Waghond bekommerd oor data
Waghond bekommerd oor data

Waghond bekommerd oor data

Die IPPR het gister gesê die vertraging in die vrystelling van inligting oor die ekonomie wek agterdog.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die Instituut vir ­Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) sê die vertraagde ­vrystelling van data oor die land se ­ekonomie veroorsaak vrae.

In 'n verslag wat die IPPR se uitvoerende direkteur, mnr. Graham Hopwood, gister bekend gemaak het, sê die waghond data wat die Namibië Statistiekagentskap (NSA) laat verlede jaar vrygestel het, laat die wenkbroue oor moontlike politieke inmenging lig.

Die NSA het die data op 12 Desember 2019 bekend gestel – later as verwag – glo om gehaltetoetse en tegniese hersienings af te handel.

“Die effense opwaartse hersiening en die vertraging tot geriefshalwe ná die verkiesings wek agterdog oor politieke inmenging. Hopelik is dít nie die geval nie,” lui die IPPR se verslag.

Die NSA-data hou verband met 2018 se ekonomiese situasie, toe groei opwaarts aangepas is van 'n vorige vooruit­skatting van -0,1% tot 0,3%.

Die IPPR sê makroekonomiese prestasie is sedert die tweede kwartaal van 2016 in 'n beroerde toestand “en het geen teken van enige beduidende oplewing getoon nie”.

Die NSA het gistermiddag by monde van 'n woordvoerder, me. Esther Simasiku, gesê hulle het die IPPR se verslag ontvang en sal daarop reageer.



Oor verkiesings

Oor die nasionale verkiesings wat op 27 November verlede jaar plaasgevind het, sê die IPPR dié verkiesings was

om verskeie redes merkwaardig.

Aan die een kant het 'n onafhanklike presidensiële kandidaat, dr. Panduleni Itula, as Swapo-lid deelgeneem.

Daarnaas het die eerste vroulike kandidaat, me. Esther Muinjangue van die National Unity Democratic Organisation (Nudo), ook aan dié wedloop deelgeneem.

Vir die tweede agtereenvolgende keer is elektroniese stemtoestelle (EVM's) in 'n nasionale verkiesing gebruik.

Itula het intussen die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) oor die gebruik van dié toestelle hof toe gesleep.

Die hooggeregshof lewer na verwagting teen 6 Februarie uitspraak in dié geding, wat die afgelope Vrydag voor die hoogste hof in die land gedien het.

Die IPPR sê in sy verslag die verkiesingsuitslae het pres. Hage Geingob se geloofwaardigheid en dié van sy regering “ongetwyfeld” 'n knou toegedien.

“Dit sal interessant wees om te sien watter veranderinge hy aan sy nuwe kabinet sal aanbring, wat op 21 Maart 2020 ingehuldig sal word. Sy verminderde gesag mag dit vir hom moeiliker maak om die moeilike besluite te neem wat vereis word.”

Geingob het 56,3% van die stemme op hom verenig teenoor die 86,7% wat hy in 2014 verwerf het.

Daarnaas het Itula 30,2% van die stemme gekry. Sy steun het veral uit stedelike gebiede soos die hoofstad en langs die kus gespruit.

Die regerende party se steun het sedert die vorige verkiesings van 80% tot 65,4% gedaal.

“Dit beteken Swapo het sy tweederdemeerderheid verloor en derhalwe sy vermoë om die Grondwet te wysig.”

Die IPPR sê geskoei op die stempersentasie van geregistreerde kiesers – nie stemgeregtigdes nie – staan Swapo se mandaat op een derde van geregistreerde kiesers.

'n Totaal van 60,82% en 60,38% van geregistreerde kiesers het aan onderskeidelik die presidensiële en Nasionale Vergadering-verkiesing deelgeneem, lui die IPPR se verslag.

Die liggaam sê die verkiesings het te midde 'n “uitgerekte ekonomiese afplatting en werkloosheid van selfs meer as gewoonlik plaasgevind, en die veldtog is deur die grootste korrupsieskandaal sedert onafhanklikheid onderbreek”.

Mnre. Bernhard Esau, die oudminister van visserye en mariene hulpbronne, en Sacky Shanghala, die oudjustisieminister, is tans in aanhouding saam met hul medebeskuldigdes, mnre. James Hatuikulipi, Ricardo Gustavo, Tamson Hatuikulipi en Pius Mwatelulo weens hul beweerde betrokkenheid by die plundering van Namibiese viskwotas.

Die mans, wat sedert verlede jaar pogings aanwend om hul aanhouding onwettig verklaar te kry, verskyn aanstaande maand weer in die Windhoek-landdroshof op aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog.

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer