Wall Street se bere pak die rand
Wall Street se bere pak die rand

Wall Street se bere pak die rand

Amerikaanse banke beveel by hul kliënte aan om kortverkope op die rand te doen teen ander groot geldeenhede in opkomende markte soos Turkye se lira en Mexico se peso.

Dit beteken hulle glo die rand sal skerper verswak as die ander geldeenhede.

Dit kom te midde van politieke risiko's wat in Suid-Afrika toeneem en kommoditeitspryse wat weer terugval.

Die banke - van JPMorgan Chase tot Morgan Stanley en Bank of America – voorspel dat die val in die rand wat einde Maart plaasgevind het toe pres. Jacob Zuma vir Pravin Gordhan as minister van finansies afgedank het, sal homself herhaal.

Die sneller vir nog 'n skerp val in die rand sal volgens hulle wees as Zuma 'n moontlike mosie van wantroue in die parlement oorleef en as sy voormalige vrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, in Desember as president van die ANC aangewys word.

Dit sal haar pad oopmaak om die nuwe president van Suid-Afrika te word.

Piotr Matys, 'n valutastrateeg by Rabobank in Londen, verwag die rand sal oor die volgende paar maande verder as R14 teenoor die Amerikaanse dollar verswak. “Dit sal moeilik wees vir die rand om die momentum te hervat wat in die tweede helfte van 2016 en vroeër vanjaar oorheers het.” Dit verwys na die verbasend sterk rand wat tot soveel as R12,43 teenoor die Amerikaanse dollar herstel het oor dié tydperk.

Die rand het gisteroggend aanvank­lik tot bo R13,50 verswak, maar later tot R13,45 herstel. Kort voor vyfuur gistermiddag het dit op R13,39 gestaan.

Die rand was tot einde Maart die grootste wenner in 'n lopie onder geldeenhede van op­komende markte, deels aangevuur deur gissings­ dat die Amerikaanse Federale Reserweraad nie so haastig gaan wees met rentekoers­verhogings nie.

Die rand het in 'n stadium met soveel as 12% versterk, wat die sterkste beweging in 'n geldeenheid in die wêreld vanjaar was. Dit het tot sy sterkste vlak sedert 2015 geklim.

Tot met die week voordat Gordhan uitgeskop is, het die uitruil van Amerikaanse dollars vir rand aan beleggers van die beste opbrengste in opkomende markte vanjaar gebied.

Gordhan se afdanking het die markte egter herinner aan die risiko's­ in Suid-Afrika.

Ontleders van JPMorgan in Londen sê die rand is nie aantreklik teen huidige vlakke nie, gegewe die risiko's van verdere politieke geraas in die komende maande, en die afwagting van Moody's se kredietgradering-­hersiening.

JPMorgan beveel by sy kliënte aan om die Turkse lira teen die rand af te speel. Morgan Stanley kies weer die Mexikaanse peso.

Nie almal is oortuig dat die rand verliese gaan ly nie. Pacific Investment Management sê die rand is nie meer broos nie, gegewe die kleiner tekort op die lopende rekening. Maar Morgan Stanley verwag die rand sal teen R15,40 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel teen Desember. Hulle verwag Dlamini-­Zuma sal Cyril Rama­phosa ore aansit as nuwe ANC-­leier. “Dit sal beteken die huidige beleidsonsekerheid sal voortduur.”

'n Strateeg van Morgan Stanley, Min Dai, sê beleggers is te optimisties oor Suid-Afrika se fundamentele faktore en politiek.

– Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!