Waarskuwing: La Niña kom
Die seeoppervlak van die tropiese Stille Oseaan hou aan om af te koel, terwyl die SOI ook steeds La Niña-vlakke handhaaf.
Elvira Hattingh
Die Australiese Buro vir Meteorologie het vandeesweek sy Enso-uitkykstatus na 'n La Niña-waarskuwing verander. Die weerdiens sê die kans het nou verdriedubbel dat dié weerverskynsel vanjaar sal posvat.
Dit omdat die tropiese Stille Oseaan se waters aanhou afkoel en al meer weermodelle voorspel dat La Niña-toestande tydens die somer sal voortduur.
“Histories, wanneer kriteria bereik is vir 'n La Niña-waak, het dié weerstoestand 70% van die keer ontwikkel,” het die buro in sy jongste vooruitskouing Dinsdag gesê.
“Die meeste oseaniese en atmosferiese Enso-aanwysers is steeds in die neutrale vlakke, maar sommige het nou na La Niña-tipe waardes verander. Seeoppervlaktemperature in die sentrale en tropiese Stille Oseaan is neutraal, maar het oor die afgelope drie maande afgekoel en word ondersteun deur water onder die oppervlakte wat ook koeler as normaal is,” het die buro gesê.
Enso staan vir El Niño- Suidelike Ossillasieklimaatspatroon.
Ander atmosferiese aanwysers, soos die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI) nader La Niña-vlakke. Ses van die sewe internasionale klimaatmodelle voorspel weerstoestande behoort teen November La Niña-vlakke te bereik, sê die buro.
Die SOI is 'n maatstaf van die verband tussen seeoppervlaktemperature en oorhoofse weerstelsels.
INDIESE OSEAAN
Die Indiese Oseaan-dipool (IOD) is steeds in 'n swak negatiewe fase en behoort neutrale vlakke láát lente te bereik. 'n Negatiewe IOD verhoog ook die kanse op beter reën in Suider-Afrika, terwyl 'n neutrale fase bykans geen invloed het nie.
Die konsultant-landbouweerkundige, mnr. Johan van den Berg, het vroeër vandeesmaand gesê al handhaaf die IOD voorts 'n neutrale fase, sal dit steeds 'n positiewe rol vertolk in terme van somerreën oor Suider-Afrika.
Van den Berg het in sy jongste weervooruitskouing gesê die waarskynlikheid dat 'n La Niña sy verskyning vanaf Oktober vanjaar tot in Maart 2021 gaan maak, het tot omtrent 80% verhoog.
Hy het vantevore aan die koerant gesê 'n La Niña-verskynsel word dikwels met beter reënneerslae in Suider-Afrika vereenselwig.
“Voorspellings dui ook dat water in die sentrale Stille Oseaan verder sal afkoel. Die huidige vooruitsigte dui op 'n matige tot sterk La Niña.
Hy het voorts gesê dit is beduidend dat die SOI sedert Junie vanjaar reeds 'n positiewe fase handhaaf.
“Só 'n positiewe fase van die SOI het ook in Septembermaand van 1981, 1988, 1996, 1998, 2000, 2008, 2010 en 2020 voorgekom. Dit het tot bonormale reën oor die grootste somerreëngebiede van Suider-Afrika gelei,” sê Van den Berg.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie