Wanderers skuif eerste, verby Unam

Al drie die naweek se wedstryde was weer tot met die eindfluitjie in die weegskaal.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Op 'n wonderlike aand vir ondersteuners van Trustco United het dié klub se eerste rugbyspan Vrydag 'n puik oorwinning met 41-33 teen FNB Unam behaal, wat vir laasgenoemde sy posisie as voorloper in die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga gekos het.

Die volgende middag het FNB Wanderers as verdedigende kampioen hieruit munt geslaan deur die topposisie met sy vierde opeenvolgende oorwinning oor te neem.

Die Wit Hingste moes egter 'n sterk eindpoging deur die begeesterde Rehoboth-rugbyklub afweer voordat hulle met 33-31 gewen het.

Die gesonde vlak van kompetisie in die premierliga is verder weerspieël deur die uitslag in Khomasdal, toe FNB Western Suburbs met 31-28 teen die besoekende Kudus van Walvisbaai oorleef het.



BY UNITED

Botsings tussen United en Unam het die afgelope twee, drie seisoene klokslag vir naelbyters gesorg en Vrydagaand s'n was opnuut besonder aanskoulik.

Een van die wedstryd se “groot oomblikke” was in die doodsnikke, toe United met vyf punte voorgeloop het. United se kaptein en slot Winmar Rust het 'n strafdoel deur die pale gejaag om te verseker dat die verskil agt punte is en dat die studentespan net een ligapunt (vir drieë), pleks van 'n tweede verloorbonuspunt kan byvoeg.

Unam het 'n agterstand van 17-9 uitgewis om rustyd met 19-17 voor te loop. Hierna het United met twee drieë sy telling tot 31-19 laat opskiet, voordat Unam weer alles in die stryd gewerp het om met 33-31 sy neus voor te kry.

Die sterk United-skrumskakel Herman Stroh se wendrie, toe hy hom van agter 'n skrum uit 'n paar laagvatte losgeruk het, kan as bewysstuk ingedien word dat hy waarskynlik die land se nr. 9 is vir wie verdedigers die fynste moet dophou. Indien hy ook sy skopspel op die vereiste vlak kan kry, is dit nie ondenkbaar dat hy weer soos in 2012 ook op toetsvlak kan deurbreek nie.

Die Filistyne se swaar agttal het in die vaste fasette die oorhand bewerkstellig, met Thomas Kali as flank wat sy debuut vir United in 'n ontmoeting teen sy ou spanmaats gemaak het.

Unam se nuwe geslag het gewys dat hy steeds oor die gevaarlike hardlopers van ouds beskik – asook die kondisionering om in die tweede helfte die pap dik aan te maak. Die drie wat die flank Berry Gande met 'n naelloop uit sy eie helfte gaan druk het, laat 'n mens opnuut wonder hoe lank nog voordat Zimbabwe se keurders hom nader roep.

United se losskakel Hanreco van Zyl het 'n goeie vertoning afgerond met 'n blink onderskepdrie van die halflyn af, wat sy span met 31-19 laat voorloop het.

United se driedrukkers was kaptein Rust, agtsteman Shaun van Rooi, senter Michael Hummel, Van Zyl en Stroh, terwyl Rust met vyf doelskoppe en twee strafdoele vir 21 punte gesorg het.

Aan die kant van Unam was heelagter Lorenzo Louis weer hul puntemasjien met 28 punte. Dit het twee drieë ingesluit, waarvan die eerste met 'n teenaanval van gesteelde besit gekom het wat na regtervleuel Oderich Mouton laat loop is, wat twee opponente afgestamp het voordat hy 'n binne-aangee vir die driedrukker weggekry het.

Louis se tweede drie was van 'n opportunistiese vinnige tikskop naby die doellyn in die tweede helfte. Van die skopringetjie het hy vier strafdoele en drie doelskoppe behaal, met Gande se wegbreekdrie die enigste ander vyf punte vir Unam.

Die oorwinning was 'n gepaste viering vir regtervleuel Stefan Louw in sy 100ste wedstryd in die United-trui.

Unam is deur Milaan van Wyk op die veld gelei, wat saam met Paolo Andrews 'n nuwe senterpaar gevorm het in die plek van Camlo Martin, hul aangewese kaptein vir 2019, en Clyde Besser wat beide beseer is. Unam se jong Delron Brandt het op losskakel ook sy voete in senior klubrugby begin vind.



OP REHOBOTH

Rehoboth se losskakel Henrique Olivier het twee drieë in 'n nael­skraapse nederlaag teen Wanderers gedruk – maar sou selfs 'n groter held gewees het as sy laaste, langerige strafskop nie rakelings mis geseil het wat 'n merkwaardige sege vir die Rooi Bulle kon verseker het nie.

“Ons het 'n sterbelaaide Wanderers-span met veel meer hulpbronne as ons sommer goed skrikgemaak,” sê Rehoboth se voorsitter en spanbestuurder, Marschell Diergaardt.

“Ons afrigter David Philander het vier onervare 19-jarige spelers ingespan, naamlik die stut Rosario Fliede, haker Chemegan Beukes, flank Chester Diergaardt en vleuel Romeo Visagie, wat hulle goed van hul taak gekwyt het.

“In die tweede helfte is die meer ervare manne soos Calla Freygang (stut), Lloyd van Wyk (flank), Howard Titus (skrumskakel) en Jeandre Coete (haker) opgestuur om die pap dik aan te maak.

“Henrique op losskakel was puik en het sy gebruiklike afstormdrie gedruk en Hillian Beukes (senter) het een van sy beste vertonings gelewer.

“Ons het vanjaar met een punt teen Western Suburbs verloor, met vyf punte teen Unam en nou met twee punte teen Wanderers. Dit maak my hart seer, maar dis mos maar rugby. Hiervandaan kan dit net beter gaan.”

Wanderers se afrigter, Vince Dreyer, sê hy is verlig om met die wenpunte te kon wegkom.

“Ons het vooraf verwag dit sou taai wees. Ons was in die eerste 40 minute en die eerste deel van die tweede helfte op die voorvoet en het met 26-10 voorgeloop, maar staan toe twee drieë af, eers toe ons 'n lynstaan op ons eie doellyn verloor, gevolg deur 'n drie toe 'n skop afgestorm is.

“Dit was 14 pasella punte en ons weet hoe moeilik Rehoboth kan raak as hulle selfvertroue kry. Hulle het daarna nog 'n goeie agterlyndrie gaan druk. Dit was 'n lekker taai wedstryd.”

Vir Wanderers het vleuel Nandivatu Karuuombe (2) die flanke Christo van der Merwe en Peter Diergaardt, asook haker Stefan Hattingh drieë gedruk. Losskakel Brandon Groenewaldt het vier keer verdoel.

Aan Rehoboth se kant het losskakel Olivier 21 punte met twee drieë, vier doelskoppe en 'n strafdoel bygedra, tesame met drieë deur stut Kevin Cloete en senter Hillian Beukes.



BY SUBURBSPARK

FNB Western Suburbs moes hard werk om sy tweede oorwinning in vyf wedstryde te behaal, wat hom in die vierde plek net een posisie bo Kudus hou.

Die Walvisbaaiers was al 'n paar maal dié seisoen ongelukkig in naelskraapse nederlae en kon net een uit vier wen, maar die neerlaag met drie punte sal hulle gewis aanspoor vir die take wat voorlê.

Suburbs was rustyd met 16-6 voor en het 'n drieë-bonuspunt danksy die viertal deur haker Roderique Victor, vleuels Russel van Wyk en Nikin Cloete en 'n strafdrie ingepalm. Los­skakel Justin Nel het twee strafdoele behaal en Ricardo Swartz wat as plaasvervanger opgestuur is, een strafdoel.

Vir die Walvisbaaiers het stut Sidney Halape twee keer en heelagter Aurelio Plato een keer die Khomasdallers se doellyn oorgesteek. Plato het drie strafdoele en 'n doelskop bygevoeg en die plaasvervanger Ulriato Lawrence het een doelskop oorgeklits.

Suburbs se afrigter, Llewellyn Winkler, sê: “Basiese foute aan ons kant het Kudus in die wedstryd gehou – insluitend die onderskepdrie wat ons afgestaan het. Ons moet fokus om in die tweede helfte meer klinies te wees, want ons het die vermoë om meer punte op die telbord te plaas.”

• Naweek 6 se bepalings komende Saterdag (tuisspanne eerste): Reho Falcon teen Western Suburbs; Wanderers teen United; Kudus teen Rehoboth.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!