Wag vir vinniger grondontwikkeling
Wag vir vinniger grondontwikkeling

Wag vir vinniger grondontwikkeling

Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling glo ’n nuwe stedelike en streeksbeplanningraad sal gou op die been kom.
Augetto Graig
Augetto Graig

Met die publikasie van die regering se kennisgewing nommer 222 en 223 in die staatskoerant van 3 September het die stedelike en streeksbeplanning wet nommer 5 van 2018 in werking getree.

Hierdie wet vervang die bemagtigende wetgewing waaronder die eertydse Namibiese beplanningsadviesraad (NAMPAB) en die nedersettingsraad hul magte oor grondbestuur en dorpsbeplanning uitgevoer het. Die twee rade word nou deur die nuwe stedelike en streeksbeplanningraad vervang.

Onlangs het die adjunkminister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Derek Klazen, gesê die vorige twee rade was verantwoordelik vir vertraging in die proklamasie van nuwe woonbuurte in Namibiese stede en dorpe.

Volgens hom het plaaslike owerhede gevolglik geworstel om die aanvraag na grond en behuising behoorlik te kan hanteer. Toe Klazen laas Maandag inwoners van informele nedersetting in Walvisbaai toegespreek het, het hy hulle verseker die nuwe wet sal die stedelike ontwikkelingsproses versnel.

Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Erastus Uutoni, het egter Donderdag erken die nuwe raad is nog nie aangestel nie.

“Dit is waar dat vertraging nie ’n goeie ding sou wees nie. (Die aanstellingsproses) sal nie so lank duur nie. Ek dink dit sal redelik gou afgehandel wees. Ons werk daaraan.”

Uutoni erken dat konsultasies steeds met belanghebbers voortgaan en dat nodige inligting van betrokke instansies afgewag word.

Volgens die wet moet 15 lede van die nuwe raad aangestel word. Die lede sluit in ’n voorsitter (aangestel deur die minister), mnr. Ndilipunye Shanyengana as Landmeter-generaal, die aktesregistrateur mnr. Dana Beukes asook die omgewingskommissaris, mnr. Timoteus Mufeti.

Verder mag die minister een senior beampte afvaardig vanaf die Nasionale Beplanningskommissie (NPC); een vanaf sy eie ministerie met kennis van grondhervorming; een lid vanaf die grondhervorming adviserende kommissie; een lid vanaf die ministerie van werke en vervoer; een vanaf myne en energie en een senior staatsbeampte verantwoordelik vir waterkwessies.

Nog lede op die nuwe raad verteenwoordig die Namibiese raad vir stads- en dorpsbeplanners, die vereniging van plaaslike owerhede, die vereniging van streeksrade en ’n verteenwoordiger vir die raad van tradisionele leiers.

Die nuwe wet maak wel voorsiening vir die uitvoering van verskeie nuwe funksies deur bemagtigde plaaslike owerhede, waarvoor hulle onafhanklik van die raad sou kan optree. Dié oordrag van magte volg egter op die goedkeuring en bemagtiging van so ’n owerheid, gebaseer op toepaslike streek- en stadsplanne.

Die streek- en stadsplanne moet egter eers deur die minister goedgekeur word ná aanbeveling van die nuwe raad.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer