Wanneer dinge lelik raak

Selfdood is nie uitgesluit nie as dit kom by slagoffers van kuberboelies, maan kenners.
Denver Kisting
Denver Kisting – Talle Namibiërs het verlede week gesidder toe die semifinaliste in vanjaar se Mej. Namibië-wedstryd aangekondig is.

Eie aan hoe baie mense hulself volgens kenners in die sosiale media gedra, het baie hul elektroniese penne in gif gedoop en veral teen die uiterlike voorkoms van die deelnemers uitgevaar. Van dié gal was dat een van die deelnemers onmiddellik haar grimeerkunstenaar in die pad moet steek.

Baie het oor sommige deelnemers gesê dat hulle tussen 20 en 30 jaar ouer lyk as wat hulle aandui hulle is.

Oor sommige se haarstyle is ook gal gebraak.

Dieselfde dag nog wat die aankondiging gemaak is, het allerlei venynige en liefdelose memes reeds in allerlei rigtings gevlieg.

Die res van die sosialemediagebruikers het na hul asem gesnak oor die aard en omvang van hul landgenote se vernietigende kommentaar.

Vroeër vandeesweek het Republikein berig oor een van die deelnemers wat sedertdien aan die skoonheidskompetisie onttrek het.

Haar ma het in ’n onderhoud met die koerant volgehou dit is nie na aanleiding van aanlyn mishandeling nie. Maar baie het hardop daaroor gewonder.

Só saai afknouery verwoesting

Die Windhoekse kliniese sielkundige dr. Shaun Whittaker waarsku aanlyn afknouery ontstel slagoffers en maak hulle seer. “Dit kan ’n vernederende ervaring wees as dit in die openbaar gedoen word. Diegene aan die ontvangkant betwyfel hulself dikwels en die ervaring kan hul selfbeeld skade berokken,” sê hy.

Hy maan in uiterste gevalle kan die slagoffers simptome van depressie ontwikkel. Selfdoodgedagtes is nie uitgesluit nie, sê Whittaker.

Dié terapeut se waarskuwing kom te midde van ’n voortdurende vlaag van aanlyn afknouery waaraan sommige semifinaliste aan vanjaar se Mej. Namibië-wedstryd verlede week in die sosiale media onderwerp is.

Die kritici is van mening as ’n mens aan ’n skoonheidskompetisie deelneem, moet jy kritiek te wagte wees. As jy nie dié hitte kan verduur nie, moet jy die openbare kombuis ontruim, blaf hulle.

Whittaker meen afknouery is in die algemeen nog ’n reuseprobleem in Namibië.

Volgens hom blyk dit selfs giftiger op sosialemediaplatforms te gaan vanweë die relatiewe anonieme aard van dié ruimtes.

Hy sê: “Ons moet aanvaar maatskaplike ongelykhede lei normaalweg tot verhoogde bewustelikheid oor status, maar in ’n land soos Namibië kry dit byvoorbeeld ’n seksistiese of rasseaanslag. Afknouery wentel dus dikwels om rassisme, seksisme, homofobie, xenofobie, ensovoorts.”

Whittaker is van mening steunstelses vir slagoffers is van uiterste belang. “Ons moet ook aangaan met opvoeding oor en bewusmaking rondom die negatiewe gevolge van afknouery en die belangrikheid om dit hok te slaan.

Hy draai nie doekies om oor wat dit moontlik gaan verg om afknouery, veral in die sosiale media, hok te slaan nie: “Dalk moet ’n Namibiese hof ’n voorbeeld maak van ’n aanlyn boelie sodat dié onaanvaarbare gedrag teengewerk kan word.”

Dr. Eunice Gonzo, ’n ander terapeut, sê: “Met nuwe tegnologieë, meer spesifiek die toename in meer en meer individue wat gebruik maak van sosialemediaplatforms (onder meer Facebook, Twitter, WhatsApp), word die kwessie van afknouery meer algemeen as dié van aangesig tot aangesig.”

WAT IS AANLYN AFKNOUERY

Volgens haar behels aanlyn afknouery die gebruik van nuwe digitale tegnologie met die bedoeling om pyn aan ’n ander mens toe te dien en skade te berokken.

Gonzo sê die tempo waarteen sosiale media ons lewe oorneem, is verstommend. “Ons lewe in ’n wêreld waarin sosiale media teen ’n duiselingwekkende spoed groei.”

Die ergste is nie dat meer mense aan mekaar gekoppel is nie, die ergste hou verband met die los omskrywing van “vriendskapsbande” wat mense op byvoorbeerbeeld Facebook smee, waarsku sy.

Gonzo sê dit bring mee dat ’n mens uitgelewer is aan individue wat nie egte vriende is nie. ’n Mens se lys van kontakte is dikwels ook aan dié mense blootgestel, sê sy. “Dit beteken hierdie sogenaamde vriende het toegang tot intieme inligting – nie net van jou nie, maar ook van ander op jou vriendskapslys.”

BOELIES SONDER GESIGTE

Dít, sê sy, is die volmaakte teelaarde vir aanlyn afknouery.

“Hoekom? Anders as tradisionele afknouery is aanlyn oortreders dikwels anoniem. So, die vermoë om anoniem te wees, lei daartoe dat meer en meer mense hulle daaraan skuldig maak,” sê sy.

’n Ander faktor wat olie op die aanlyn boelievuur gooi, is dat die afknouer dikwels nie hul slagoffer se reaksie sien nie, sê sy.

En dit maak dit soveel makliker om venynig op te tree, meen Gonzo. “Jy kan basies enigiets sê sonder enige merkbare gevolge. Oortreders kan uiting gee aan hul onderdrukte woede, onsekerhede en haat. Dit is ook veel makliker om afguns en jaloesie vanuit die gemak van jou huis te lug.”

Gonzo sê die tragedie is dat afknouery in die algemeen ernstige sielkundige gevolge vir die slagoffer het. “Maar kuberafknouery het ’n selfs meer verlammende uitwerking op die mens se psige.

“Dit is omdat daar ’n groter gehoor is en dit permanent kan wees. Dit bereik mense oraloor die wêreld en selfs wanneer dit uitgewis word, het die slagoffer geen waarborg dat iemand dit nie êrens gestoor het nie.”

Die terapeut sê in teenstelling met tradisionele afknouery kan kuberslagoffers nie van hul boelies ontsnap nie. “Om te vlug, is geen opsie in die virtuele wêreld nie; al wat die slagoffer kan doen, is om die teistering, kritiek en vernedering te verduur.”

Volgens haar lei dit tot gevoelens van magteloosheid en hulpeloosheid. Slagoffers wat klaar getraumatiseer is, loop voorts die risiko om sekondêre trauma te beleef, waarsku sy. “Slagoffers kan uiteindelik ly aan sielkundige steurnisse soos depressie, posttraumatiese stres, angssteurnis en dies meer.”

Gonzo gee vir Whittaker gelyk dat aanlyn afknouery ’n slagoffer se lewe kan kos. “In die ergste geval, afhangend van die impak van die persoon se algehele lewensfasette, kan dit tot selfdood lei.”

NAMIBIë SE BEKENDSTE MEJ. NAMIBIë REAGEER

Die eertydse mej. Namibië en mej. Heelal, Michelle McLean-Bailey, laat weet uit Miami in Amerika dat aanlyn afknouery ’n baie ernstige kwessie is.

McLean-Bailey sê dit maak haar seer om van die afknouery te hoor.

In die hedendaagse samelewing moet ’n mens besef sosialemediaplatforms kan op ’n positiewe en ’n negatiewe manier gebruik word. “Dit is baie ongelukkig en is iets wat ons moet bestuur,” sê sy.

Sy sê kinders moet van ’n vroeë ouderdom af geleer word hoe om hul weg in die sosiale media te vind en te besef wat die impak daarvan op ander kan wees. “Ons sal dan waarskynlik ’n samelewing hê wat dit respekteer en eer. Maar tans, soos jy kan sien, gebruik baie mense met baie swak karakters sosiale media om ander mense seer te maak en negatiewe opmerkings te maak. Dit is jammer dat daar altyd afknouers in die wêreld gaan wees.”

MONDE GESNOER

Een van die slagoffers wat veral onder giftige tonge deurgeloop het, het tot ’n onderhoud ingestem, maar gesê sy moet toestemming van die organiseerders van die kompetisie kry.

Sy het later laat weet die hooforganiseerder, Connie Maritz, moet liefs direk gekontak word oor dié verlof vir die onderhoud.

Republikein het die afgelope week vir Maritz om kommentaar genader. Sy het nie gereageer nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!