Waarom Ponzi’s en piramides áltyd faal

Jo-Mare Duddy Booysen
Of dit nou ’n Ponzi- of ’n piramideskema is, kan wiskundig bewys word dat dié soort skemas uiteindelik in duie sal stort en beleggers met leë hande sal laat.
Dié soort skemas is baie dieselfde. Albei maak op bydraes van nuwe beleggers staat om aan huidige beleggers die beloofde opbrengste te kan betaal.
Dié opbrengste is ­gewoonlik geheel en al onrealisties en veel hoër as die opbrengste wat op wettige spaar- en beleggingsprodukte verdien kan word.
Beleggers in ’n piramideskema is dikwels bewus dat nuwe lede gewerf moet word om die invloei van geld te verseker. (Dit is nietemin onwettige skemas.)
Beleggers in ’n Ponzi-skema word wysgemaak dat die skema legitieme beleggings doen, terwyl hul geld in werklikheid gebruik word om die stigters te verryk eerder as vir enige wettige sakedoeleindes.
“Daar kan met absolute sekerheid gesê word dat dié skemas op die ou end sal vou en duisende mense in ’n finansiële verknorsing laat, terwyl net die stigters en enkele vroeë deelnemers aansienlike winste maak,” sê McDougall.
“Dit kan aan twee redes toegeskryf word. In die eerste plek, as ’n skema meer uitbetaal as wat hy inkry, sal sy geld opraak.
“In die tweede plek moet sulke skemas voortdurend nuwe lede bykry om betalings aan bestaande lede te kan volhou, en die werklikheid is dat nuwe beleggers uiteindelik gaan opdroog,” verduidelik hy.
“Die enigste onsekerheid is wanneer die skema gaan vou, en dit sal afhang van hoe vinnig die skema groei en hoeveel hoër die verklaarde opbrengs is as die werklike beleggingsopbrengs op die geld.”
Ter illustrasie gebruik McDougall die eenvoudige voorbeeld van ’n skema wat met 100 lede begin wat elk R1 000 belê met ’n beloofde opbrengs van 30% per maand.
Elke maand sluit 100 nuwe lede by die skema aan en elkeen belê dieselfde bedrag totdat die skema in duie stort.
Lede ontvang hul eerste betaling die maand nadat hulle belê het.
In die voorbeeld begin die skema met 100 lede en dus R100 000. In die tweede maand is daar 200 lede en die skma staan op R170 000 nadat dividende van R30 000 aan die stigterslede uitbetaal is.
Tot in die sewende maand styg die totale dividendbetalings elke maand skerp namate al hoe meer lede bykom. In die sewende maand begin die skema met R70 000 en hy ontvang nog R100 000 van nuwe lede. Die totale dividendbetalings aan sy talle lede staan egter nou op R210 000, wat dit met skuld van R40 000 laat.
In plaas van R300 kry elke belegger nou net R243 en die skema stort in duie.
“Met vinniger ledegroei of kleiner uitbetalings sal die skema langer aanhou, maar die uiteinde sal dieselfde wees,” merk McDougall op.
Aangesien piramideskemas nuwe lede nodig het om te oorleef, moet jy daarteen waak om jou nie te laat verblind deur stories van hoë opbrengste van mense wat reeds in die skema is nie.
“Teen die tyd dat jy by die skema aansluit, hou jy in werklikheid dalk net die skema staande om die vroeë aansluiters ten koste van jouself te bevoordeel.
“Jy en ander nuwe beleggers kry dalk nooit jul aanvanklike kapitaal terug nie, laat staan nog ’n ­opbrengs op jul belegging.”
McDougall gebruik dieselfde voorbeeld as hierbo om die verskil in opbrengs tussen vroeë aansluiters en laat aansluiters in ’n piramideskema aan te toon.
As jy aan die begin by die skema met ’n belegging van R1 000 aangesluit het, sou jy teen die sewende maand, wanneer die skema in duie stort, ’n opbrengs van altesaam R2 043 verdien het, wat ’n ongelooflike 22% rente per maand is.- Netwerk24
Die artikel is namens die Aktuariële Genoot­skap van Suid-Afrika uitgereik.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!