Waarskuwings uit Glasgow mu00f3u00e9t jou laat sidder
Waarskuwings uit Glasgow mu00f3u00e9t jou laat sidder

Waarskuwings uit Glasgow móét jou laat sidder

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Wonder jy soms oor jou koolstofvoetspoor as daai vet skaapribbetjie uit die Suide geurig op jou rooster sis?

Ek twyfel.

Ons woon dan in Namibië. Aardverwarming is mos China en Amerika se skuld. In ons land leef die meeste mense dan nog agraries.

Dis mos hoe ons redeneer.

Met COP26 tans in Skotland in volle gang, kon ek nie help om meer krities oor my eie aandeel aan die wel en wee van ons planeet na te dink nie.

Hoe anders as die daar van die Glasgow-verhoog af verdoemende woorde en beelde gebruik word. Guterres en Johnson se vermanings oor ’n “klimaatskatastrofe” wat voorlê, die mensdom “maak van die natuur sy toilet” en “dit is een minuut voor middernag” om iets aan aardverwarming te doen, móét jou kritiese vrae laat vra.

Onthou, jou koolstofvoetspoor is die totale hoeveelheid kweekhuisgasse (insluitend koolstofdioksied en metaan) wat deur jou optrede en leefstyl gegenereer word. Die probleem is baie min van ons dink bewustelik oor die prosesse na wat vir ons as verbruikers ’n knus lewe skep.

Die gemiddelde koolstofvoetspoor vir ’n Amerikaner is 16 ton per jaar, een van die hoogste koerse ter wêreld. Wêreldwyd is die gemiddelde nader aan 4 ton.

Die mikpunt is om die gemiddelde koolstofvoetspoor per jaar teen 2050 tot onder 2 ton daal, lees ek in die gesaghebbende wetenskapstydskrif Nature. Dié blad het ’n aanlyn toep ontwikkel waarmee mense hul individuele en huishoudelike voetspoor kan bereken.

Ek het dit probeer, maar aangesien Namibië nie op die lys van lande verskyn waaruit jy kan kies om jou geografiese posisie aan te dui nie, moes ek daarmee kroek. Ek kon nietemin ’n baie goeie idee kry van hoe my huishouding vaar en glo my, dit is vér meer as die mikpunt van 2 ton per jaar.

Wat ons as Namibiërs uit die oog verloor is hoeveel vleisproduksie, met metaangas as neweproduk, tot die koolstofvoetspoor bydrae. Dit is omdat metaangas hitte méér vasvang as die ander kweekhuisgasse.

Volgens die wêreld- meteorologiese organisasie het metaanvlakke in die atmosfeer vanjaar 1 889 dele per miljard bereik.

Die konsentrasie CO2 is ongeveer 200 keer hoër, maar metaan is bydrae tot aardverwarming is meer as 80 keer hoër oor ’n tydperk van 20 jaar.

Om een of twee hamburgers per week vir ’n jaar lank te eet, skep dieselfde hoeveelheid kweekhuisgasse as om ’n Britse huis vir 95 dae te verhit. Dit is aldus BBC Reality Check se Chris Morris wat tydens COP26 die publiek se vrae oor aardverwarming en klimaatsverandering aanlyn beantwoord.

Die Parysooreenkoms se langertmyndoelwit is om die aarde se “koors” tot ’n styging van verkieslik minder as 1,5 ? te beperk. Sou dit hoër styg, bereik ons ’n drumpelwaarde waar die Groenland-ysplaat sal wegsmelt.

Dit hou risiko’s vir katastrofiese seevlakstygings in wat honderdmiljoene mense sal ontwortel, waarsku klimaatswetenskaplikes.

Om van bipolêre weergedrag nie eens te praat nie. Intenser droogtes, hewiger vloede. . .

Oplossings is nie tot besprekings op COP-verhoë beperk nie; dit begin in my en jou huis en behels my en jou leefwyse.

Ons is die laaste generasie wat ’n verskil kan maak.

Anders sit ons kinders (dalk letterlik) met die gebakte pere.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!