Wanderers wys vuis voor finaal teen Old Boys

Die buiteperde CCD en United kon nie die mas opkom nie.
Tielman van Lill
Andrew Poolman en Tielman van Lill – Die twee gunstelinge het soos verwag deur­gedring om mekaar in die eindstryd te pak, hoewel hul semifinale die afgelope naweek op uiteenlopende maniere afgespeel het.

Samsung FNB Wanderers het behoorlik spiere gebult toe hy op sy tuisveld vir Trustco United met 194 lopies uit die pad gevee het. Die Hingste sal dus hul titel in Krieket Namibië se premierliga vir die eendagspel (50 boulbeurte) teen Ceiling Centre WHS Old Boys verdedig.

Die jeugdige JC Balt het as kolwer drie die ankerrol gespeel met 78 lopies van 113 balle, waarin hy sewe vier geslaan het voordat hy met een groot hou te veel naby die grens deur Hendrik van der Walt uitgevang is.

“Ek dink dit was beslis een van die heel beste kolfbeurte wat JC nóg vir Wanderers se eerste span gelewer het,” sê Nicolaas Scholtz, die kaptein van Wanderers.

“Die vertoning wys hoe ver hy reeds as speler gevorder het. Ons is baie trots op hom en hy is 'n jong speler vir wie 'n goeie toekoms by Wanderers in die vooruitsig is.

“Ek is trots op ons hele span se goeie kolf- en boulvertoning. Ons sien baie uit na die finaal. Dit is eintlik al wat ek te sê het.”

As kolwer het Nicolaas Scholtz in die laaste paar boulbeurte behoorlik gebaljaar en met dwarskolfhoue ingeklim om die reeds bultende totaal finaal buite United se bereik te stoot (279/9). Hy het 49 lopies van net 35 balle gemoker (2x4 1x6) voordat ook hy 'n vangkans in Van der Walt se rigting gelig het. Van der Walt was ook sy span se voorste bouler (3/50 in 5 bb).

Die ander Wanderers-kolwers wat betekenisvol bygedra het, was Michau du Preez (27), Karl Birkenstock (27) en Ruben Claassen (32), voordat Tobie Verwey (12* van 6 balle) ook vir oulaas 'n ses geslaan het.

Die blou United-span is hierna vir 'n skamele 85 lopies uitgeboul (26.4 bb).

Adam Bassingthwaighte (12), Henry Hayes (11) en die moedige paaltjiewagter Tino Chiwara (28 van 29 balle, 3x4 1x6) was die enigstes wat dubbelsyfers gehaal het.

Soos soveel kere tevore was die linkerarm draaiballe van Bernard Scholtz 'n opponent se ondergang. Hy het met 5/22 in 9.4 boulbeurte geëindig, bygestaan deur sy ouboet Nicolaas met 2/5 in 2.



OLD BOYS VERNIEL CCD

Die tweede semifinaal tussen CCD Tigers en Ceiling Centre WHS Old Boys het aan alle verwagtinge van 'n opwindende halfeindstryd voldoen, skryf Tielman van Lill.

Old Boys het die opskiet van die munt reg voorspel, maar het straks kort daarna getwyfel oor hul besluit om eerste by hul WHS Vegkopstadion te kolf, waar mnre. Claus Schumacher en Claude Thornburn as skeidsregters gestaan het.

Ben Shikongo was die besoekers se giftigste angel en trek vyf paaltjies plat, maar Tangeni Lungameni het laaste gelag met 6/19.

Hoewel die sterbelaaide gasheerspan die ontmoeting met 87 lopies gewen het, was hy self in 40.3 boulbeurte vir net 159 lopies op 'n moeilike kolfblad uitgeknikker. Tigers kon daarna slegs met 72 almal uit in 32 bb antwoord op 'n kolfblad wat min of geen ondersteuning aan die kolwers verleen het.

Sommige aflewerings het laag deurgeskiet, maar Lungameni het dit met sy spoed reggekry om 'n hele paar opslagballe van die naat af verby die kolwers se koppe te laat skiet.

Lopies het in die eerste tien beurte drupsgewys gekom en die eerste grenshou is eers in die agtste boulbeurt behaal. Heelwat aflewerings is alleen gelaat deur die Old Boys-kolwers wat die nukkerige kolfblad en sy streke goed ken.

Aanvangskolwer Craig Williams (6 lopies van 18 balle)was is die naatbouler Ben Shikongo se eerste slagoffer toe die bal van die naat af inswaai en die dwarsbalkies laat spat.

Wimpie Viljoen (25 van 27, 2x4 2x6) wat saam met Williams geopen het, wou net op dreef kom toe hy die naatbouler, Mika Mutumbe, se enigste slagoffer word.

Mutumbe, wat van die suidekant af geboul het, het in sy vierde boulbeurt twee viere en 'n ses aan Viljoen se kolf afgestaan. Toe Viljoen met sy volgende aflewering weer 'n ses oor die bykantgrens probeer trek, was Ramon Wilmot se veilige hande daar om Viljoen te laat terugstap.

Kaptein Gerhard Erasmus (37 van 76, 2x6) op nommer drie se paaltjie was nog 'n grote wat geval het toe Stephen Baard hom van Ben Burger se boulwerk uitvang. Burger was Saterdag as junior speler heel tuis op senior vlak met gedissiplineerde boulwerk.

Nog 'n junior, Divan la Cock op nommer vier (26 van 32, 4x4), was Shikongo se tweede slagoffer. Nicol Loftie-Eaton het ver gehardloop om 'n briljante truvangskoot oor sy kop te benut om van La Cock ontslae te raak.

Gerhard Janse van Rensburg op vyf (4 van 7) en Donovan Zealand junior op ses (2 van 7) is onderskeidelik deur Shikongo geboul en been voor paaltjie betrap.

Die veelsydige Ruben Trumpelman op sewe (22 van 50, 1x4) is van Wilmot se boulwerk deur Baard uitgevang.

Die laaste vier kolwers was Christiaan Schumacher (9 van 12, uitgehardloop Mutumbe), Tangeni Lungameni (0 van 2, geboul Wilmot), Dirk Theunissen (2 van 10, gevang en geboul Shikongo) en Mauritius Ngupita (1* van 3).

Vir Tigers is Shikongo se bydrae nie net ekonomies nie, maar reusagtig met 5/41 in sy 10 bb. Wilmot se draaiers sorg vir 2/11 in 4.3 met Mutumbe (1/24 in 5), Loftie-Eaton (1/20 in 8) en Burger (1/21 in 6) wat hard gewerk het om Old Boys se lopietempo tot 3.94 per boulbeurt te beperk.

Ongelukkig ontsier 21 wydlopers hul harde werk.



CCD HAAL NIE PAAL

Vir Tigers het 'n moeilike tyd voor die paaltjies gewag teen die boulaanslag van Trumpelman (1/17 in 6) en Williams (1/14 in 6) wat die boulwerk vir Old Boys geopen het. Lungameni (6/19 in 10) rig egter die grooste skade met 'n ekonomiese 1.9 lopies per boulbeurt aan. Goeie ondersteuning is deur die draaier La Cock (1/14 in 5) en Ngupita (1/4 in 3) gelewer.

Die aanvangspaar van Baard (12 van 33, 1x4, geboul Williams) en Wilmot (16 van 52, 2x4, gevang Trumpelman, geboul Ngupita) het gesukkel om aan die gang te kom.

Ná hul vertrek kon slegs Loftie-Eaton op nommer vier (11 van 29, geboul Lungameni) en Shikongo op agt (10 van 20, geboul Lungameni) dubbelsyfers aanteken.

Slegs agt lopies kon bygevoeg word deur Joshuan Julius op drie (1 van 4, been voor paaltjie, geboul La Cock), Norbert Manyande op vyf (1 van 13, geboul Lungameni), Wayne Raw op ses (0 van 6, gevang agter paaltjies, geboul Trumpelman), Tawanda Sithole op sewe (0 van 7, gevang Erasmus, geboul Lungameni), Mutumbe (1 van 3, geboul Lungameni), Ben Burger (3 van 21, geboul Laungameni) en Lucian Bampton op elf (2* van 13).

Old Boys se boulers stuur self 13 wydlopers af om die ekstras tot 14 aan te stu.

Old Boys en Samsung FNB Wanderers sal komende naweek by Wanderers in Pionierspark teen mekaar in Krieket Namibië se eendagpremierligafinaal op die veld stap.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!