Wanneer moet jy die harnas aantrek?
Wanneer moet jy die harnas aantrek?

Wanneer moet jy die harnas aantrek?

[email protected]
Gerine Hoff
Gerine Hoff – Wat is dit met sibbe dat hulle mekaar eenvoudig nie kan uitlos nie? Hoe meer hulle mekaar verpes, hoe lekkerder kry hulle (of so voel dit vir my).

Ek het al oor hierdie onderwerp geskryf, maar ’n onlangse voorval het my net weer laat wonder hoekom boeties en sussies mekaar so die harnas wíl injaag.

Dit was ’n Sondagaand en die tweetjies moes eintlik al in die bed gewees het. Alles mooi rustig; maar toe kom die bloedstollende gille.

Boetie het die jogabal onder sussa uitgeskop. Wie weet hoekom. Sy het op haar gesig geval en dis net bloed wat spat en ’n (permanente) nuwe tand wat lyk asof dit in die slag gebly het. Dit wil nie ophou bloei nie. So, ten spyte daarvan dat almal wat nie dodelik siek is nie op die oomblik die hospitaal ten alle koste vermy, moes ons haar toe maar vat.

Die dokter sê daar is ’n snytjie, maar ’n spuit en steke gaan nou veel erger wees as die wond self. Die probleem is die tand lyk redelik los. Ons moet so gou as moontlik by ’n tandarts uitkom.

Gelukkig kan die tandarts ons sommer 08:30 die Maandag sien (dankie Melanie by dr. Coenie!). Ons vrese is bevestig. Erger nog – dis toe eintlik drie tande wat los is – nie net die een nie. ’n Paar plate later, en gelukkig lyk al drie nog heel, maar ons sal weer moet kom vir ’n opvolg.

Ai.

Ek deel ’n paar dae later sussa se tandeverhaal met vriende en wonder hardop hoekom sibbe nie net mooi met mekaar kan wees nie. Ek moet bieg, ek weet hoe was ek en my boet as kleintjies en al is hy in sy 40’s, sal hy vandag nog steeds probeer om my ’n poets te bak.

Maar dis so tussen die gesels deur, wat my vriendinne ook hulle verhale deel.

P vertel hoe haar seuntjie sy suster wat met home schooling besig was met ’n nerf gun geskiet het. Almal weet natuurlik dis spons, dus was die skoot nie regtig seer nie. Daarom het sussie se geskree wat 20 minute daarna nog aangehou het, geen sin gemaak nie.

Dan is daar die ander maat wat ’n plastiekslang in sy broer se rugsak gesit het. Toe laasgenoemde dit sien, skrik hy letterlik sy gaai af, val agtertoe en breek sy arm. Dit was nie deel van die plan nie.

M vertel hoe sy vir haar kleinsus ’n lekker sweetie belowe het, mits sy haar oë toemaak. Al wat sussie toe kry is ’n kriek wat in haar mond rondspring!

E vertel hoe haar boet haar met ’n breipen in die been gesteek het – soveel erg dat dit vasgesteek het. Afgesien van hoe seer dit was, kon sy hom vir weke lank daarmee afpers.

Dis ook met dié stories se uitruilery wat ons besef het ons ouers het ons toegelaat om mekaar met paplepels te slaan as ons nie uitmekaar se hare wou bly nie.

Snaaks genoeg het ons mekaar toe vinnig weer lief gekry.

Maar terug by die hede. Dis nou ’n paar weke later, sussa se tande sit weer (redelik) vas en boeta is vergewe. Wel, soort van. Sy het hom teruggekry deur sy brilraam binne met ’n swart koki in te kleur. Toe hy dit afhaal, sit die swart kringe mooi om sy oë – en dit sonder dat hy dit besef het.

En toe lag ons eers lekker!

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer