Walvisbaai-ontvoerders skuldig
Die staat het bewys die beskuldigdes het die drie minderjarige seuns sonder hul toestemming na ’n huis geneem.
Leandrea Louw – Vier inwoners van Walvisbaai, Logan Pretorius, Sandra Riobo, Ashley Januarie en Curven Vries, is Vrydag skuldig bevind op aanklagte van ontvoering en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig.
Die vier het Carlos Mukuve, Levi Goreseb en Edward Goreseb, wat tydens die voorval minderjarig was, ontvoer en aangerand nadat hulle glo een van Pretorius se honde doodgemaak het en nog een probeer steel het.
Carlos, Levi en Edward het getuig hulle is op 28 Augustus 2014 verbaal en fisiek aangerand met ‘n moersleutel, ‘n hamer, ‘n panga, ‘n graaf en ook deur honde.
Pretorius en sy medebeskuldigdes het die seuns met sy motor gejaag en hulle na sy huis in die Meersig-woonbuurt geneem waar hulle die minderjariges vir meer as vyf ure aangehou en aangerand het.
Die drie het verder getuig hulle is gedwing om op hul rûe te lê, terwyl Pretorius Tabasco-sous oor hul gesigte uitgegooi het. Hulle is ook soutwater gegee om te drink, wat hulle laat opgooi het.
In haar uitspraak het landdros Gaynor Poulton gesê die staat het bewys die vier beskuldigdes het die seuns sonder hul toestemming of dié van hul ouers aangehou.
Volgens Pretorius se getuienis het hulle die seuns na sy motorhuis geneem om hulle te ondervra oor die dood van sy sewe maande oue veghond Miklo.
Hy het ook die seuns vir hul ouers se selfoonnommers gevra.
Volgens Pretorius het die seuns by hom gepleit om nie hul ouers te sê nie en het Carlos gevra: “Klap ons en dan gaan ons.”
Pretorius het voorts gesê hy het op ‘n “ordentlike manier” met die seuns gepraat, waarná hulle laat gaan is.
Omstreeks middernag dieselfde dag het hy die seuns glo weer in die omgewing gesien en hulle gevra wat hulle steeds daar maak. Volgens hom het hy N$20 vir die seuns gegee om ‘n taxi huis toe te neem.
Die verdediging het hul saak op teenstrydighede in die drie mans se getuienis gebaseer, wat eers drie jaar ná die aanranding getuig het.
Volgens Poulton is dit moeilik om te glo Pretorius, sy verloofde en vriende het die drie seuns in die motorhuis vir meer as vyf ure gehou net om met hulle te praat.
“Die hof het ook die tyd in ag geneem wat die aand van 28 Augustus verloop het, en seuns van 14 en 15 se verbeeldingrykheid en beïnvloedbaarheid,” het sy gesê.
Sy het voorts gesê die staat het die klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer bewys aangesien mediese bewyse met die seuns se getuienis ooreenstem.
Die vier sal op 10 Junie gevonnis word.
Mnr. Boris Isaacs het vir die verdediging verskyn en me. Teresia Hafeni vir die staat.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie