Wanneer hartswonde heel word
Wanneer hartswonde heel word

Wanneer hartswonde heel word

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Elke mens het iewers 'n stukkie seer wat binne hom loop vassteek het ná 'n gebeurtenis wat traumaties was. Danksy die Trauma Healing Network (THN) is daar regoor Namibië 'n íémand wat daar is om te help. 'n Ondersteuningsnetwerk wat die afgelope paar jaar heling na dié in hul gemeenskappe met seer te bring.

THN is 'n projek van die Bybelgenootskap van Namibië en al is dit 'n Bybel-interaksieprogram, is dit gerig op álle mense se trauma en geensins eksklusief tot die van Christene nie.

Dr. Schalk Botha, traumaterapeut betrokke by die projek, beklemtoon dit is vir elke inwoner wat met emosionele pyn worstel.

Vir Schalk-hulle was dit duidelik dat mense op grondvlak egter nie altyd doeltreffend ondersteun word nie. Deels weens 'n gebrek aan traumadienste of dan die onbekostigbaarheid daarvan. Hulle besluit om as 'tussengangers' op te tree en heling na die mense te bring, het die lig in die netwerk gesien.

Al is dit nie net op 'n spesifieke geloofsoortuiging gefokus nie, glo hulle wel dat die projek deur die kerke van Namibië 'n baie groot verskil sal kan maak in die ruimte waarin die Bybel vir innerlike heling benut word.

“Ons wil mense toerus met die nodige vaardighede om vir ander mense rondom hulle iets te kan beteken, veral mense wat hulp nie kan bekostig nie.”

Schalk beskryf trauma as 'n “hartswond” wat iemand opdoen as gevolg van iets slegs wat met hom of haar gebeur het.

“Dit laat spore van volslae hulpeloosheid, vrees, angs en chaos.”

Die persoon se normale hanteringsmetodes werk nie op daardie oomblik nie, omdat hy totaal oorweldig is deur wat gebeur het.

“Dikwels gaan dit gepaard met die dood sélf in die oë kyk, of met 'n geliefde se dood. Die persoon voel totaal magteloos om self uit die trauma te kom en om sinvolle oplossings te vind vir die krisis.”

Fisiese simptome van trauma sluit 'n gebrek aan konsentrasie, slaap- of eetversteurings, skrikrespons, vinnige hartklop, nagmerries en min energie in. Emosioneel is dit gevoelens van woede en haat, angs, vrees, hartseer en moedeloosheid.

“Die persoon is ook gespanne, vra baie vrae en dink of praat heeltyd oor wat gebeur het.” Hy kan ook die plekke, mense of dinge wat hom aan die trauma herinner, vermy, geweldadig en geïrriteerd raak, oorreageer en woede-uitbarstings hê.

By kinders is die emosionele simptome aggressie, hartseer en die verloor van belangstelling in lekker dinge, terwyl hulle oor-verantwoordelik voel oor wat gebeur het en ook skuldgevoelens het. Fisies kan hul spraak geaffekteer word, hulle buitengewoon baie eet of alle eetlus verloor en hoofpyne of maagpyn ervaar.

Getraumatiseerde kinders maak dikwels hul bed nat, baklei met ander of speel speletjies van oorlog, vaar swak op skool, neem risiko's tot hul eie nadeel, maak hulself seer en kry nagmerries of slegte drome.

Schalk verduidelik volwassenes is meestal in staat om hul pyn en emosies in 'n groep of op 'n een-tot-eenbasis met 'n terapeut te verwoord. Die “uitpraat van die pyn” en hiermee saam die vermoë om dit wat gebeur het, deur te werk en in 'n nuwe lig te sien, is volgens hom by volwassenes by belangrik. Daarom, sê hy, sal die helingsproses hier hoofsaaklik uit die verbalisering van die trauma bestaan.

By kinders is dit egter anders.

“Hulle is nie in staat om te gesels oor dit wat met hulle gebeur of gebeur het nie.” Hier werk die gebruik van spel en speelapparate die beste en sluit dit teken, kleiwerk en speletjies in.

Kleure word as deel van die helingsproses ingespan en is aan 'n spesifieke simboliek gekoppel. Dieselfde kleure en simboliek word, afhangend van die gehoor, op verskillende vlakke gebruik. Dit sluit van ou motorbande, tot kleipotte en blikkies in.

“Die idee is dat mense in die band of blikkie iets soos kruie of groente plant wat tuis gebruik word. Die 'vrugte' wat dit lewer, word simbolies van die vrugte van die helingsproses van die spesifieke kleur waarin dit geplant is.”

Die vier kleure wat gebruik word, is geel, blou, rooi en groen.

Geel staan vir hoop in moeilike tye, blou vir emosionele beheer en hoe om jou emosies in slegte tye te hanteer, rooi vir hanteringsmetodes hetsy geestelik, emosioneel of fisies en groen vir die groei, sin en betekenis wat uit trauma kan voortspruit.

“Dit is belangrik om te weet dat ons baie spesifieke kennis met mense deel en hulle ook spesifieke vaardighede by elke les en kleur leer.”

Twee belangrike komponente, naamlik die heling van die hartswond en ook die hulp om die trauma te hanteer en deur te werk, word deurgaans gekombineer.

“Baie mense is nie voorberei met die nodige vaardighede om slegte dinge te hanteer nie. Dit maak ons projek en program uiters uniek in Namibië.”

[email protected]/[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!