf as ’n “monumentale leuen” – is ’n ander.

Suid-Afrika se aktivisme rakende Wes-Sahara, ’n belangrike saak, maar van veel minder belang vir ons as plekke soos Zimbabwe of Mosambiek, is ook op die lysie van Suid-Afrikaanse standpunte oor internasionale sake wat dikwels vir my duister is.

Die ironie is dat baie ander Afrikane elders op die vasteland ook so dink. Hulle is dikwels verward oor Suid-Afrika se besluite.

’n Deel van die verduideliking gaan inderdaad oor fopnuus. Is dit waar dat die meeste mense in Venezuela eintlik baie gelukkig is en mal oor hul president is? Daar was tog die laaste paar maande groot optogte in die strate van Caracas teen die inmenging van Amerika in die olieryke Suid-Amerikaanse staat?

Ek ontvang gereeld video’s daarvan op WhatsApp van ’n ander amptenaar by die departement.

Is dit die waarheid of verdraaide feite?

WANTROUE TEENOOR WESTE

Hoe dit ook al sy, ’n mens moet rekening hou met die diep wantroue onder baie van ons amptenare in Westerse nuusnetwerke soos CNN en die BBC.

Suid-Afrika se stemmery ten gunste van Venezuela in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, waar ons nou vir twee jaar dien, is deels gemotiveer deur hierdie alternatiewe lees van die nuus.

Dit is ook deels weens ’n diep geskiedkundige anti-Amerikaanse sentiment en die gevolg van ’n realpolitik wat vra dat ons in alle gevalle vir China en Rusland, ons Brics-bondgenote, moet steun.

Ons besluite rondom die DRK volg dieselfde patroon.

Die Katolieke Kerk, wat in die verkiesings as arbiter opgetree het en tot die slotsom gekom het dat die uitslae ’n groot kullery was, word deur sommige van Suid-Afrika se amptenare gewantrou. Die Kerk word daarvan verdink dat hy deur Westerse belangegroepe gefinansier is om die opposisie te ondersteun en dat hy dus geensins neutraal gebly het nie.

Daar was wel berigte dat The Carter Centre in Amerika die Katolieke Kerk se 40 000 waarnemers in die DRK-verkiesings van satellietfone voorsien het. Dit was om seker te maak hulle kan hul inligting deurbel na Kinshasa in ’n land sonder landlyne en waar die regering gereeld die internet afsny.

Tog is daar geen bewyse dat die Katolieke Kerk doelbewus een kandidaat bo ’n ander verkies het nie. Die uiteindelike wenner, Felix Tshisekedi, was immers ’n teenstander totdat hy kort voor die verkiesing ’n geheime ooreenkoms met die uittredende president, Joseph Kabila, gesluit het.

Amptenare sê die berigte oor die ooreenkoms is fopnuus, deur Voice of America en Radio France Internationale (RFI) uit hul duime gesuig.

So wie is ons om te stry?

KOM ONS BOU DAARDIE BRUG

Boonop het die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) die uitslae van die DRK-verkiesing goedgepraat. Kritiek teen Tshisekedi en Kabila van die Europese Unie (EU) en Frankryk het eenvoudig hierdie mening versterk.

“Ons verstaan nie hoekom Suid-Afrikaners teen ons gedraai het nie? Hulle weet wat dit is om te veg vir geregtigheid,” vra die eintlike wenner, volgens die waarnemers, Martin Fayulu, onlangs op die einste RFI.

Ek wil hom antwoord dat dit eintlik baie ingewikkelder as dit is.

Julle daar in Franssprekende midde-Afrika verstaan nie die diepgewortelde solidariteit van voormalige bevrydingsbewegings in Suider-Afrika nie. Julle verstaan ook nie hierdie diep anti-Westerse sentiment van mense wat maar ’n kwarteeu gelede eers uit apartheid en kolonialisme bevry is nie.

Dieselfde anti-koloniale deuntjie is ter sprake oor Wes-Sahara, vir wie die SADC onlangs ’n groot konferensie in Pretoria gereël het. Marokko verstaan egter ook nie Suid-Afrika se oordrewe aktivisme oor ’n streek so ver van ons af nie.

Oudpres. Thabo Mbeki het op ’n tyd gesê Suid-Afrika kan ’n brug bou tussen die Weste en Afrika. Nou laat ons maar daai brug bou en mekaar beter probeer verstaan.

Selfs al kos dit meer as een lang internasionale vlug.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies. Menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!